‘Hersien brandstofprysmodel’ – DA

Dit die eerste keer sedert November 2018 dat motoriste méér as R17 per liter vir brandstof moet opdok. (Argieffoto)

Die DA wil hê die manier waarop brandstofpryse tans bereken word, moet hersien word.

Die party het Donderdag aan Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, geskryf om so ʼn hersiening voor te stel.

Dit volg nadat die prys van brandstof in Suid-Afrika die afgelope week weer die hoogte ingeskiet het.

Maroela Media het Woensdag berig dat petrol motoriste in Gauteng R18,03 vir ’n liter uit die sak gaan jaag en R17,58 per liter vir dié aan die kus.

Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) is dit die eerste keer sedert November 2018 dat motoriste meer as R17 per liter vir brandstof moes opdok.

Diesel is nou ook sowat 20% duurder in Gauteng én aan die kus as aan die begin van die jaar.

Die brandstofprys hang van ʼn aantal faktore, soos die rand-dollar-wisselkoers en die olieprys, af, maar die Suid-Afrikaanse regering hef ook bykomende belasting om regeringsinstansies soos die padongelukkefonds (POF) mee te befonds.

“Hierdie brandstofstyging is rampspoedig vir Suid-Afrikaanse gesinne wat reeds sukkel met stygende werkloosheid en inkomstes wat afplat of daal.

“Die skerp styging het ook ’n wyer impak aangesien dit verbruikers se reiskoste sal verhoog, kospryse moontlik die hoogte in kan laat skiet en uiteindelik kan lei tot stygende operasionele kostes vir klein ondernemings,” sê Kevin Mileham, DA-parlementslid en die party se skaduminister van minerale hulpbronne en energie.

Die DA sê voorts die regering moet dringend met belanghebbendes in die sektor vergader om ’n nuwe brandstofprysmodel te ontwikkel wat die impak van brandstofpryse op die ekonomie in ag sal neem.

Dít, sê Mileham, sluit hoë belasting asook verbruikers- en produsente-inflasie in.

Hy sê daar is boonop verskeie brandstofheffings wat jaarliks aangepas word om verskeie uitgawes van die regering te finansier, insluitend die “disfunksionele padongelukkefonds”.

“Die brandstofprysverhoging plaas onnodige druk op verbruikers wat reeds gebuk gaan onder enorme finansiële druk.

“Baie Suid-Afrikaanse huishoudings ly steeds weens die ANC-regering se jare lange mislukking om ’n gunstige ekonomiese omgewing te skep, sowel as die rampspoedige ekonomiese gevolge van die regering se hantering van die Covid-19-pandemie.”

Berekening van die brandstofprys:

Luidens inligting deur die departement van energie en die AA word die basiese brandstofprys bereken volgens die koste om petroleumprodukte na Suid-Afrika te verskeep van die Middellandse See-gebied, die Arabiese Golf en Singapoer.

Dit sluit volgens die AA ook versekering, berging en kaaigeld in. Volgens die departement van energie word die basiese brandstofprys in Amerikaanse dollar per vat gekwoteer en dan omgeskakel in Amerikaanse dollar per liter. Dit word dan in Suid-Afrikaanse sent per liter omgeskakel deur die heersende rand-dollar-wisselkoers toe te pas.

Ander koste sluit in vervoerkoste van hawens na ander gebiede, doeane- en aksynsbelasting, die kleinhandelmarges wat aan die eienaars van vulstasies betaal word en sekondêre bergingskoste.

Die maandelikse prys van brandstof word aangepas volgens ʼn aantal faktore, hoofsaaklik internasionale oliepryse en die rand-dollar-wisselkoers.

Die prys van brandstof verskil ook aan die kus en in die binneland. Dit is hoofsaaklik as gevolg van die koste om die brandstof van bergingsfasiliteite aan die kus na binnelandse bergingsfasiliteite te vervoer.

Volgens die AA het stygende brandstofpryse ook tot gevolg dat goedere wat reg oor die land vervoer word, duurder word namate maatskappye probeer om die bykomstige uitgawe van die verbruiker te verhaal.

Rika Niewoudt, programkoördineerder van BCom Bestuursrekeningkunde by Akademia, het vroeër in ’n artikel op Maroela Media verduidelik dat amper 35% van die koste van ʼn liter brandstof toeskryfbaar is aan belasting, ʼn algemene brandstofheffing en die padongeluksfondsheffing.

Hierdie belasting word as ʼn algemene belasting behandel en nie, soos baie mense aanvaar, vir padverwante uitgawes nie.

Die belastingheffing wat aan die POF oorbetaal word, is een van dié fonds grootste inkomstestrome. 

Voorstelle deur die AA

Die AA maak dit baie duidelik dat dié organisasie geen insae in die berekening van die brandstofprys het of die pryse reguleer en aanpas nie.

Die AA het egter in April vanjaar verskeie voorstelle aan die parlementêre portefeuljekomitee van minerale hulpbronne en energie voorgelê oor maniere waarop stygende brandstofpryse verlig kan word.

Een van die voorstelle was dat ’n ondersoek na die huidige prysberekeningsmodel van alle brandstof van stapel gestuur moet word, asook ’n herberekening en oudit van bestaande elemente in dié model.

Die AA het ook voorgestel dat die uitgawes verbonde aan die POF verlaag moet word, onder meer deur die beter bestuur van dié fonds, verhoogde padveiligheid en verwante inisiatiewe, beter verkeerspolisiëring, die privatisering van die POF of die semi-privatisering aangaande die bestuur van eise.

Nog voorstelle was die beter aanwending van fondse wat uit die algemene brandstofheffing gegenereer word, asook alternatiewe beleggings wat die land se huidige afhanklikheid van brandstof kan verlig. Dit sluit onder meer die verbetering van Spoornet vir vragvervoer in, asook die daarstelling van veilige, bekostigbare en volhoubare openbare vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

SwartBees ·

Erens moet die geld verhaal word vir die looting wat plaas gevind het.

Alex ·

Kom ons dink nou so, jy verdien ‘n salaris, jy betaal belasting daarop. Dan gaan jy winkel toe en betaal weer belasting op aankope. Dan betaal jy belasting op jou huis se lening, jou voertuig, ens. Dan betaal jy brandstof waar daar belasting ook op dit geplaas is. Ek is nou nie goed met finansies nie, maar iemand wat is kan dalk miskien dit mooi uitwerk. Wat ek sien is dat amper 60% net aan belasting gaan en ons moet uit die bietjie wat oorbly helse verhogings in alles betaal net om deur te kom in ‘n maand. Tyd dat BEE nou stop gesit word en ons almal saamwerk om ekonomie op te bou en die bottel nek deur BEE verwyder.

Maritha ·

Die geld moet seker iewers vandaan kom vir die gepeupel wat weer gaan bakhand staan (R350) vir maande en maande

JohanR ·

Nee man DA! Hoe kan julle verwag die petrol prys moet hersien word. Dis ANC suif en slurp dan soe lekker by die varktrog! 27 jaar om die trein stelsel te verwoes. 27 jaar om SAL te verwoes. 28/29 jaar om die vervoer van goedere per pad te verwoes? Ek hoor Jan van Riebeeck se bring terug die ossewaens want dit is nie lank voor dit die enigste manier is dat goedere van die plaas by die winkels sal aankom. Eeen van die dae sal daar miskien geen plase oor wees soos die ANC almal sal opraap sonder om vir hulle te betaal.

Robert ·

Daar is nie meer osse nie, hulle is lankal al opgevreet deur die sprinkane…

Keith ·

Petrol and diesel are manufactured from coal, primarily by SASOL. The only difference between the “Brands” is the flask of “additives” added into each tanker (at the Sasol depot) , according to brand name. Sasol’s petrol also contains alcohol/ethanol (from cane) and a percentage of LPG (derived from the original manufacturing process) . As to how much imported oil is used for the production is a highly questionable – if any at all ! It is high time that someone investigated the true origin and the manufacturing process of our petrol and diesel, because the government agencies are pulling the wool over our eyes. We are paying foreign based prices for petrol and diesel which is in fact manufactured using local resources. This the best kept secret in the petroleum industry, and “they” know that what i’m saying is true. The DA and the AA need to investigate this and force Sasol and the petroleum agencies to “come clean”. We are being ripped off big time !

Piet parys ·

Ja en as dit by die boere kom word mielies nie bereken op die invoer prys nie . Volgende jaar se insetkoste 30% op so die verbruiker sal maar moet betaal vir hulle pap op die bord.. Sasol produseer 30% van die land se brandstof maar hulle word bevoordeel ten koste van die verbruiker .

SjN ·

Rente koerse moes ook lankal gestyg het maar die regering manupileer dit deur middel van die brandstofprys deur verskeie faktore die skuld voor te gee, in die 70 jare was al wat n snelweg geblok of gedreig om te blok indien styging van 1 sent ter sprake was en dan is dit net so gehou, net nog n bewys dat taxis subsudies ontvang. Stel kundige persone aan wat die werk kan en wil doen.

Keith ·

Petrol en diesel IS plaaslik vervaardig (SASOL). Hulle lieg vir ons. Boonop gooi hulle ook alkohol en LPG by ! Groot bedrogspul aan die gang.

Pierre ·

Snaaks hoe die taxi’s nie ‘n geluid maak nie. Voorheen het hulle ‘n helse bohaai opgeskop as brandstof se pryse opgegaan het.

Anel ·

In 1984 het die taxis die land amper afgebrand en daar was groot onluste omdat die petrolprys van 84 sent per liter verhoog is na 85 sent per liter. Vandag sê niemand ‘n woord nie. Behalwe die petrolprys is daar so klompie jare terug moes ons R15,00 eksra op ons voertuiglisensies betaal. Toe ek navraag doen is daar gesê dat dit eenmalig is en vir enatis is. Dit het so opgegaan en vandag het ek R72, 00 ekstra betaal. En dit sê administrasiefooi. Hoe is dit moontlik! En wat word van daardie geld!? Mens kan mos nie so aangaan nie!!!

Johanncb ·

Hersien asseblief die prysstruktuur! Met brandstofpryse die hoogste óóit, kan mens beswaarlik byhou met lewenskoste! Iewers moet kospryse in die proses kan afkom!

koos ·

Ek onthou nog duidelik CR se gevreet op TV waar hy aan SA verduidelik dat die brandstofprys met 80 sent opgaan omdat die land geld kort. Wat het intussen van daardie 80 sent per liter geword? Weet jy hoe baie geld dit is? My pa se belasting het sasol gebou, en kyk hoe goedkoop is sasol nou (sarkasme in die oortreffende trap). Ook, sasol gooi ‘n helse klomp alkohol by die petrol, hoekom word dit aan die olieprys gekoppel? Buitendien voorsien sasol amper die helfte van die land (en sekerlik buurlande) se brandstof. Van buurlande gepraat – hoekom is (ons) brandstof daarso beduidend goedkoper? Tyd vir groot veranderinge, en die DA is maar net ‘n poep in die orkaan soosgewoonlik. All talk and no action, blou gepraat in die gesig. PS: 95 oktaan is huidig R13.20 in Swaziland – google dit as jy my nie glo nie.

Corne123 ·

Sover ek dit het was daar in die 60tigs erens n groot verhooging om sasolburg te bou want oil gaan te duur word? Nou hoekom de regeleer die regering nie brandstof pryse nie? Hulle kan nie want dan draai hulle hulle eie krane tot geld toe dit tyd dat almal saamstaan en opstaan vir wat reg is die verbruiker word weer gemelk vir al die foute van regering

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.