‘Hersien Phiyega se hele polisieloopbaan’

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega Foto: Werner Beukes/SAPA

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê die ondersoek oor beweerde wangedrag deur die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, moet uitgebrei word om ook verdere bewerings teen haar te ondersoek.

“Die DA verwerp president [Jacob] Zuma se versuim om die omvang van die ondersoek oor die geskorste Phiyega se geskiktheid om haar amp te beklee, te vergroot,” het Zakhele Mbhele, woordvoerder van die party, in ʼn verklaring gesê. “Dit is ʼn klap in die gesig vir die miljoene Suid-Afrikaners wat ware aanspreeklikheid verwag vir haar droewige optrede.”

Volgens die DA moet die ondersoek ook bewerings insluit wat in vandag se Sunday Independent gepubliseer is wat aanvoer dat sy steeds in die operasionele bestuur van die polisiediens inmeng, ondanks die feit dat sy geskors is.

In ʼn verklaring wat Vrydag op die presidensie se webwerf gepubliseer is, het Zuma nie die omvang van die ondersoek wat die Farlam-kommissie oor Phiyega se geskiktheid om haar amp te beklee aanbeveel het, vergroot nie. “Die terme bly dieselfde,” lui die verklaring.

Volgens Mbhele handel die ondersoek dus slegs oor die aanbevelings van die Farlam-kommissie van Ondersoek oor die slagting by Marikana. “Maar daar is ʼn wye reeks kwessies wat vereis dat die ondersoek se verwysingsraamwerk vergroot moet word,” het hy bygevoeg.

Die DA het Zuma al twee keer versoek om die ondersoek op rasionele en substantiewe gronde te vergroot. Die mees onlangse rede wat die party aanvoer is die verdoemende bevindings deur die ministeriële verwysingsgroep, wat deur polisieminister Nathi Nhleko in Oktober 2014 op die been gebring is. Dit het Phiyega skuldig bevind aan meineed, wangedrag, bedrog en dat sy die parlement mislei het.

“Phiyega se gebreke strek ver meer as net die tragedie by Marikana,” het Mbhele gesê. “Sy het direk tot die agteruitgang van die polisiediens bygedra en die polisie se vermoë, om seker te maak dat gewone Suid-Afrikaners veilig is in hul eie huise, werksplek en in die straat, benadeel.”

Hy het gesê Zuma minag die veiligheidsbehoeftes van gewone burgers deur nie beslissend en omvattend op te tree wat betref die gebrek aan leierskap in die polisiediens nie. “Dis duidelik dat hul hulpkreet vir ʼn polisiediens wat doeltreffend is en gelei word deur ervare en etiese senior bestuur net nog iets is wat bygevoeg kan word op die lysie van #ThingsZumaLaughsAt.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elbie ·

Asb raak tog net van hierdie phiyega ontslae, sy is vas aan die slaap en heeltemal onbevoeg! #phiyegamustfall !!!

frik ·

Haai bestaan die DA nog hulle is so stil n mens sou sweer hulle stem saam oor baie dinge wat gebeur het die afgelope tyd wat n groot NEE is

Winston ·

Sy moet net eenvoudig uit die pos ontslaan word en n meer bevoegde kommissaris aangestel word. Weet net nie waar hulle een gaan kry nie? Bespoedig optrede asb. Dankie

Bart ·

Daar is heelwat meer hier as wat vertel word. Hoe het sy in die eerste plek die werk gekry? Vir wie her sy intussen kwaad gemaak?

Hennie ·

Nie die laaste sien van Phiyega nie, binne ‘n paar maande skiet sy uit as ‘n minister. Dit waardeur sy nou gaan is maar die gewone prosedure om ‘n adjunk of ‘n minister te word. As sy tronk toe gaan kwalifiseer sy vir president.

Johann Marx ·

Wat is daar om te ondersoek? Sy is in 2012 aangestel as Nasionale Polisie Kommissaris ….MET GEEN VORIGE POLISIE ONDERVINDING NIE. Hoe bestuur jy die SAPD as jy nie ‘n benul het van wat dit vat om as ‘n polisie konstabel opgelei te word en diens te doen nie? Stel jy iemand as ‘n Boeing-loods aan omdat hy papiervliegtuigies in die klas gegooi het?

Mike de Beer ·

Dit behoort nie veel langer as tien minute te neem om haar hele Polisie loopbaan te ondersoek nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.