Die departement het Vrydag in die parlement gesê dat daar navorsing gedoen word rakende dié twee howe se uitsprake. Die doel van die navorsing is om te kyk na die impak daarvan sodat die regering dit vinnig kan implementeer, het die koerant berig.
John Skosana, die departement se direkteur vir beleidsbeplanning, het aan die portefeuljekomitee oor geregtigheid en korrektiewe dienste gesê die regering is nie van voorneme om die howe se besluite te verander nie.
Hy het die komitee ingelig oor ʼn studie wat in 2011 deur Jeff Radebe, voormalige minister van justisie, van stapel gestuur is om ondersoek in te stel na die impak wat uitsprake van die land se twee hoogste howe op burgers se lewens het.
Skosana sê daar was histerie gewees toe die regering aangekondig het die studie gaan gedoen word. Die studie word deur die Universiteit van Fort Hare en Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing gedoen.
Die koerant berig dat daar in Oktober ʼn voorlopige verslag ingedien sal word en dat die volledige verslag teen einde Maart volgende jaar beskikbaar sal wees.