Herskedulering van NMB-raadsvergadering verwelkom

Skermgreep uit ‘n video van een van die onderonsies tydens ‘n raadsvergadering op 29 Maart 2018 in Nelson Mandelabaai

Die United Democratic Movement (UDM) het Woensdag die herskedulering van volgende week se spesiale raadsvergadering in Nelson Mandelabaai verwelkom waartydens die mosie om Athol Trollip, die burgemeester, en sy hele burgemeesterskomitee te verwyder, bespreek sal word.

Die UDM het in ʼn verklaring gesê hy verwelkom die voortsetting van die vergadering ná verlede week se chaotiese vergadering.

Ná ʼn agt uur lange drama, verdagings, vurige debatte en ontwrigting op ontwrigting is die mosie van wantroue teen die DA se Trollip vir twee weke uitgestel.

Mongameli Bobani, UDM-raadslid, het sedertdien om verskoning gevra vir die voorval waarin Deidre Carter, ʼn LP van Cope, betrokke was.

In ʼn e-pos aan Bongani Msomi, UDM se sekretaris-generaal, het Bobani gesê hy vra onvoorwaardelik om verskoning as daar enigsins die “kleinste aanduiding” was dat hy met opset aan Carter geraak of teen haar gebots het. Volgens hom dui sy verslag en Carter se verslag net op een ding – dat niemand presies kan onthou wat in die chaos gebeur het nie.

Bobani het egter nie om verskoning gevra vir sy gedrag teenoor Trollip nie. “Die voorval met Trollip was totaal verskillend. Dit was met opset!” het hy in ʼn afsonderlike persverklaring gesê.

Hy het gesê Trollip het hom verkleineer, uitgelok, swartgesmeer, asook gebruik om mag te verkry en toe weggegooi “soos ʼn lap wat nie meer nodig is nie”.

Die UDM het Woensdag gesê hy was beïndruk deur die DA se deursigtigheid om ʼn veilige ruimte vir sy raadslede te verskaf om met hul gewete te stem tydens die mosie van wantroue teen Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester.

Thoko Tshangela, UDM-raadslid, het gesê die demokratiese voorbeeld wat die Kaapse metro 15 Februarie gestel het toe DA-raadslede sonder vrees kon stem, is presies wat die UDM in die konstitusionele hof probeer bevorder het verlede jaar.

Die mosie wat deur die EFF, ANC en ander kleiner partye ingedien is, het ten doel om Trollip, speaker Jonathan Lawack, hoofsweep Werner Senekal en die hele burgemeesterskomitee te verwyder.

Die sitting is vir 10 April herskeduleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oom Kalahari ·

Ja-nee as iets goed verloop en werkbaar is, dan is dit ‘n bedreiging en stel die ander instansies in ‘n swak lig. Daarom moet hier ook ‘n verswakking in Mandela Baai wees om te strook met die ander swak beheerde Provinsies. Darem maar swak om so op te tree oor ras as oral voorgeskryf word dat ras geen faktor moet wees nie. Wel dit gaan maar oor werklike goeie Bestuurs vermoe, finansieele beplanning, gemeenskaps interaksie, opbou en herstel van fasiliteite, uitbreiding ens wat tans goed gehanteer en toegepas word deut Burgemeester Trollip en sy Raadslede. Omdat hy wit is en teen grondeoneiening sonder vergoeding onlangs in Parlement gestem het, word sy kop nou deur EFF en aanhanger partye ge-eis. As dit nou nie ‘n rassistiese en Diskriminerende optrede is nie, dan weet ek nie wat is nie.

[email protected] ·

Dis waar Oom Kalahari, maar wat het die DA verwag? Maanskyn en rose saam die EFF? Hierdie is seker die een grootste enkele rede hoekom ek nie weer DA sal stem nie. Stupid, dom besluite wat telkens gebeur met hulle soos daai Rhamphele debakel van hulle voorheen. Gaan nie weer so kans vat nie. Daai EFF besluit het NMB nou letterlik n paar jaar terug gesit, en ek wag dat dieselfde nog gaan gebeur in PTA en JHB.

snoefie ·

julle is so reg. sieedf erken ook dat hulle bande sal breek !er almal wat grondonteiening SONDER VERGOEDING sal uithaal. kom ons hoop vir n wonderwerk more in Bloemfontein

Manie ·

Die Udm wat so bly is se verteenwoordiger was die grootste nar van almal. Ek kan nie my indink dat die spul vet salarisse kry vir hulle kinderagtige optrede. Dit laat my besef hoekom stadsrade in so groot moeilikhede is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.