Herstel aan KZN-paaie kan ‘maande duur’

Skade aan infrastruktuur in KwaZulu-Natal beloop miljarde rande. (Foto: Twitter/Fikile Mbalula)

Herstelwerk van miljoene rande het aan KwaZulu-Natal se beskadigde pad- en spoornetwerk begin nadat die onlangse oorstromings reuseskade aan infrastruktuur aangerig het.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Vrydag terugvoer gegee oor vordering met die herstelproses in dié provinsie, sowel as in die Oos-Kaap.

Sowat R3,1 miljard sal vir herstelwerk aan paaie toegewys word, terwyl die skade aan die spoornetwerk op nagenoeg R3,3 miljard geraam word.

Die minister sê hoewel daar blitsig reageer is om met herstelwerk te begin, dit nie noodwendig beteken dat paaie of spoorweë dadelik heropen kan word nie, omdat die omvang van die skade moontlik kan beteken dat herstelwerk maande lank gaan duur.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die Passasierspooragentskap (Prasa) is verantwoordelik om ʼn skadeberekening te doen.

Herstelwerk aan die N2 en N3 is volgens Mbalula die onmiddellike prioriteit. Daar word egter ook gefokus op herstelwerk aan paaie in gebiede waar gemeenskappe heeltemal afgesny is van die res van die land of waar verkeer na substandaard alternatiewe roetes of tolpaaie herlei moet word. Die N2 in die omgewing van Umgababa is een van dié paaie.

Mbalula sê tolgeld in gebiede wat ernstig geraak word, word ook tydelik opgehef.

“Die Sanral-raad, in ooreenstemming met sy mandaat, het besluit om die tolgeld by die oThongathi- en Mvoti-tolhekke op die N2-tolroete op te skort.

“Dit is bedoel om gemeenskappe te help wat geraak word deur die sluiting van alternatiewe paaie weens vloede,” sê Mbalula.

Herstelwerk aan die alternatiewe roetes sal nou voorrang geniet en versnel word, sodat inwoners van die gebied dit so gou moontlik weer sal kan gebruik.

Herstelwerk aan die N2 en N2 beloop R542,5 miljoen en sal uit die Sanral-begroting finansier word.

Paaie of infrastruktuur wat geprioritiseer word, sluit in die Mhlalirvier-brug (noordelike rigting), die M45- Queen Nandi-afrit na die N2-suid oor die Umhlanganerivier, die Louis Botha-spooroorbrug, die Umhlangarivier-brug, asook walle wat meegegee het op die N2.

“Ons is in gesprek met die nasionale tesourie en die nasionale rampbestuursentrum om die finansiering van herstelwerk aan provinsiale paaie af te handel,” sê Mbalula.

Dit sal toegewys word deur die herprioritisering van die provinsiale padinstandhoudingstoelaag en teen ʼn koste van R3,1 miljard.

Spoorlyne in die provinsie, wat reeds weens diefstal en vandalisme erg verswak is, het ook weens die oorstromings deurgeloop. Passasierspoorlyne sal geleidelik herstel word, maar daar is reeds begin met herstelwerk aan spoorlyne waar skade beperk is.

Alternatiewe treindienste sal teen die einde van die maand tussen Durban en KwaMashu, Durban en Stanger en Durban en Pinetown in werking gestel word.

Die tweede gedeelte van die herstelproses sal fokus op infrastruktuur wat groter skade opgedoen het en tussen drie en ses maande sal duur om te herstel. Dit sluit in die roetes tussen Durban en KwaMashu, Durban na Umlazi, die roete na Cato Ridge en die spoorlyn tussen Reunion en Kelso.

Op die Umlazi-spoorlyn word daar al hoe nader aan die spoorlyn gebou en op talle plekke is dit haas onmoontlik vir spanne om by die spoorlyn te kom.

“Die kwantumkoste vir herstelwerk en rehabilitasie van die spoornetwerk wat deur vloedskade geraak word, word op R3,3 miljard geraam,” sê Mbalula.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

En daar is geen hulp vanaf die regering af nie. Niks, nada, zilch!!!!

Perdeby ·

Shame julle oortref julle self om te se “maande” julle bedoel seker “JARE”

Chris dupreez ·

Is dit nou die geld vir die anc se sakke ingesluit.?

Karina ·

Vra Japan hoe het hulle die infrasturktuur so gou herstel nadat hulle die vreeslike Tsunami gehad het ‘n paar jaar gelede. Die rede, hulle was bereid om te werk. Daar was nie so ‘n ding dat een persoon werk en 9 ander staan vir hom en kyk nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.