Herstelwerk aan Charlotte Maxeke kan nog jaar duur

Só het dit verlede maand nog by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese- hospitaal gelyk. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir gesondheid en welstand in Gauteng, het die publiek verseker dat alle dele van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg teen Desember 2023 beskikbaar sal wees.

Só het die LUR vandeesweek verseker toe sy op wetgewervrae geantwoord het oor wanneer die herstelwerk by hospitaal afgehandel sal wees ná verlede jaar se brandvoorval.

Die brand verlede jaar het grootskaalse skade veroorsaak en daartoe gelei dat pasiënte maande lank van naburige hospitale gebruik moes maak – dikwels tot nadeel van kleiner gesondheidsfasiliteite in die gebied.

Die hospitaal sou maande gelede reeds oopgestel gewees het.

“Die herstelwerk aan die brandbeskadigde deel van blokke vier en vyf is tans aan die gang en die voltooiingsdatum word op Desember 2023 geraam. Daar word ook reeds kleiner herstelwerk gedoen soos die herstel aan balke en die konstruksie van skeermure vir strukturele stabiliteit,” het Nkomo-Ralehoko gesê.

Volgens Nkomo-Ralehoko sal die tydelike toegangsoprit wat na vlak P3 gebou word – om voorsiening vir sowat 300 bykomende parkeerplekke te maak – gedurende November vanjaar voltooi word.

“Die brandnakomingswerk in blokke een tot vyf en die administrasieblok, wat verband hou met die nie-nakomingsbevindings deur die Stad Johannesburg, sal voortgaan en dit sal na verwagting vroeg in 2026 voltooi wees, gegewe die volume werk wat gedoen moet word.

“Die projekbestuurders is deurlopend in gesprek met die stad as ’n kritieke belanghebbende om te verseker dat aandag gegee word aan enige kwessie wat deur die munisipaliteit geopper word.”

Aanvanklik was die benadering om verskeie blokke op dieselfde tyd te doen, maar die strategie wat deur die klinici aanvaar is, is dat alle dienste binne die hospitaal bly in plaas daarvan om oor ander fasiliteite versprei te word.

Dit beteken dat dit op ’n blok-vir-blok-basis sal plaasvind met na raming van ses tot agt maande per blok. Dit beteken dat dienste sal aanhou roteer binne die hospitaal terwyl kontrakteurs van een gebied na ’n ander werk.

Nkomo-Ralehoko het bevestig dat die vertragings in die bespoediging van die regstellende werk te wyte was aan ’n aantal faktore wat insluit die oordrag van die projek tussen die provinsiale departemente (departement van infrastruktuurontwikkeling en gesondheid- en welstanddepartement en die nasionale departement van gesondheid), begrotingsbeperkings en vertraagde betaling van projekdiensverskaffers.

“Na afhandeling van die remediërende werk in blokke vier en vyf, sal die hospitaal ten volle in werking wees, en alle kliniese ruimtes sal vir gebruik beskikbaar wees. Intussen is spesiale sorg nou terug by die hospitaal nadat die fasiliteit vroeg vandeesmaand (3 Oktober) die mans- en vroue‑ opgeknapte psigiatriese sale met ’n gesamentlike kapasiteit van 44 beddens teruggebring het. Dit het pasiënte wat ná die brandvoorval in die Helen Joseph-hospitaal gehuisves is, toegelaat om na Charlotte terug te keer.”

Die hospitaal huisves tans 979 binnepasiëntbeddens, wat 92% van die kapasiteit is in vergelyking met die aantal binnepasiëntbeddens voor die brand. Die hospitaal hanteer 75% van buitepasiënte, in vergeleke met die aantal buitepasiënte (55 000) voor die brand. Dit terwyl 20% tot 25% van die hospitaal vir werk aan infrastruktuur oorhandig is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Bla bla bla dit maar alles deel van hulle agenda en verwoesting.Daar is nie geld vir niks.Nou vra ek waar gaan die geld heen????Ons wag nog vir die paaie 6 maande al verby.Julle ken daai ou gesegde van belowe,belowe hulle …………is vol …….Sien is glo in die land.

My siening ·

Dis hoe ernstig Ramaposa is laat die mense wag ons anc het die geld eerste nodig!

Marius ·

Ek se maar net dat in ander dele van die wereld word n hospitaal oor n naweek gebou so ook n tonnel onder n brug. Wat is dan fout in SA ???? O ja ek het vergeet , die anc is net oor hulle self gepla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.