Herstelwerk aan sinkgat op R55 begin

Krake op die R55. Foto: Verskaf

Die Gautengse departement van paaie en vervoer het met herstelwerk begin om ʼn reusesinkgat wat op die besige R55 (Quaggaweg) in Laudium in die weste van Pretoria ingeval het, te vul. Die departement het Woensdag gesê die herstelwerk gaan nagenoeg R12 miljoen kos.

Groot krake het in Maart ná swaar reënval in dié dolomietryke gebied gevorm en veroorsaak dat ʼn gedeelte van die noordelike baan tussen 2de en 3de Laan onbepaald vir verkeer gesluit moes word. Die suidelike baan is tydelik in ʼn tweerigtingpad omskep om verkeer op dié hoofroete te herlei. Die sinkgat het daarna verder vergroot.

Melitah Madiba, woordvoerder van dié departement, het Woensdag gesê herstelwerk kan begin nadat ʼn stabiliteitsopname van die dolomiet in die gebied deur kenners gedoen is.

“ʼn Departementele span kundiges het die afgelope tien weke die gebied rondom die sinkgat noukeurig gemonitor. Die sinkgat het oor die afgelope tydperk nie verder vergroot nie. Die spanne het begin om beton in die middelpunt van die sinkgat te gooi in ʼn poging om te verhoed dat enige verdere insinking tydens die reënseisoen plaasvind,” het Madiba gesê.

“As die middelpunt heeltemal bedek is, kan die proses begin om die gebied te stabiliseer deur enige onstabiele grond in die omgewing te laat inval. Geskikte vulmateriaal sal dan ingevoer en gekompakteer word tot die gat tot op die grondvlak bedek is.”

Madiba het gesê as die gat gevul is, sal gate geboor word waarin nog beton gepomp sal word om enige leemtes wat dalk oorgebly het, te vul. Daarna sal die padoppervlak eers herstel en die pad weer oopgemaak kan word.

Die departement het padgebruikers versoek om geduldig te wees en intussen van alternatiewe roetes gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.