Herstelwerk by Charlotte Maxeke-hospitaal duur sukkelend voort

Só het dit verlede maand nog by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese- hospitaal gelyk. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die herstelwerk wat aan die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal (CMJAH) gedoen word, duur al sukkelend voort nadat ʼn brand byna ʼn jaar gelede dele van die hospitaal verwoes het.

Die Gautengse departement van gesondheid sê egter die herstelwerk word so vinnig moontlik gedoen, ten spyte daarvan dat die hospitaal se heropening onlangs verder vertraag is nadat diewe daar toegeslaan het.

“Ons doel is om toe te sien dat die fasiliteit weer ten volle funksioneel is,” sê dr. Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng.

Sy sê die departement bly daartoe verbind om te verseker dat al die nodige herstelwerk so gou moontlik afgehandel word sodat die las op nabygeleë fasiliteite soos die Helen Joseph Akademiese Hospitaal en Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal verlig kan word.

CMJAH se ongevalle-eenheid is Donderdag reeds weer gedeeltelik oopgestel.

Daar is egter nog talle stappe wat gedoen moet word voordat die hospitaal weer bedrywighede teen volle kapasiteit kan hervat.

Eerstens moet al die afdelings waar herstelwerk gedoen is, diep skoongemaak word, waarna toerusting geïnstalleer kan word.

Daarna sal die Johannesburgse metro die hospitaal moet inspekteer sodat die nodige bedryfsertifikate – indien aan alle voorwaardes voldoen word – uitgereik kan word. Dié aansoek is reeds in die eerste week van Maart ingedien.

“Al die hospitaal se ongevallepersoneel sal vanuit omliggende fasiliteite herroep word, waarna hulle opnuut opleiding oor die ontruimingsprosedures moet ontvang,” sê Mokgethi.

Dit is egter nog nie duidelik wanneer die hospitaal se geraakte eenhede ten volle oopgestel sal wees nie.

Kommer heers die afgelope tyd oor die stand van sake by die hospitaal, aangesien die Helen Joseph-hospitaal byna op breekpunt is oor die getal pasiënte wat daar kom aanklop terwyl herstelwerk by CMJAH voortduur.

Hoewel herstelwerk aan dele van die hospitaal reeds langer as 11 maande duur, is die hospitaal se heropening verder vertraag nadat daar vroeër vandeesmaand koperpype, elektriese kabels en nuwe elektriese verdeelborde op die terrein gesteel is.

Volgens Mokgethi is bykomende veiligheidsmaatreëls en toegangsbeperkings ná die voorval in werking gestel.

“Diegene met inligting wat wetstoepassers kan help om die oortreders vas te trek, word versoek om hul naaste polisiestasie te nader,” sê sy.

Intussen is die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA), in opdrag van die nasionale departement van gesondheid, besig om ʼn gedetailleerde inwerkingstellingsplan te ontwikkel sodat die hospitaal doeltreffend oopgestel kan word.

Die plan moet teen die einde van die maand goedgekeur word.

DBSA hanteer nou die herstelproses nadat die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling glo daarmee gesloer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Sprekend van hoe die Nasionale Gesondheids Klug gaan ‘werk”!

Kokerboom ·

Ala ANC. Tyd, dringendheid en toekoms bestaan nie in die mense se verwysingsraamwerk!!!So, mense wat vir hul stem, kry vir julle! Hou op kla!!!

JohanR ·

Daar is hospitaale in SA vir mense behandeling, wat ek nie eers my diere toe sou vat nie!

Perdeby ·

Ai die ANC wat so hulle kaders gebruik om alles te probeer herbou / herstel. ‘n Hele paar miljoen oor die begroting en 10jaar later en daar sal nog steeds niks gebeur nie.

Samuel ·

Is daar enige erns om die hospitaal weer op dreef te kry? Ek twyfel. ANC ken nie van beter nie.

Spyker ·

As ek reg onthou sou Maxexe binne n week na die brand weer indiens gestel wees. Dis n laaaang week!

MJ ·

Hierdie onbevoegdheid is net belaglik!!
Ander lande word deur Tsunami’s getref en herstel vinniger as ‘n jaar !!!!

Jacobus ·

Ek stem saam, die skades deur tsunami’s en orkane kan mens herstel, maar die vernietiging deur die ANC word moeilik, indien ooit herstel.

Miskruier ·

Daar was n brand in n klein gedeelte, die apteek. Die sale en teaters en spreekkamers het sover my kennis strek geen skade gehad nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.