Herstelwerk sal maande duur ná ongeluk by Eskom-kragstasie

Die Lethabo-kragsentrale, noordoos van Sasolburg. Foto: Google Maps

Eskom het Donderdag gesê eenheid 5 by sy Lethabo-kragstasie in die Vrystaat, waar ʼn werknemer Woensdag dood en nog een ernstig beseer is, sal na verwagting vir ʼn minimum van drie maande buite werking wees.

Die kragvoorsiener het in ʼn verklaring gesê Eskom-bestuurslede het Woensdagaand die kragstasie besoek en opdrag gegee dat ʼn ondersoek na die voorval gedoen word.

Volgens Eskom het die voorval om 15:23 gebeur toe “lewende stoomdruk ontsnap het toe die ketel by eenheid 5 van die kragstasie gebars en ʼn wolk in die lug in gestuur het”. Alle werk by die kragstasie is onmiddellik gestaak en die bestuurder van die kragstasie en uitvoerende hoof van Eskom Rotek Industries het werkers ná die voorval toegespreek.

ʼn Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat die eenheid minstens drie maande buite werking sal wees terwyl die ondersoek en herstelwerk gedoen word.

“Die verlies van eenheid 5 sal ʼn negatiewe impak op die kragnetwerk hê gegewe dat Lethabo-kragstasie een van die koste-effektiefste opwekkers is met genoegsame toegang tot ʼn bestendige steenkoolvoorraad. Alle pogings sal gefokus wees om die eenheid veilig en vinnig weer tot die nasionale netwerk terug te voeg.”

Brand by Eskom se Lethabo-kragstasie in die Vrystaat (Foto: Eskom)

Intussen het die vakbond Solidariteit gesê hy is bekommerd oor die stand van instandhouding by ander Eskom-kragstasies ook.

“As ʼn vakbond is ons bekommerd oor die veiligheid van ons lede by talle Eskom-kragstasies,” sê Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit. “Die Lethabo-ongeluk kan nie in isolasie beskou word nie. Daar word nou reaktief gereageer nadat ʼn noodlottige ongeluk plaasgevind het, maar dit wil blyk dat behoorlike instandhoudingsprosesse by ander kragstasies nie na wense nagekom word nie – ʼn toedrag van sake wat noodwendig ongelukke tot gevolg kan hê,” het hy gesê.

Reyneke het gemaan dat Eskom indringend ondersoek moet instel na die instandhouding van eenhede by ander kragstasies om sodoende soortgelyke tragiese ongelukke, soos die een wat by Lethabo afgespeel het, deur pro-aktiewe stappe te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jordaan ·

Enige verband met Solidariteit se staking? Het dit dalk veroorsaak dat onderhoud nie behoorlik gedoen is nie?

Anoniem ·

Die mense met die nodige kennis is weggejaag nou moet hul maar suffer en dit moet n les wees vir ander maatskappye ook moet nie jou tegniese mense vervang met iemand anders net omdat jy wil in wees met jou bbee status. Mense lewens is meer belangrik as n stuk papier wat se jy voldoen aan jou bbee status

IK ·

‘Instandhouding’? Dis in alle opsigte ‘n vloekwoord vir die owerheid.

Werner ·

Natuurlik word die kragstasies ‘instand gehou’ Net soos daar by die riool werke van die Emfuleni Munisipaliteit waar die riool vrylik die Vaaldam in vloei. Gaan seker ook weer groot bonusse ook kry daar by Eskom, soos die 71% van sy ‘multimiljoen rand’ salaris, die CEO van Rand Water, nl Percy Sechemane.

Lou ·

Kan iemand asb. verduidelik wat “lewende stoomdruk” is. In my 50+ jaar het ek nog nooit van so iets gehoor nie.

Tegno-whatever ·

Het oor dieselfde ding gewonder. Dalk is dit wat ‘n ooggetuie gesien het toe die pype/ketel ontplof het; stoom wat soos ‘n lewende monster in die lug in blaas en alles in die pad verswelg.
As dit nie so iets is nie het ek êrens ‘n leemte in my opvoeding…

Ek ·

Lewende stoom druk is in ander woorde “LIVE STEAM”. Dit is die stoom wat deur die ketel ‘Boiler’ gemaak word en met n hoe druk pyp na die Turbine toe supply word om die turbine te draai en wat dan die generator draai wat krag uitsit.

Groot asseblief ·

Terwyl daar nou ondersoek ingestel word, kyk sommer na die Duvha kragstasie. Die hrt ook so +/- 10 Jaar gelede ‘n ontploffing in sy een netwerk gehad en is tot op hede nog nie reggemaak nie.

Groot asseblief ·

Terwyl daar nou ondersoek ingestel word, kyk sommer na die Duvha kragstasie. Die het ook so +/- 10 Jaar gelede ‘n ontploffing in sy een netwerk gehad en is tot op hede nog nie reggemaak nie.

Anci ·

Privaat maatskyppe en instansies wat produkte lewer en uitvoer word so rigied geoudit op OHSA regulasies en ander standaarde waaraan voldoen moet word. Kan iemand my sê of sodanige oudits ook by staatsinstansies gedoen word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.