Herstelwerk van R25 miljoen begin by Centurion-sinkgat

Die ingang na die sinkgat. Foto: Via Edward Bromfield / Facebook

Herstelwerk het begin aan die reusesinkgat wat sedert Mei verlede jaar verkeer op een van Centurion se hoofroetes ontwrig.

Rdl. Sheila Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in Pretoria, het Maandag in ʼn verklaring gesê sy is bly om aan te kondig dat die herstelwerk aan die sinkgat by die aansluiting van Jeanlaan en Gerhardstraat in Lyttelton aan die gang is.

“Die metro, onder administrasie van burgemeester Solly Msimanga, het R25 miljoen van sy bedryfsbegroting toegestaan om met die herstelwerk te begin en daardeur ons een stap nader te bring om sakebedrywighede in die gebied te herstel,” het Senkubuge gesê.

Senkubuge het gesê dié bedrag is die meeste wat die stad nog moes betaal vir die eenmalige herstel van ʼn sinkgat en dat die tender toegeken is aan ʼn kontrakteur wat die nodige kapasiteit het om die werk te onderneem.

“Ons het verlede week met die raadslid vergader waartydens die diensverskaffer voorgestel is en die perseel aan die kontrakteur oorhandig is. Die kontrakteur het Maandag met die eerste fase van die projek begin.”

Sy het gesê daar is tans 24 sinkgate in Pretoria, waarvan 23 in die gebiede van Centurion, Laudium en Olievenhoutbosch gevorm het. “Oor die jare het die vorige administrasie nie voldoende vir die herstel van sinkgate begroot nie en ons werk in alle erns daaraan om dit reg te stel deur die dringendste sinkgat in Jeanlaan te herstel.”

Volgens Senkubuge sal dit na raming R60 miljoen kos om al die sinkgate in die stad te herstel en sal die probleempunte in die volgende finansiële jare aandag kry.

Maroela Media het vroeër berig kontrakteurs wat opknappingswerk in die omgewing gedoen het, het op dié sinkgat afgekom voordat dit heeltemal ingeval het. Die gat is minstens 12 m diep en so groot soos ʼn skoolsaal. Die dikte van die pad tussen die teer en die gat is slegs sowat 75 cm en die padoorgang is noodgedwonge vir die publiek en motoriste se veiligheid gesluit.

Die sinkgat het reeds grootskaalse ontwrigting in verkeersvloei en vir die omliggende sakeondernemings veroorsaak.

Dié aansluiting is een van die hoofroetes in Centurion met nagenoeg 40 000 voertuie per dag. Tans moet die verkeer van alternatiewe roetes gebruik maak.

Met inagneming van onvoorsiene omstandighede, sal die projek na raming nege maande neem om te voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannes ·

Jacques, ek is nie oortuig nie…. Daar is veronderstel om ‘n rampfonds te wees en ek weet daar is een, wat rampe soos die spoedig kan aanspreek. Die gat het reeds in Mei-maand aandag geniet alhoewel dit reeds in Januarie aangemeld was. Dus, 12 maande voor die kontrakteur op terrein begin….

SjN ·

Daar is n beter en goedkoper oplossing, al die persone wat medies geskik en kindertoelae/ werkloosheid ontvang moet eers elke maand met kruiwa, pik en graaf hul deel gaan doen alvorens uitbetaling gedoen word.

HPV ·

SjN, wonderlike idee! Hulle sal egter binne tien minute staak vir hoër toelae.

Hansie slim ·

Hoe groot is die sinkgat dat dit R25 milj kos? So groot soos die Carltonville sinkgate? Lyk nie so op die prentjie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.