Herstruktureringshoofde by dié 4 staatsinstellings aangestel

Minister Tito Mboweni. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency (ANA)

Tito Mboweni, minister van Finansies, het aangekondig dat daar binne 48 uur herstruktureringshoofde by Eskom, Denel, die SAUK en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aangestel sal word.

“Ons sal môre [Woensdag] die herstruktureringshoofde vir elkeen van hierdie entiteite aankondig wat saam met die bestuur van hierdie instellings sal werk om hierdie instellings weer op koers te kry,” het Mboweni gesê.

Hy het gesê dat Eskom vanjaar altesaam R49 miljard van die staatskas sal ontvang. In sy kort en keiharde toespraak het Mboweni gesê Eskom is die grootste risiko vir Suid-Afrika se fiskale raamwerk, en dat die hele stelsel inmekaar sal stort as Eskom sink.

Hy het die versekering gegee dat die regering aan ʼn plan werk om Eskom te red. Mboweni het gesê daar is ʼn afname in beleggersvertroue in Eskom, en Eskom is nie tans finansieel volhoubaar sonder staatshulp nie.

“Sonder staatshulp sal Eskom inmekaarstort,” het Mboweni erken.

Die SAUK het R3,2 miljard versoek, maar volgens Mboweni sal dit in paaiemente vrygestel word “wanneer daar aan sekere voorwaardes voldoen word om te verseker dat die organisasie verbeter word”.

Tydens die tesourie se begrotingsrede op 11 Julie het Mboweni aangekondig dat hy R13 miljard uit die gebeurlikheidsreserwe aan die SAL, die SAUK en Denel sal toewys.

Denel het vroeër die week vir werknemers laat weet dat hulle moontlik nie betyds hul salarisse vir Julie gaan ontvang nie. Dit nadat salarisse verlede maand eers betaal kon word nadat ʼn lener tot die redding gekom het. Dit was egter steeds nie moontlik om pensioenbydraes vir die maand te betaal nie. Denel het verlede jaar ʼn verlies van R1,7 miljard gely.

Volgens die nasionale tesourie het die SAL ’n ekstra R4 miljard nodig hê vir die huidige boekjaar. Verlede jaar is ’n reddingsboei van R5 miljard aan die SAL gegee om te verseker dat hy sy skuld kan terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Db

Genugtig hierdie wesens praat van miljarde soos ek van sente praat.

marous

Geen idee hoe geldelike beginsels werk nie . “Buy more ink to print more money ” is die manier hoe daar gedink word .

George in Bloem

En al daardie nuwe aanstellings sal korrupte onbevoegde ANC aanstellings wees so in plaas van die een groot probleem wat daar tans is,sal daar nou vier kleineres wees so wat’s die verskil nou eintlik? Patetiese spul narre.

schaun

Vervang met die mees gekwalifiseerde persoon of met die mees politieke korrekte persoon want dit sal n aanduiding wees of dit verder gaan verswak of n opwaartse kurwe gaan hê

John

Tito kom vanaf die Reserwebank… dis ‘n totaal ander omgewing as die plettervatvlak waarin gewone mense verkeer. Ken hy die woord, Stop? Niemand word afgedank nie, inteendeel; nog mense, in topjops, aangestel om te herstruktureer; draaistrategieè uitdink en dit vra perks. En dan leen ons nog en dan betaal ons meer belasting…. en dan is daar weer kragonderbrekings en dan beland ons waar Venezuela is. En raai-raai, dan gaan alles die skuld wees van glo swak aanvanklike werk deur wit ingenieurs in 1933. Veral daai een ou met die groot rooi snor. Nog aanstellings volg, nou om die outjie op… Lees meer »