Hertzogville ‘stort ineen’ – inwoners

Riool- en vullisverwyderingsdienste word glad nie gelewer nie. (Foto: Verskaf)

Kinders wat in rou riool speel terwyl diere daarvan drink, het ʼn algemene toneel in Hertzogville in die Vrystaat geword.

Inwoners sit boonop gereeld sonder krag of water en dit blyk dat die dorp ʼn algemene stortingsterrein geword het.

Dié probleme duur al jare voort en inwoners kla die munisipaliteit doen dadels om die probleme daadwerklik aan te pak. Inteendeel, die munisipaliteit wil nou sommer ʼn peperduur tennisbaan in die informele nedersetting bou, eerder as om noodsaaklike infrastruktuur te herstel.

Hierdie probleme word hoofsaaklik toegeskryf aan die swak instandhouding van infrastruktuur en aanlegte, toerusting wat voortdurend buite werking is en die Tokologo-munisipaliteit se algehele versuim om basiese dienste te lewer.

Johann Steenkamp, voorsitter van die AfriForum-tak op Boshoff, sê water- en rioolwerke op die dorp is tans in ʼn haglike toestand. Volgens Steenkamp beloop ʼn beplande nuwe tennisbaan in die Malebogo-nedersetting na beraming meer as R2 miljoen en meen hy dié geld kan eerder aangewend word om noodsaaklike opknappings aan infrastruktuur te maak.

Dit blyk dat die dorp ʼn algemene stortingsterrein geword het. (Foto: Verskaf)

“Belangrike infrastruktuur soos suiweringstelsels en drukpompe is bykans heeltemal buite werking. Riool- en vullisverwyderingsdienste word ook glad nie gelewer nie.

“Die hele dorp ervaar hierdie probleme. Woonbuurte, ondernemings én informele nedersettings loop deur.”

Steenkamp sê rou riool vloei ook nie net deur strate nie, maar lê in plasse voor mense se voordeure en agterplase aangesien dreine voortdurend verstop is.

Vrektes onder diere wat van dié rioolwater drink of besmette gras eet, is ook ʼn algemene verskynsel.

Inwoners drink liefs ook nie meer die kraanwater nie en gebruik dit slegs om mee te bad.

“Die gesondheidsrisiko’s wat hiermee gepaardgaan, is massief,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

Belangrike infrastruktuur soos suiweringstelsels en drukpompe is bykans heeltemal buite werking. (Foto: Verskaf)

ʼn Inwoner het anoniem aan Maroela Media gesê dat haar driejarige seuntjie siek geword het omdat hy vermoedelik met rou riool in die gesin se erf in aanraking gekom het.

“Rou riool het dae lank in plasse in ons erf – waar my seuntjie gereeld speel – opgedam.

“Hy het verlede week gebraak en maagwerkings gehad en hoewel ek nie bewyse het nie, vermoed ek dis omdat hy dalk in aanraking met die riool gekom het.”

Benewens die voortslepende rioolprobleme sê sy die dorp se paaie is ook in ʼn haglike toestand en dat sy dikwels bang is haar klein Renault Kwid beland in een van die enorme slaggate in die pad.

Die meeste straatligte is glo ook sedert Februarie buite werking.

“Dis gevaarlik om so in die donker te ry. Nou los ek maar ten duurste al my ligte aan sodat ek veiliger kan voel as ek saans by die huis kom.”

Sy sê bome word ook nie gesnoei nie en raak gereeld aan kragpale wat dan tot kragonderbrekings lei.

Tolla Faber (69), ʼn boer en sakeman wat al 20 jaar op Hertzogville woon, sê hy weet nie hoe lank dié dorp nog gaan staan nie.

Faber sê hy het al menige kere herstelwerk, soos die vul van slaggate, op sy eie onkoste gedoen.

“Ons [inwoners] het in ʼn stadium regstappe teen die munisipaliteit oorweeg, maar het ongelukkig nie die finansiële hulpbronne gehad om dit aan te pak nie.”

Belangrike infrastruktuur soos suiweringstelsels en drukpompe is bykans heeltemal buite werking. (Foto: Verskaf)

Faber sê daar is enkele mense binne die munisipaliteit wat werklik uit hul pad gaan om inwoners by te staan, maar dat hulle min tot geen ondersteuning van die bestuur ontvang nie.

“Intussen moet ons as inwoners self inspring en kyk waar ons kan help. Ek weet ons betaal almal belasting, maar ek steek my hand op om te help, want dis my dorp,” sê Faber.

“Al maak jy net die gate voor jou eie huis reg, sal dit reeds ʼn verskil maak.”

De Klerk sê AfriForum kyk tans na die moontlikheid om private dienste aan sy lede in onder meer Hertzogville te bied.

Hy sê AfriForum sal ook die munisipale en provinsiale bestuur nader en regstappe oorweeg indien nodig.

“Die Vrystaat word gekenmerk deur munisipale en staatsverval. Baie dorpe ervaar dieselfde kopsere en probleme as Hertzogville.”

Die munisipaliteit het nog nie op Maroela Media se navrae reageer nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

casper ·

‘n mikrokosm van ‘n disintegrerende Suid Afrika.
Viva ANC viva !!

Pieter ·

Wat van, weier om belasting te betaal, totda die probleme opgelos word

Janine ·

Hoe? Belasting word van salarisse getrek, nog voor mens jou salaris kry.

marius ·

Skep dit in emmers en gaan foeter dit in hul kantore uit . Punt .

Kortbroek en plakkies ·

Hartseer om te sien hoe ‘n land so agteruit kan gaan. Wat my verstand te bowe gaan is dat die meerderheid steeds vir hierdie regering stem.

Di ·

Dink ons almal vra hierdie selfde vraag! Ons almal ken wel die antwoord maar mag dit nie hardop se nie

Nozi ·

Nou wie gaan nou eerder wil tennis speel as om ‘n skoon dorp te kan he. ‘n Tennis baan en dit in ‘n nedersetting gebied. Die draad om die tennis baan gaan binne die 1ste week weg wees. Ek glo met R2mil kan hul ‘n groot verskil in die dorp maak.

Blomme ·

ANC moet begin erken hulle kan nie die mas opkom nie. Onbevoegde en onkundige korrupte gulsiges in Bestuursposte!

Louise ·

Ag die bestuur sit en lag en leef in weelde, terwyl die res van die mense vergaan.
So mpeg vir hierdie selfbehepte GRETIGE land!

Di ·

Wys jou net die mentaliteit van die in beheer! Geen benul wat van belang is nie. Hierdie tipe stories is landwyd – die hele klomp is pateties, sit net daar om korrupsie te pleeg en salarisse the onvang. Ons as burgers sal self moet plan maak om die gemors uit te sorteer. As ons wag dat die klomp patete ‘n poging aanwend, sal ons vir ewig wag

Dup ·

Welgedaan A en C,julle het werklik niemand se hulp nodig om SA in die grond in te regeer nie.Julle kom goed reg op julle eie.Doet so voort,julle is op die regte (grond)pad.

Erika ·

Vat daardie Riool Gemors en Gooi dit in n Betrokke Skepsel se Kantoor uit….
Sekere mense is meer begaan oor Geld(status) as oor Gesondheid…mos
En Die Mense sal steeds hulle geliefde ANC stem Loyaal bly ongeag….Nobody is as blind as those who don`t want to see…

Androclus ·

Orals lyk dit so.Die oorpakke en stewels wat hulle vir die werk kry is blink en in naat gestryk,terwyl die strate oorloop van rommel en stink water,en hulle in stadium kan sit en eet.

Kokerboom ·

Waar is MRK? Waar is betrokke Minister en LUR? Waar is CR? Waar is belastingbetalers? Waarom word ‘n klasaksie nie teen regering ingestel?
ALLES bly net by kla en praat!!!!

Mariana ·

R2 miljoen vir tennisbane terwyl mense siek word en doodgaan. Hoe werk hulle dit uit. Klink of daar nie mooi gekyk word na die belastingbetalers nie….soos gewoonlik. Tyd vir nuwe plaaslike regering daar in die dorpie, ANC is te vrot om enigiets reg te doen. Daai tennisbaan se geld gaan weer na iemand se sak….

Pieter9 ·

Ek is baie seker dat as iemand moeite gaan doen en begin data versamel oor die ANC se optrede en of gebrek daaraan- dit regs-tenies versorg en ‘n klagstaat voorberei – die ANC as misdaadorginisasie verklaar sal kan word. Dus sal almal wat die ANC ondersteun krimineel aangekla kan word; soos gebeur met Mafia lede. Kom ons probeer.

Sandra ·

Is dit nou Tokologa munisipaliteit of Tokkolossie munisipaliteit? Ons het klomp jare daar gewoon en skoolgegaan. Was nie so sleg soos dit nou is nie. Bly ons is vroegtydig daar weg as dit so erg verval het.

Johannes ·

Waar is diegene wat altyd praat van die jeug wat die toekoms van die land is , tog is hulle tevrede dat dieselfde jeug in rioolbesmette dorpe grootword

Pietertjie ·

Dis maar die beste waartoe die ANC in staat is. En our people verdien dit om in riool rond te ploeter, want hulle stem daarvoor.

Yvonne ·

Stem tyd kom dan stem hulle weer vir die party….met n omkoopgeskenkie as betaling

Chuck ·

Om SO ‘n situasie om te keer, of te herstel, kan dekades vat. Tekend van die land se verval en die absolute minagting van menseregte deur diegene wat die dorp moet bestuur. Ek is bevrees dis te laat. Stel solank iemand aan om die ligte af te sit…….bygese as daar nog krag is teen daardie tyd….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.