Herverdeling van grond: Boere geïntimideer

boer-boere-trekker-plaas-boerdery-landbou

(Argieffoto: Spencer Pugh/Unsplash)

Tientalle boere wat as huurderboere op staatsgrond boer, word nou geboelie deur amptenare wat hulle in sommige gevalle selfs dwing om die sleutels van hul eiendom te oorhandig en hul plase te verlaat.

Dít volgens die DA en die landbouorganisasie Saai.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê een van dié boere is Ivan Cloete, ʼn suksesvolle varkboer op die plaas Colenso. Amptenare van die departement het onlangs op Cloete se plaas aangemeld en geëis dat hy padgee. Steyn sê dit was net danksy ingryping deur die party dat die uitsetting gestuit is.

“Dit is nie duidelik wie die opdrag vir hierdie uitsetting gegee het of hoekom nie, veral omdat die Colenso-plaas nie gelys word onder die 700 000 ha-grondhervormingsprogram nie.”

Ingevolge hierdie program word die duisende hektaar staatsgrond vir landboudoeleindes beskikbaar gestel. Die departement het vroeër gesê die grond bestaan uit plase wat nie behoorlik benut word nie of braak lê.

Steyn sê verskeie produktiewe boere het die party egter reeds genader omdat die aankondiging nou gebruik word om boere te boelie om hul plase te ontruim. Die DA sê hy gaan aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee skryf om te vra vir duidelikheid oor alle grond wat tans aangedui word as dat dit beskikbaar is vir grondhervorming.

“Die DA het genoeg bewyse dat intimidasie en korrupsie plaasvind op grond wat tans gebruik word en buite die raamwerk van die 700 000 ha wat die minister aangekondig het, val.”

Die DA vra ook dat die komiteevoorsitter elke provinsie opdrag gee om die status van alle grond wat onder die departement se grondhervormingsplan val, bekend te maak.

“Ons moet weet watter bewoners of boere briewe of mondelings opdragte gekry het om hul grond te verlaat, wat die redes daarvoor is en op wie se opdrag dit gedoen word.”

Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê veral boere in die Oos-Kaap en Mpumalanga word geteiken, maar soortgelyke voorvalle is reeds in die meeste ander provinsies aangemeld. Hy sê in sommige gevalle is nuwe begunstigdes aangewys wat glad nie eens boer nie. In nog ʼn geval het ʼn nuwe begunstigde reeds vyf plase – en hy kry glo nou ʼn sesde.

De Jager sê een van die geraakte mense is ʼn suksesvolle melkboer in die voormalige Transkei wat melk aan talle nedersettings in die omgewing lewer. Die staat het hom verlede jaar van sy plaas afgeskop en sy beeste wei nou – weens ʼn gebrek aan grond – op die skouers langs paaie in die gebied. Hy melk die beeste by sy huis.

Nog ʼn suksesvolle beesboer wat reeds byna ʼn dekade lank op dieselfde grond boer en die verwagting gehad het dat die grond aan hom toegeken gaan word, is ook afgeskop.

“Ons sit met ʼn klomp mense in Mpumalanga wat nou ook skielik kennisgewings gekry het omdat hulle nie as begunstigdes gekwalifiseer het nie.”

De Jager sê daar word hard gewerk om te verseker dat boere soos dié uiteindelik titelaktes van die staat vir die grond kry.

Hy sê indien boere wel ʼn huurkontrak het, sukkel hulle om finansiering te kry omdat hulle nie sekuriteit het nie. “Hulle is uitgelewer vir mislukking.

“Dit gaan nie oor transformasie nie. Ons regering is nie ernstig daaroor om winsgewende swart boere te vestig nie.”

De Jager sê dié boere is gedoem om as huurderboere van die staat te werk. “Dit gaan oor die ideologie van staatsbeheer. Eintlik as die staat sy sin kon kry, sal hy alle grond onteien en dit in staatsbesit hou. Die herverdelingsproses is ʼn sagte vorm van nasionalisering: Grond word uit die private sektor gekoop en dan in die staat se hande gehou en uitverhuur.

“Mense bly dus afhanklik van die staat en kan maklik geboelie word.

“Vir kommersiële boere is dit deurslaggewend dat swart boere ook suksesvol boer. Ons het gedeelde belange, maar die staat weerhou hulle van daardie geleentheid.”

De Jager sê Saai en sommige van die geraakte boere vergader Woensdag met ʼn regsverteenwoordiger om die pad vorentoe te help uitpluis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

As ‘n WIT boer in 2921 in dié anti-wit SA nog steeds grond by die Staat van alle instansies huur, moet hy mos nou weet dis moeilikheid soek. Wit mense van SA, ek smeek julle, maak OOP julle oë en bly so ver moontlik weg vanaf enige “deals” met die staat. Vergeet van droogtehulp en wees eerder bly dat net BEE-besighede geldelike hulp vanaf die staat kry. Enige wit mense wat nou Staats “hulp” kry, se name is maar net môre oormôre bo aan die lys wanneer radikale onderdrukking van wit mense begin.

Anoniem ·

Die regering is lafaarts. Al hulle wette ens wys net hulle is onbevoeg om op n gelyke speelgrond te kan speel en mee te ding nou moet hulle maar wette instel om vir hulleself goue sterretjies te gee en te vat wat hulle nie toekom nie.

Ria ·

Die mentaliteit van sekere mense is skokkend. Hulle het nie die vermoë om die groter prentjie te sien nie. Dit gaan als net oor ras. Alles moet swart, bouvallig, onekonomies en in n staat van verval wees, want dit is hoe hulle lewe. Ons is nie meer die goue punt van Afrika nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.