Hervorming kan weer lewe in mynboubedryf blaas

mynboubedryf-02

Foto: Wilhei/Pixabay.com

Suid-Afrika se mynboubedryf kan weer floreer mits die berugte regulatoriese raamwerk vir die sektor hervorm word. Tegelykertyd sal daar ook verandering moet plaasvind op die terreine wat die ekostelsel van die mynboubedryf vorm soos elektrisiteitsvoorsiening, spoorwegnetwerke en selfs onderwys wat die kritiese vaardighede vir die bedryf moet verskaf.

Dit was van die bevindinge in die jongste @Liberty-verslag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIVR) wat die toekoms van die plaaslike bedryf onder die vergrootglas geplaas het.

“As mynbou nie meer die grondslag en ruggraat van die Suid-Afrikaanse ekonomie is nie, bly dit steeds minstens ʼn baie belangrike bydraer tot die land se vooruitsigte.

“Met ʼn multimiljoen rand se skatkis van minerale is daar die potensiaal – in teorie – vir ʼn oplewing in dié bedryf,” sê Terence Corrigan, projekbestuurder by die SAIVR en skrywer van dié verslag.

Corrigan meen as daar erns is met die uitbou van die mynboubedryf in die land sal dit aksie vereis op verskeie terreine wat binne die beheer is van die bedryf en die regering. Die soort hervorming wat hier moet plaasvind moet ook volgens hom op die volhoubaarheid van die bedryf fokus.

Die belang van die bedryf vir die nasionale ekonomie word onderstreep deur die feit dat mynbou-aktiwiteite die ekonomiese anker van vier provinsies in die land vorm. Mynbou dra tussen 20% en 30% by van die totale ekonomiese uitsette van die Noordwes, Noord-Kaap, Mpumalanga en Limpopo. Die mynboubedryf is selfs nog belangriker vir die ekonomieë van talle landelike dorpies in die provinsies.

Mynbou bly ook ʼn belangrike bron van belegging. Volgens die verslag het die Suid-Afrikaanse Reserwebank gesê die bruto vaste kapitaalvorming wat in mynbou en steengroewe verteenwoordig word, het in 2018 sowat R91,1 miljard beloop. Dit is gelykstaande aan sowat 10,3% van die totale ekonomie.

Daarbenewens vorm die uitvoer van minerale ʼn kwart van die Suid-Afrikaanse handelsware wat dit krities vir die lans se buitelandse valuta-verdienste en makro-ekonomiese gesondheid maak.

Ongeveer ʼn vyfde van alle buitelandse beleggings in Suid-Afrika is in die mynbedryf.

“Mynbou balanseer eintlik in ʼn sekere sin die land se boeke. Tog is die bedryf gespanne en alle aanduidings vir die toekoms is nie bemoedigend nie.

“Daar moet dringend aandag aan die regulatoriese struikelbokke in die mynboubedryf gegee word, maar dit is onwaarskynlik dat dit genoeg sal wees om vir ʼn herlewing in die bedryf te sorg,” sê Corrigan.

Luidens sy verslag het die talle breër bestuurs- en maatskaplike kwessies ook ʼn daadwerklike invloed op die bedryf en dit dra by tot die bedryfskoste van mynbou in die land, asook of mynboumaatskappy hulle bedrywighede hier sal wil kom vestig.

Corrigan sê verder indien daar nie aandag gegee word aan infrastruktuur in die land nie, kan dit die ommekeer in die bedryf voorkom en bydra tot ʼn afname in mynbou-aktiwiteite in die land.

Nog ʼn voorbeeld wat tans beleggers afskrik in die sake-omgewing is die regering se verbintenis tot ʼn onteieningsproses sonder vergoeding.

Corrigan wys daarop dat terwyl onteiening sonder vergoeding nie nou ʼn groot bekommernis vir die bedryf is nie, kan dit in die toekoms wel ʼn impak hê want ʼn depressiewe sakeklimaat sal beslis nie aantreklik vir enige belegging wees nie.

“In so ʼn depressiewe klimaat sal dit ook nog moeiliker wees om voordele uit enige mynboubeleggings te kry.

“ʼn Reusagtige verantwoordelikheid rus op die regering se skouers. Die regering moet verseker dat die verskillende elemente van die breër ekonomiese en maatskaplike ekostelsels wat dit moontlik maak vir sakeondernemings om te floreer minstens aan die minimumstandaarde voldoen.”

Corrigan sê dit behels uiteenlopende gebiede soos onderwys, gesondheidsorg, polisiëring, paaie, elektrisiteit en selfs watervoorsiening.

“ʼn Basiese vlak van funksionaliteit en bekwaamheid van die staat is soveel belangriker as daar in gedagte gehou word dat die Suid-Afrikaanse owerhede bewustelik probeer om hierdie verantwoordelikhede vir die staat te hou en dikwels agterdogtig oor insette van elders is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andreas ·

Hierdie verslag moet mens nou aan die president se ekonomiese A span kon gee.

schaun ·

Hulle moet diskriminerende wette skrap dan sal die myne ook beter funksioneer

George in Bloem ·

Met die unies stewig in die saal in vandag se ANC Suid Afrika droom hierdie ou van padda eiers wat pik. Mynbou in Suid Afrika gaan net een pad en dit is verder agteruit.

ne ·

Unies is SA se grootste probleem. Hier is soveel werkloosheid maar hulle wil meer geld he.
Pleks hulle dankbaar is vir ‘n werkie wat hulle nog het. Maar staak is belangriker as werk.

HP ·

Stem saam, unies en die mining chater maak dit moeilik vir die myne, en plaaslike besighede wat die take op myne reg kan doen.
Werker kom smeek vir werk, en sodra hul aangestel word, begin die slegwees en swak gedrag.

Eddi ·

Want herforming die afgelope 20+ jaar het sulke positiewe uitwerking op ons ekonomie gehad! Kyk net no leker lewe almal nou!

aj ·

Die kommunistiese werkersparadys …. van die ANC het aangebreek in die mynbedryf … nou is ALMAL gelyk …. m.a.w ewe armoedig!

Soos almal (wat iets weet) VOORSPEL het.

Die georganiseerde mynbedryf soos ons dit ken, is onredbaar op pad na selfvernietiging.

Vanweë die toksiese ANC werker unies wat alles vernietig, gaan geen regdenkende mynmaatskappy weer in myne belê nie.

Die buitelandse zama zama werkers (wat geen belasting, pensioen, medies ens. betaal) is ál wat gaan oorbly van die eens gesofistikeerde mynbedryf.

Dit is die ‘werkers se paradys’?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.