Herwinning van laaste liggaam by Tau Lekoa-myn duur voort

mynboubedryf-02

(Foto: Wilhei/Pixabay)

Reddingswerkers het Sondagoggend die liggaam van ʼn vierde werker wat ondergronds by Village Main Reef Ltd (VMR) se Tau Lekoa-myn vasgekeer was, bereik. Die myn is naby Orkney in Noordwes.

Die maatskappy sê die herwinningsoperasie om die man se liggaam na die oppervlak te bring is tans onderweg.

Maroela Media het vroeër berig vyf werkers is Vrydag vasgekeer ná ʼn rotsstorting sowat 1 350 m onder die oppervlak. Die rotsstortings het gevolg op twee seismiese voorvalle – een van 2,3 en een van 2,1 – Vrydagmiddag in die omgewing.

Een van die werkers is dieselfde dag nog gered en word in ʼn hospitaal behandel. Hy is in ʼn bestendige toestand, het VMR gesê.

Daar kon Vrydag nog met die vasgekeerde werkers gekommunikeer word, maar teen gister was daar geen reaksie meer nie.

Die myn het Saterdag gewaarsku dat die reddingsoperasie etlike dae kan duur, aangesien die rotse steeds ondergronds neergestort het. Die liggame van drie van die werkers is Saterdag omstreeks 19:00 egter wél gevind en na die oppervlak gebring.

Die slagoffers is geïdentifiseer as Xolani Meva (42), ʼn boorman van Elliotdale; Lungile Nyawose (32), ʼn boorman van Lusikisiki; Katleho Nthibane (47), ʼn spanleier wat van Bloemfontein afkomstig is; en Karabo Mabuthile (35), ʼn boorman van Fochville.

VMR se raad en bestuur het hul diepe medelye met die slagoffers se families, vriende en kollegas betuig.

Uitvoerende hoof Owen O’Brien het ook diegene bedank wat ná die rotsstorting by die operasie betrokke was, of steeds is. Dit sluit in werkers van die maatskappy, lede van die reddingspanne wat ontplooi is, vakbondverteenwoordigers, asook verteenwoordigers van die departement van minerale hulpbronne en energie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

Ongelooflik traumaties om meer as ‘n kilometer ondergronds vasgekeer te wees. Rus in vrede!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.