Hes-Marie se pa vang ʼn krokodil

Die krokodil (Foto: Verskaf)

Hendrik van Loggerenberg van Swartruggens in Noordwes het vandeesweek ’n krokodil in die omgewing van die Elandsrivier gevang waar ’n krokodil sy tienerdogter in Januarie aangeval het.

Dit gaan goed met die 15-jarige Hes-Marie ná haar noue ontkoming met ’n krokodil sowat ’n maand gelede. “My wonde het goed herstel en die steke is ’n week gelede al uitgehaal. Dit is nog so ʼn bietjie seer, maar dit raak al hoe beter,” vertel dié brawe tiener wat uit die kake van ’n krokodil gered is.

Volgens Hes-marie gaan sy nie meer na die water toe nie, aangesien daar ʼn hele spul krokodille in die rivier is. “Ek kon dood gewees het.”

Hendrik het Dinsdagoggend ’n krokodil van sowat 2,8 meter gevang deur die vorige dag lewer aan ’n hoek as lokaas uit te sit. Die dier is deur lede van die gemeenskap geskiet.

Luidens inligting is die nodige toestemming uitgereik om die dier van kant te maak.

“Die krokodille hou ’n bedreiging in,” sê Hendrik. “Baie mense van die informele nedersetting in die omgewing moet elke dag met ’n paadjie al langs die rivier stap.”

Maroela Media het vroeër berig Hes-Marie het verlede maand saam met haar vriende in die swemgat in die Elandsrivier, wat digby hul huis verbyloop, gaan swem. Sy het op ’n klip by die rivier gesit toe sy skielik iets in die water sien.

’n Krokodil het onverwags Hes-Marie se linkerbeen gegryp en haar in die water probeer intrek. Sy het gespartel om los te kom waarna ’n werker van haar grootouers gesien het wat gebeur en na die rivier toe gehardloop het.

Hes-Marie van Loggerenberg (Foto: Verskaf)

Hy het vir Hes-Marie gesê om die krokodil te skop. Die krokodil het sy bek oopgemaak en Hes-Marie het na die stok gegryp wat die werker vir haar uitgehou het. Die krokodil het glo ’n tweede keer in die rigting van Hes-Marie gehap, maar die werker kon daarin slaag om haar betyds uit die rivier te trek.

Volgens Hendrik is krokodille ’n groot probleem in die gebied nadat ʼn hele spul krokodille van ongeveer ʼn paar jaar oud, onverklaarbaar in die rivier beland het. Daar word vermoed dat hulle van ’n krokodilplaas afkomstig is wat jare gelede al tot niet is.

Hendrik skat daar is tans soveel as 160 krokodille in die rivier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Susan ·

Was dit nou nodig om di arme krok te skiet jys mos in sy gebied en gaan hulle nou 160 krokkedille doodmaak mense!!

Plaaskind ·

Dis waar, mens is nie onsensitief nie, maar hoekom na die rivier gaan waar 160 krokkedille woon en hulle dan wil doodmaak as jy gehap word?

Mia ·

Dit is vir my baie sleg dat ons elke dier wil doodmaak as hulle mense aanval, maar ons vergeet dat ons in hulle natuur beweeg. Een van die dae gaan hulle seker al die haaie in die see wil doodmaak omdat hulle ook mense byt. Die liewe Vader het hulle hier op aarde geplaas en ons moet na hulle kyk nie kyk hoe baie ons van ‘n spesie kan uitwes nie. Hoekom nie dan ‘n krokedil plaas bel om hulle te gaan verwyder en na ‘n plek van veiligheid te vat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.