Het dié ‘vleisverkoper’ jou ingedoen?

André Lamprecht. Foto: Verskaf

André Lamprecht. Foto: Verskaf

Die Vrystaatse polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om na vore te kom as hulle moontlik die slagoffer was van ʼn swendelaar wat hom onder meer as ʼn vleisverkoper voorgedoen het.

Sers. Thabo Litabe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die verdagte, André Lambrecht (44), is in aanhouding nadat hy op 6 Oktober in Parys in hegtenis geneem is op verskeie aanklagte van diefstal en bedrog.

Hy het na bewering slagoffers, van onder meer Bloemfontein, Parys en Phalaborwa, op verskeie maniere ingedoen en van duisende rande ontneem.

“Lambrecht is op 20 November 2015 op parool vrygelaat nadat hy tronkstraf vir bedrog uitgedien het. Hy het sedertdien glo verskeie mense met kamma vleistransaksies ingedoen,” het Litabe gesê. “In van die gevalle het hy beweer hy verkoop vleis en is die eienaar van 1 600 beeste om sy storie meer geloofwaardig te maak en die slagoffers se aandag te trek om vleis by hom te koop. Hy verdwyn dan met hul geld sonder om die vleis af te lewer.”

Litabe het gesê Lambrecht het glo ook slagoffers met kamma reise ingedoen.

Volgens Litabe is drie amptelike aanklagte reeds teen Lambrecht aanhangig gemaak sedert hy in November op parool vrygelaat is, maar die polisie vermoed daar is nóg slagoffers wat nooit hul sake aangemeld het nie. “Hoewel daar reeds sake hangend is teen die verdagte, het ons inligting van meer slagoffers nodig om die saak teen hom te versterk.”

Litabe het gesê Lambrecht het van sy transaksies onder verskillende name, waar onder André, Andrew, Andrie, Charlie en Lappies, gedoen saam met vanne soos Lambrecht, Lampreched, Lamprecht en Lanpeched.

Die polisie het ʼn beroep op enigiemand gedoen wat moontlik deur hom ingedoen is om ao. Karin Jacobs by 051 412 6707 of 072 241 7224 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Magda ·

Mense het seker nog nooit gehoor van ” kontant by aflewering “? Regtig baie dom mense daar buite!

Perdekrag ·

Leer mense dan nooit, betaal vir die vleis en kry dit nie, ai ai na my insiens bestaan daar nog steeds die k.b.a metode (kontant by aflewering} dus gee eers my vleis en dan betaal ek jou.

charmaine ·

Lekker lag ek nou, waar kom hy aan die vreemde vanne?hahaha, uit beesmis gegrawe. Kon hy nie maar regte boere vanne gebruik het nie? Klink of hy n skelm boer is met Franse vanne(haha) die mensdom!!

Anoniem ·

Ja nee kyk…mense in Suid Afrika het baie geld om sommer net so weg te gee. Hul maak nie eers seker van die waardigheid hiervan nie. Kry dan maar vir jou!!!!!!

Kapenaar ·

Dit is nou entrepeneurskap! Want wragtig, as daar sulke dom mense is wat vandag nog enige iets glo, en vleis by ‘n vreemde persoon betaal nog voor hy iets gesien het, moet maar gevang word…. ai,ai!!

Mauritz ·

Ek het lankal nie meer simpatie met mense wat deur bedrieërs ingeloop word nie. Net hulle eie onnoselheid of gierigheid of albei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.