Het Obama dit maklik gemaak vir Trump?

Donald Trump

President Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Die moontlikheid dat oudpres. Barack Obama van die VSA dit bewustelik maklik gemaak het vir sy opvolger, pres. Donald Trump, om die Amerikaanse kernkragooreenkoms met Iran te verbreek, is gister op ʼn politieke wetenskap- kollokwium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria geopper.

Die ouddiplomaat en voormalige SAUK-hoof, Riaan Eksteen, wat pas sy doktorale proefskrif by die Universiteit van Johannesburg ingehandig het, het tydens die kollokwium in ʼn lesing oor die impak van regspraak op Amerikaanse buitelandse beleid daarop gewys dat die hoogste Amerikaanse hooggeregshof reeds sedert die dae van pres. Harry Truman dit duidelik gemaak het dat die Amerikaanse kongres internasionale ooreenkomste met ʼn drempelmeerderheid van twee derdes moet goedkeur voordat dit van krag word.

Eksteen het daarop gewys dat Obama voor sy politieke loopbaan ʼn dosent in konstitusionele reg was, en dat dit absoluut onmoontlik is dat hy onbewus kon wees van dié vereiste – dat hy onbewus kon wees daarvan dat die ooreenkoms tussen die VSA en Iran nooit behoorlik aangegaan is nie.

Deur die feit dat Obama die ooreenkoms bloot persoonlik aangegaan het, kon sy opvolger, Trump, dit weer persoonlik verbreek. Aangesien die senaat nooit in die saak geken is nie, was raadpleging van die senaat oorbodig.

Op ʼn vraag van Maroela Media of dit dan net ʼn jakkalsdraai van Obama was, het Eksteen hom nie direk uitgelaat nie, maar nietemin aangedui dat die ander partye tot die ooreenkoms, soos Frankryk en Duitsland, nie dieselfde streng wigte en teenwigte vir sulke ooreenkomste het nie, en dat die VSA dalk nie as vertragende remskoen gesien wou word nie.

“Dit is baie moontlik dat sy raadgewers aan hom kon sê: ‘Meneer die president, ons het nie 66 stemme in die senaat nie,’ en dat hy toe kon reken ‘Wie sou my tog in hierdie handeling wou teengaan.’ Maar toe kom Trump,” het Eksteen gesê.

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, tydens ʼn militêre optog in Pyongyang, Noord-Korea (15 April 2017). Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File

Intussen meen Eben Coetzee, dosent in politieke studie en regeerkunde aan die UV, dat kernwapens nie veel aanvallende nut het nie, maar dit het groot nut as verdedigende maatreël want dit skrik selfs “waansinnige en mal leiers” af.

Coetzee het tydens die kollokwium gesê selfs “mal leiers” soos Trump van die VSA of Kim Jong-un van Noord-Korea is te versigtig om mekaar aan te val omdat albei oor kernarsenale beskik.

Volgens Coetzee moet mense maar nie te veel vertroue plaas op die huidige vredesproses tussen Noord-Korea en Suid-Korea nie, want dit is waarskynlik ʼn Noord-Koreaanse slenter.

“Noord-Korea wil befondsing hê, nie vrede nie,” het Coetzee gesê.

Hy het begrip uitgespreek vir Noord-Korea se kommer jeens Amerikaanse aggressie omdat die VSA sedert die val van kommunisme ongeveer elke vier jaar by ʼn offensiewe oorlog betrokke raak. Coetzee het uitgewys dat pres. George W Bush in sy berugte “as van boosheid”-toespraak spesifiek vir Irak, Iran en Noord-Korea uitgesonder het, en aan Iran en Noord-Korea gesê het: “Julle is volgende.”

Volgens Coetzee is kernwapens as afskrikmiddel waarskynlik die enigste rede waarom Noord-Korea nog nie die volgende land geword het wat deur die VSA aangeval is nie. Daarom dra Trump se “my knop is groter as joune”-dreigemente ook nie veel gewig nie.

Coetzee het gesê sedert die Kubaanse misielkrisis in 1961 is die les van kernwapens se afskrikwaarde netjies geleer deur lande soos Noord-Korea: Liggewigte kan swaargewigte daarmee op hul plek hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Padda ·

‘n Waardevolle- en insiggewende bydrae. Hoop Cyril neem kennis.

Judge Dredd ·

Obama het dit nie maklik gemaak nie, hy kon dit net nie moeilik maak nie – want hy het nooit twee derdes meerderheid steun van kongres gehad nie.

Gerhard ·

Altyd interessant hoe sommige skrywers so iets aanbied al weet ons almal dit moet eerder iets lees soos: Nog iets wat Obama half gedoen het.

Gert ·

Dis net opinies, ek weet, maar tog absolute snert! As ons net vir nou die skade wat Obama binne die grense van die VSA vermy, en vra wat het hy op die wêreld vlak bereik, wat goed (en veilig) was? Niks. Obama het die wêreld ‘n baie gevaarliker plek gemaak.
Die Iran ooreenkoms, deur Obama, sou toelaat dat die risiko wat die wêreld onlangs met Kim beleef het, verveelvoudig erger sou gewees het met Iran in die toekoms, groot groot moeilikheid, vir die hele aarde. Met Trump se leierskap, wil Kim nou gesels (gyselaars ook vry gelaat), Iran se wrede toekoms risiko sal eindig voor dit ‘n realiteit word, China gaan leer om eerliker te handel, Assad gedra homself baie beter, en hoor julle iets van Putin? Nee, hy gedra homself ook veel beter. Putin is ‘n intelegente man, en terwyl hy giggelend sirkeltjies om Obama gehol het, besef hy dat ‘n goeie verhouding met die VSA nou van belang is. Trump is besig om die oorspronklike, eerbare en kragtige VSA terug te bring, tot voordeel en veiligheid van Amerikaners, en tot voordeel en veiligheid van almal op aarde.

JC ·

Die Eben Coetzee se kwalik bedekte beledigings teenoor die beste president wat die VSA nog ooit gehad het, is gebaseer op ongefundeerde spekulasie en onkunde.

Dat ‘n “dosent” dit kan kwytraak; EN BASIES IN DIE PROSES MAAR NET WEEREENS DIE NOU-VERVELIGE RELAAS VAN DIE FOPNUUS MEDIA EN AKADEMIESE ESTABLISHMENT KAN KWYTRAAK, EN NOG AANGEHAAL OOK KAN WORD- GAAN MY VERSTAND WERKLIK TE BOWE, EN VERTEL BAIE V/D STANDAARDE WAT DEESDAE GELD BY DIE “UFS”. IN DIE VSA KOM “GEREKENDE KENNERS” =LOL- LANKAL NIE MEER WEG MET LEUENS EN BELEDIGENDE OPINIES SOOS SYNE NIE, HIER EGTER, MOET DINGE NOG VERANDER, EN VINNIG OOK !!!

Gerhard ·

Daar word baie gemaak van hoe Noord-Korea se kernwapens dit onaantasbaar maak. Kernwapens maak jou nie immuun teen sanksies nie, inteendeel Noord-Korea doen die VSA ‘n guns met sy kernwapen program. Noord-Korea is op sy knieë en die geveg is Trump sin om te verloor. Ons sal seker eers oor weke of selfs maande weet of Trump slimmer is as Kim Jong-un of nie. Tog sou ek politieke ontleders aanraai om nie Trump as ‘n idioot uit te maak nie, jy kan dalk net ‘n krater van jouself maak.

JC ·

Aan die “gerekende” establishment akademikuste en -persoonlikhede wat die kollokwium bygewoon het wil ek net se: -propaganda-, -ongeregverdigde verdagmakery- en -napraat van die media establishment se haatgefundeerde leuens- werk nie meer nie, ons oe is ook nou oop.
Dankie die Here vir President Trump!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.