Het uitsaaiers ʼn morele verpligting teenoor akteurs?

slim-tv-slimtoestelle

Foto: Julian O’hayon/Unsplash.com

Hoewel uitsaai-ondernemings soos MultiChoice nie wetlik verplig word om tans aan akteurs wat op dié kanale verskyn tantieme en herhalingsfooie te betaal nie, het die ondernemings dalk tog ʼn morele verpligting om na te kom.

Só sê Veronica van Dyk, die DA se skaduminister van sport, kuns en kultuur, wat haar tans beywer vir die regte van akteurs in Suid-Afrika en “hard aan die werk is” om te verseker dat die nuwe wetsontwerp vir die Wet op die Beskerming van Kunstenaars van 1967 aan beter vergoeding vir akteurs voldoen.

Die SAUK en e.tv se standaard-akteurskontrakte maak voorsiening vir die betaling van herhalings en kommersiële ontginnings, soos wat onlangs in die hofstryd tussen die SAUK en die Suid-Afrikaanse akteursgilde (Saga) aan die lig gekom het.

Ingevolge hul kontrakte moet hoofspelers in ʼn produksie 25% van hul oorspronklike betaling ontvang as ʼn herhaling van ʼn program in spitstyd uitgesaai word. Wanneer ʼn herhaling nie in spitstyd uitgesaai word nie, kry die akteurs 15% van die oorspronklike vergoeding.

Van Dyk het aangevoer dat kanale in die MultiChoice-stal soos M-Net en kykNET se kontrakte egter nie die klousule bevat nie. MultiChoice voer aan dat die vergoeding wat hy aan akteurs betaal voldoende is, ook vir toekomstige herhalings en kommersiële ontginnings van ʼn televisiereeks.

Kommersiële ontginnings of benutting is wanneer ʼn uitsaaier, byvoorbeeld die SAUK, ʼn drama bemark en lisensieer aan ander stasies, asook enige ander aktiwiteite wat dit aangaan om geld uit die produksie te maak, hetsy T-hemde wat gedruk word, koffiebekers, plakkers, plakkate, DVD’s, en so meer. “Die uitsaaier gebruik die werkvertakkings om bykomende geld in te kry, sonder enige vergoeding aan die kunstenaars,” sê Van Dyk.

In antwoord op navrae van Maroela Media het Jabavu Heshu, MultiChoice se hoof van korporatiewe sake, gesê die kanale wat deur dié groep besit word, verkry inhoud deur kontrakte met onafhanklike vervaardigingsmaatskappye aan te gaan.

Dié vervaardigingsmaatskappye gaan op hul beurt dan ʼn kontrak met akteurs aan en die akteurs word deur die maatskappye betaal. “Die kontrak tussen die maatskappy en ʼn akteur is gegrond op ʼn model wat gereeld op internasionale vlakke gebruik word. Akteurs word dan ʼn inklusiewe bedrag vooraf betaal vir die werk wat hulle vir ʼn spesifieke vervaardiging doen.

“Die uitsaaier, wat dan die uitsaairegte het, kan besluit wanneer, hoeveel keer en hoe die spesifieke program uitgesaai kan word,” het Heshu gesê.

Van Dyk sê die striemende ope brief wat aktrise Vatiswa Ndara onlangs aan Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, gestuur het, het opnuut ʼn soeklig op die beweerde misbruik van akteurs in Suid-Afrika gewerp. Ndara, wat namens Ferguson Films gekontrakteer is vir verskeie projekte wat op MultiChoice-kanale uitgesaai is, het aangevoer die meeste Suid-Afrikaanse akteurs ontvang nie genoeg geld vir die werk wat hulle doen nie.

Sy het verder gesê vervaardigingsmaatskappye, soos Ferguson Films, ontvang meer geld uit die toekomstige heruitsendings van televisieprogramme en die tantieme wat die maatskappye van die uitsaaiers hiervoor kry asook die geld word nie altyd weer aan akteurs uitbetaal nie.

Van Dyk sê egter dat daar groot onkunde heers in die vermaaklikheidsbedryf oor watter regte wie het. “Akteurs het nie kopiereg op hul optredes in televisieprogramme nie. Die kopiereg behoort aan die opdraggewende vervaardigers soos SAUK, M-Net en kykNET wat die program van stapel stuur en finansier.

“Akteurs is ook dikwels onder die indruk dat hulle permanente werknemers van ʼn vervaardigingsmaatskappy is en dus al die byvoordele geniet wat ʼn werker in die formele bedryf het.”

Die meeste akteurs is egter op ʼn kontrakbasis aangestel en kry dus nie dieselfde dekking wat die arbeidswet aan formele werknemers gee nie. “Akteurs moet aan hulself dink as entrepreneurs en dus voortdurend na nuwe kontrakte soek om hul inkomste aan te vul.”

Van Dyk sê verder sy kan verstaan hoekom Ndara die brief geskryf het. Herhalings- en kommersiële ontginningsfooie hou akteurs aan die lewe terwyl hulle wag op ʼn volgende rol. “As vryskutters is daar egter niks wat hulle aan die situasie kan doen nie behalwe om te weier om vir M-Net en kykNET te speel. Dis egter nie altyd moontlik nie – hulle moet kos op die tafel sit.”

Dit is hier waar Van Dyk die morele verpligting teenoor akteurs in twyfel trek.

Nuwe wetgewing

Argieffoto (Foto: HolgersFotografie, Pixabay)

“Toe die oorspronklike wetgewing in Suid-Afrika ingestel is, het TV-stelle nog nie eens bestaan nie. Dus is die verouderde wet nie van toepassing op die dilemma wat akteurs vandag moet aandurf nie.”

Die wetgewing stipuleer dat tantieme vir heruitsendings aan ʼn vervaardiger van ʼn reeks betaal word, en dan daarna aan akteurs oorbetaal word. Daar is tydens die onlangse Saga-hofstryd gevra dat die tantieme direk in ʼn akteur se rekening betaal word, eerder as wat die akteur daarna moet vra.

“Hopelik sal die wetgewing wat tans voor die parlement dien, vervaardigers ook dwing om sekere minimum voorwaardes aangaande herhalings en kommersiële ontginnings in hul kontrakte met akteurs in te sluit. Tot tyd en wyl dit gebeur, moet vervaardigershuise miskien nadink of dit moreel geregverdig is om nie van hul wins met akteurs te deel nie. Dit klink tog na die regte ding om te doen?

“Mense mag dalk sê dat dit onbenullighede is, maar akteurs het ʼn rol wat hulle in die samelewing speel. Elke mens het ontvlugting nodig, elke mens het ʼn vorm van vermaak nodig en dit is wat hierdie mense bied. Die vermaakbedryf in Suid-Afrika, en dus akteurs, speel ook ʼn belangrike finansiële rol in die fiskus.”

Van Dyk sê daarom is dit “absoluut noodsaaklik” dat toekomstige wetgewing voorsiening maak dat akteurs vergoed word vir die voortgesette gebruik van hul beeldmateriaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Petro ·

Dit gaan Multichoice miljoene kos want hulle saai alles 20 keer uit…

Maak die somme ·

Nee… dit kos hul juis minder omdat die fooie vir herhalings minder is as vir nuwe produksies….

Ek betaal iemand veel erder net 15%…

ZeldA ·

Ek moet my lisensie betaal of ek nou herhalings moet kyk oor en oor of nie. Hul kan seker maar betaal word dan.

Lizz Meiring ·

Die kwessie us nie net die geld nir – dis meer. Wanneer ‘n kanaal ‘n reeks verskeie kere heruitsaai , verskyn daai akteur se gesig te veel op die kassie, radio op Catchup, Showmax, nog tot onlangs DVD verkope. Die kanale het reeds hul befondsing herwin met advertensie verkope tydens die eerste uitsending van die reeks. Hoer is die tweede kwessie : as ‘n aktwur “ overexposed is agv die voortdurende heruitsendings, besluit die kanaal en vervaardigers dat dié akteur nie in ‘n volgende reeks of produksie mag speel nie agv “ overexposure “. Nou wie het die akteur “ overexpose”? En nou nog verdere werk van die akteur weggeneem. Ek is bevrees Multi Choice praat nonsens : Suid Afrika het as my feite korrek is , 16 jaar gelede saam met 46 ander lande die Bern konvensie onderteken wat basies daarop neerkom , dat SA konstitiioneel Internasionale Kopiereg maatreëls ondersteun. In elke ander land ter wêreld, word “ residuals “ ( die genoemde persentasies met heruitsendings en verkope) wel betaal. Vroeer vanjaar, na bykans tien jaar se baklei is die PPAB ( Performers Protection Amendment Bill ) deur ons parlement aanvaar. President Ramaphosa moet dit net nog teken, dan word dit natuurlik wettiglik toepasbaar. Maar hy sloer . Ten spyte van daaglikse vertoë. Ons wonder hoekom. Dreigemente? Afkopery? Manipulasie vanuit die geledere van kanale, vervaardigers ? Ons weet nie.

Lizz Meiring ·

Apologie vir my liederlike tikfoute ! Was te ydel om my bril op te sit toe ek haastig getik het!

Leon ·

Multichoice is skelm. Hulle sal seker maak hulle hoef nie betaal nie. Regte geldwolwe. Voel niks vir die akteurs of kykers nie. Multichoice is gegrond op die Amerikaanse model wat vir jou sê wat jy wil sien en waarvan jy hou en waarna jy moet kyk. Jy tel nie, hulle tel.

SjN ·

As hul heruitsending wys en Steve is betrokke in die materiaal kan hy hul dan dagvaar indien die pres dit geteken het, go Steve go

Marius Meyer ·

‘n Akteur is soos ‘n skildery wat in waarde groei elke keer wanneer dit verkoop word – net jammer dis nie van toepassing op kunstenaars in Suid Afrika nie. Dis veblydend om te sien Veronica van Dyk voel so sterk oor ons akteurs. Die hoop beskaam nie – mag wetgewing so gou moontlik deurgevoer word – te veel akteurs leef in armoede wanneer hul oud word, en dit nadat hulle ons soveel genot verskaf het al die jare.

Petrus ·

Gee akteurs war hul toekom.
Wat herhalings betref – Kyknet ingesluit herhaal goed tot naarwordings toe.
Dan die drek wat nou alle gleuwe vul – Kyknet – wie besluit oor inhoud.
Julle skaats op dun ys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.