Hettema-familie deur nog ʼn dood geruk

Harry Hettema saam met een van sy dogters. Foto: Verskaf

Die Hettema-familie is twee jaar gelede geruk deur die moord op die bekende oud-Springbok-fietsryer en tydrenjaer, Jan Hettema (82), en moet nou ook die dood van sy broer verwerk.

Harry Hettema (74) is verlede week in Middelburg in Mpumalanga oorlede. Hy was die oom van die bekende Suid-Afrikaanse sangeres Helena Hettema.

Haar pa Jan is Junie 2016 op ʼn kleinhoewe buite Pretoria doodgeskiet.

Jacques Hettema, Harry se seun, het aan Maroela Media gesê sy pa het nie baie oor die dood van sy broer, Jan, gepraat nie, maar dat dit hom erg geraak het. “Hulle was net die twee broers wat oor was nadat hul suster ʼn paar jaar gelede oorlede is.”

“My pa en oom was albei baie sportief gewees. My pa het ook rugby gespeel en hy was ook mal oor gholf, tennis, muurbal en eintlik enige sportsoort. Hulle was groot sportsmense.”

Volgens Hettema was die twee broers baie kompeterend. “Hulle was ook net so lief vir mekaar gewees.”

Hettema het gesê daar is ʼn duisend goed wat hy van sy pa sal onthou, maar dat sy liefde vir musiek en sport hom veral vir altyd sal bybly.

“Hy was mal oor musiek. Hy sou vir ure sit en luister. Ná sy aftrede het hy ook baie sport gekyk. Hy het ʼn algemene kennis gehad wat jy nie kon glo nie. Hy was baie geliefd in die gemeenskap en vir sy gewilligheid om altyd ander te help.”

Hettema laat benewens sy seun ook twee dogters en twee kleinkinders agter. Hy is Sondag begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elsa ·

As ek na die ouderdomme van die Oorledene kyk, is ek seker hul het n goeie vol lewe gehad. Mooi herhinneringe kan niemand wegneem.

nannie ·

@koos dan is jy seker baie jonk of jy het nie in die 80 of 90’s motorwedrenne gekyk nie.

Nico Brugman ·

Jammer om te hoor van jou Harry.In die 50 jare was ons saam in Middelburg in die koshuis.Jou suster was ook daar.Het jou Pa en Ma ook geken .Het toe in Witbank gebly waar jou Pa die roomys fabriek gehad het. Weet ook waar jou Ma begrawe is op die plaas waar die Duvekotte gebly het. Plaas se naam was Blauwpoort. Ek het toe daar gebly toe ek op Suikerboskop in die skool was.Sterkte vir jou familie al ken julle my nie.Het ook vir Jan geken.Verskriklik van die moord op hom.

Peanut ·

Te oordeel aan die ouderdomme is dit n verwagte uitkoms, baie tyd vir geestelike voorbereiding, geen nodigheid vir ‘beproewing’.
Ons word gebore om te kan sterf. . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.