Heunis-hoewemoord: ‘Dit het soos ʼn swaard oor my kop gehang’

Mariandra en Johann Heunis. Foto: Verskaf

“Ek kan niks doen om te verander wat gebeur het nie, maar ek voel verlig dat geregtigheid sy gang gegaan het.”

Só sê Mariandra Heunis nadat Justice Sethlangu (39) Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind is aan die moord op haar man, Johann Heunis, meer as drie en half jaar gelede in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria.

Volgens Mariandra kan hulle nou uiteindelik dié nare hoofstuk afsluit. “Hierdie saak het soos ’n swaard oor my kop gehang,” vertel sy.

Sethlangu is skuldig bevind op aanklagte van moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Hy is ook op drie aanklagte van huisbraak met die bedoeling om te roof skuldig bevind waarin hy glo betrokke was by drie huisinbrake, insluitend by die Heunis-gesin.

Sethlangu en sy handlanger het op 1 Oktober 2016 Johann voor sy swanger vrou en oudste dogter, Mieke, in hul huis op die Leeufontein-kleinhoewes in Kameeldrift, noordoos van die stad, doodgeskiet. Johann is ses keer geskiet. Hy was met die laaste skoot in die kop geskiet. Sy vrou en hulle drie dogtertjies het die aanval oorleef.

Mariandra het Sethlangu in 2017 tydens ’n uitkenningsparade uitgewys as een van die mans wat verantwoordelik was vir haar man se dood.

Mariandra het in die hof getuig dat dit nie Sethlangu was wat die sneller getrek het nie, maar dat dit hy was wat die opdrag gegee het. Hý het gesê: “Ah, just kill him, brother”, net voor die skoot geklap het en Johann voor Mariandra se oë gesterf het. Sethlangu se handlanger is nooit vasgetrek nie.

Sethlangu het Dinsdag egter volgehou dat hy onskuldig is.

Mariandra het in Junie 2017 in ʼn roerende brief van die traumatiese gebeure van daardie aand vertel. Sy het vertel hoe twee aanvallers haar, Johann en hul dogter, Mieke, in die woonkamer voor die televisie oorval het. Hoe Johann, selfs nadat hy die eerste keer geskiet is, gepleit het vir sy gesin se lewens.

Die Heunis-egpaar se seuntjie is vyf dae ná Johann se begrafnis, op Mariandra se verjaardag, gebore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

antieke antie ·

hopelik kom hy nooit los nie….o ja skies dis afrika demokratiese SA….

Pieter J ·

Ek voel die polisie moet met hom bemoeienis maak totdat hy sê wie nog betrokke was. As hulle nie weet hoe nie is ek bereid om hulle raad te gee.

Feetjiemens ·

Klink of die regte moordenaar steeds op vrye voet is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.