Hewige donderstorms op pad

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku teen erge donderstorms en swaar reën wat Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga Woensdag gaan tref. ʼn Hewige kouefront word ook vir die Wes- en Noord-Kaap verwag wat met reën en koue gepaardgaan.

Volgens die weerdiens verwag hulle dat die donderstorms en swaar reënbuie Gauteng, die westelike bosveld van Limpopo, die westelike hoëveld van Mpumalanga en die noordoostelike dele van Noordwes teen vanmiddag gaan tref. Swaar reën word ook vir die noordoostelike gebiede van die Vrystaat voorspel.

Reën in dié provinsies word vir tot die naweek nog voorspel.

Die Stad Johannesburg se rampbestuursentrum waarsku teen die hewige donderstorms en swaar reën wat kitsvloede in laagliggende gebiede kan veroorsaak en stormsterk winde wat skade aan informele nedersettings kan aanrig.

“Motoriste moet ook veral paraat wees op die pad omdat sigbaarheid swak gaan wees.”

Die rampbestuursentrum waarsku inwoners om tydens die donderstorms sover moontlik binnenshuis te bly of skuiling te soek.

“Wees op die uitkyk vir bome wat kan omval en vermy oop en geïsoleerde ruimtes. Motoriste en voetgangers moet ook nie probeer om oorstroomde laagliggende brûe oor te steek nie.”

Die kouefront wat Dinsdag die suidweskus getref het, gaan teen vandag die Wes-Kaap en die suidelike dele van die Noord-Kaap bereik wat koue weerstoestande tot gevolg sal hê. Reën word ook vir later vandag vir die suidwestelike dele van die Wes-Kaap voorspel. Moontlike vloede kan die aand in die Overberg- en Tuinroete-gebied voorkom.

Reën word ook vir die kusgebiede van die Oos-Kaap voorspel.

Die weerdiens waarsku teen sterk winde wat in die oostelike binneland van die Oos-Kaap gaan woed en skade kan aanrig.

Daar is steeds ’n moontlikheid van sneeu oor die hoogliggende gebiede van die Oos- en Wes-Kaap.

Weens die kouefront gaan die res van die land se temperature van Woensdag af begin daal, maar teen Sondag weer normaal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sylvia ·

Hoop regtig die voorspelling vir die Kaap en omgewing is hierdie keer verkeerd, ons het nogal heelwat stormagtige weer al beleef en soek nou bietjie kalmte en son

Kadotjie ·

Ons het soveel as moontlik reën nodig om die WesKaap se damme verder op te vul vir die warm Somer wat voorlê.

Piet ·

Eks so bang die donderbuie begin tornados gooi soos in KZN laas jaar. Drie in een maand! As hulle in die stad in die aand (wanneer baie donderstorms verby kom) gaan niemand dit hoor of sien kom nie. Die klimaat is nie meer aan ons kant nie

Helen ·

Daai tornado’s was maar net ons 4 jaarlikse deel wat ons kry. Enigste verskil dit was nie in Noord Natal nie.

Raakvatter ·

Sien uit na die somer agtermiddag donderstoms in die hoëveld. Hoera!! Ek het die weer dop gehou en aspris nie my swembad opgetop nie. Kom groot reën!! En bly veilig almal!

Ilze ·

Limpopo is kurk droog. Die opgaar damme is leeg. Ons sal baie reen waardeer en baie dankbaar wees.

LD ·

Ons hier in Potgietersrus Limpopo het goeie reën gekry! Ons plaas dam is al die afgelope 5jaar kurk droog en bid hard dat dit die jaar goed sal reën en alle damme weer sal vol maak! Elke druppel help ook vir die droë bosveld, ons kla nie al is dit net 3 druppels wat val! Dankie Vader vir die wondelike reën!

Snowball ·

Kan nie wag vir ‘n behoorlike Hoëveldse donderstorm nie. Dalk spoel die reën helfte van die rook, roet en besoedeling hier in Gauteng genadiglik weg.

Pietertjie ·

Op watter pad? Moet dit nie “oppad” lees nie? Ek probeer maar net my taal red…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.