Hewitt hoor eers dán sy lot

Bob Hewitt Vrydag in die hof.

Bob Hewitt Vrydag in die hof.

Die vonnisoplegging van die voormalige tenniswêreldkampioen Bob Hewitt (75), wat aan verkragting en onsedelike aanranding skuldig bevind is, is Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria uitgestel.

Regter Bert Bam het die saak tot 18 Mei uitgestel nadat Hewitt se prokureurs ʼn versoek ingedien het.

Hewitt se verteenwoordiger het gesê hulle wag op ʼn verslag van ʼn kriminoloog wat hulle ter versagting van vonnis wil voorlê.

Die regter het Hewitt se R10 000 borgtog voor ʼn volgepakte hof verleng. Verskeie menseregte-aktiviste was ook by die hof, wat aandring op gevangenisstraf vir Hewitt.

Hewitt is skuldig bevind dat hy twee meisies wat by hom tennislesse geneem het in die tagtigerjare verkrag en ʼn ander seksueel aangerand het. Hy het skuld op die aanklagte ontken.

Ná ʼn verhoor wat ʼn hele paar weke geduur het, het Bam hom skuldig bevind op al drie aanklagte. Hewitt is in Maart op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Bam het in sy uitspraak gesê dat Hewitt die meisies gemanipuleer het om hulle onder sy invloed te kry. Nadat hy hulle voorberei en hulle op hom verlief geraak het, het Hewitt met hulle omgang gehad sonder hul uitdruklike toestemming. “Die beskuldigde het die kinders se vertroue in hom misbruik,” het Bam gesê.

Volgens Bam is dit jammer dat misdade van dié aard eers jare nadat dit plaasgevind het, aan die lig kom.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHRISTA ·

Hoekom wag mense 30 JAAR na ‘n misdaad, voordat hulle dit aanmeld? Ek is seker ons polisie was toe baie meer OP EN WAKKER as nou!!!

Malinda ·

Baie mense vra waarom hulle so lank gevat het om aan te meld. 30 jaar. hoekom nie dadelik toe hul jonk was en vard in die geheue is nie?

Tammy ·

Hulle wag so lank omdat dit n vreeslike vernedering is. Hulle is skaam en voel misbruik. Jare gelede sou so n gesiene persoon niks oorgekom het nie, want hy was beroemd en ryk. Vandag is dit anders as 30 jaar gelede. Ek vra die regter uit my hart om hom die res van sy lewe in die tronk te laat verrot. Dit moet ander soos hy afskrik en laat afsien van sulke gruweldade. Asseblief ons soek geregtigheid.

Asjas ·

Daardie jare was sulke goed nie oor gepraat nie, dis onder die mat in gevee en gewoonlik het die kind sommer nog pakslae gekry omdat hulle stront praat. Kinders was gesien en nie gehoor nie. Te danke aan daardie ouers het ons ‘n ander gesindheid teenoor ons eie kinders, ons luister wanneer hulle praat! En daar is ook ander mense en organisies met wie jy kan gaan praat as jou ouers nie wil luister nie. Dinge het baie verander, dit het 30 jaar gevat. Dan is daar nog die stigma, oningeligte mense glo dat as jy as kind gemollesteer of mishandel was dat jy as ouer dit automaties ook aan jou kinders gaan doen en dit is NIE die geval nie. Daarom bly ons maar stil en probeer dit self verwerk, die dames het closure gesoek, ek hoop hulle het sit gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.