Die voormalige tenniswêreldkampioen Bob Hewitt (75) het Donderdag in die hof getuig dat hy slegs “vaderliefde” aan een van die vroue wat hom aankla van verkragting probeer toon het.
Hy het in die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, getuig dat hy ʼn nouer verhouding met Theresa “Twiggy” Tolken gehad het as met die res van sy studente.
“Ek het haar jammer gekry,” het hy gesê. “Ek het nie gedink sy kry enige liefde van haar pa af nie. Ek het probeer om haar vaderliefde te toon,” het hy onder kruisverhoor deur staatsaanklaer Carin Coetzee gesê.
Hy het onskuldig gepleit op twee aanklagte van verkragting en een van onsedelike aanranding.
Tolken het Mandag getuig dat Hewitt haar onbehoorlik aangeraak het en haar gedwing het om orale seks op hom uit te voer, toe sy 12 jaar oud was. Sy het ook getuig dat hy tydens ʼn uitstappie na Sun City probeer het om haar te verkrag.
Die hof het gehoor dat Tolken haar ma vertel het wat gebeur het en dat ʼn saak die volgende dag aanhangig gemaak is. Die saak is egter nie opgevolg nie omdat dit nie in die gebied waar die beweerde verkragting plaasgevind het, aangemeld is nie.
Hewitt het Donderdag die bewering oor orale seks as “snert” verwerp.
Nog een van Hewitt se beweerde slagoffers, Suellen Sheehan, het getuig dat hy haar in 1982 in sy motor verkrag het voor ʼn tennisoefening. Sy was toe ook 12 jaar oud.
ʼn Derde slagoffer, wie se naam nie genoem mag word nie, het getuig dat Hewitt homself op ʼn onbehoorlike manier teen haar rug gevryf het. Sy het getuig dat sy van 14 tot 17-jarige ouderdom by hom tennislesse gekry en dat hy haar in die tyd seksueel aangerand het. “Tydens een van die private lesse was hy baie opgewek… ons het verskillende taktieke bespreek en hy het vir my gesê ‘verkragting is altyd lekker en as ek jou verkrag, moet jy lê en dit geniet’,” het sy Woensdag getuig.
Hewitt het Donderdag erken dat hy onbehoorlike kommentaar oor verkragting aan sy studente gemaak het.
“Ongelukkig het ek,” het hy gesê. “Ek het skertsend gesê as verkragting onvermydelik is, sal ek net teruglê en dit geniet.” Hy het gesê hy het die kommentaar aan sommige seuns gerig vir wie hy tennislesse gegee het. Volgens hom het die kommentaar verwys na tennistaktiek.
Die saak duur voort.
Lees alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media.
Ek sê weer, verkragting in enige vorm, op enige plek, op enige tyd, teenoor enigiemand, is en bly verkeerd. Ongelukkig kan ek myself nie verander hier nie, en ek sal ook nie, maar oom Bob, jy klink vir my na ‘n siek omie. As jy sulke onverskillige opmerkings maak, moet jy jou pak vat. Mense het jou met hul kinders vertrou, en dan doen jy dit? Of jy ooit die meisiekinders verkrag het, sal bewys word in hierdie hof, dit glo ek, maar jou kommentaar teenoor die seuns, en dat jy erken het die meisie het op jou gelê in die bad, dis blerrie siek.