Die voormalige tennisster en veroordeelde verkragter Bob Hewitt se aansoek om verlof tot appèl het Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof misluk, maar hy gaan glo nie ophou om sy skuldigbevinding teen te staan nie.
Johann Engelbrecht, vir Hewitt, het aan African News Agency gesê sy kliënt sal nou ander moontlikhede ondersoek sodat hy appèl kan aanteken teen die uitspraak. “Ons gaan die hoogste hof van appèl nader om verlof tot appèl,” het Engelbrecht verduidelik.
Regter Bert Bam het die voormalige wêreldkampioen se borgtog verleng.
Hewitt is in Maart skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding en in Mei effektief tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Hy is ook beveel om R100 000 boete te betaal wat aangewend sal word om veldtogte teen mishandeling teen vroue en kinders te finansier.
Hewitt, wat in Australië gebore is, het tereg gestaan op aanklag dat hy twee van sy voormalige studente, Theresa “Twiggy” Tolken en Suellen Sheehan in die 1980’s verkrag het, en die seksuele aanranding van ʼn vrou, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, nie die 1990’s.
Lees alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media.