Hewitt terug in hof

Bob Hewitt en sy vrou Delaille Vrydag by die hof. Foto: Werner Beukes/SAPA.

Bob Hewitt en sy vrou Delaille Vrydag by die hof. Foto: Werner Beukes/SAPA.

Die voormalige tenniswêreldkampioen Bob Hewitt (75) sal Dinsdag weer in die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, verskyn waar hy tereg staan op aanklagte van verkragting en onsedelike aanranding.

Terry Price, Hewitt se regsverteenwoordiger, het Vrydag aan die hof gesê hulle het probleme ondervind om vier getuies in die hof te kry. Die getuies sluit joernaliste en die ouers van Suellen Sheehan, een van Hewitt se beweerde slagoffers, in.

Hewitt het onskuldig gepleit op twee aanklagte van verkragting en een van onsedelike aanranding vir die dade wat hy na bewering in die 1980’s en 1990’s gepleeg het. Die klaers is Theresa “Twiggy” Tolken, Sheehan en ʼn derde vrou, wie se naam nie genoem mag word nie.

Theresa "Twiggy" Tolken (links) en Suellen Sheehan, Vrydag by die hof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Theresa “Twiggy” Tolken (links) en Suellen Sheehan, Vrydag by die hof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Hewitt se vrou, Delaille, het onder kruisverhoor aan staatsaanklaer Carina Coetzee gesê sy was bewus van een van drie briewe wat Hewitt aan Tolken geskryf het. Sy voer aan daar is niks fout daarmee dat haar man, wat toe 41 jaar oud was, ʼn brief aan ʼn student sou skryf en na haar verwys as “my geliefde” [my love] nie.

Sy het gesê daar was geen manier wat haar man die twee vroue kon verkrag, of die derde een onsedelik aangerand het nie.

Tolken het getuig dat Hewitt haar 34 jaar gelede onbehoorlik aangeraak het, en haar gedwing het om orale seks op hom uit te voer.

Sheehan het getuig dat hy haar in 1982 in sy motor verkrag het voor ʼn tennisoefening. Albei vroue was toe 12 jaar oud.

Die derde vrou het getuig dat Hewitt homself teen haar rug gevryf het tydens hul privaat tennislesse.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.