Regsverteenwoordigers vir Juan Liedeman en die broers Marthinus en Sarel van der Walt het aangevoer dat die saak nog nie reg is vir verhoor nie.
William Booth, Liedeman se regsverteenwoordiger, sê hy het ‘n vergadering versoek met Samantha Raphels, die staatsaanklaer, om sy kliënt se posisie “uit te sorteer”. Tydens die verdagtes se vorige verskyning het Raphels gesê daar is ‘n moontlikheid dat Liedeman ‘n pleitooreenkoms met die staat gaan aangaan.
Regter Robert Henney het die saak tot 13 Junie uitgestel. Liedeman is vroeër op borgtog van R20 000 vrygelaat. Die broers bly in aanhouding. Heyns se gesteelde motor is in Liedeman se besit gevind en staar hy aanklagte in die verband in die gesig. Die broers word daarvan beskuldig dat hulle Heyns vermoor en beroof het.
Heyns, ʼn dosent aan die Universiteit van Stellenbosch en pediater by die Tygerberg-hospitaal, het in Mei 2013 verdwyn. Sy liggaam is op 30 Mei omstreeks 04:00 in ʼn vlak graf naby die minigholfbaan in die Strand opgespoor.