Heyns-moord: Vrou ontken gay-bewerings

Prof. Louis Heyns

Prof. Louis Heyns

Prof. Louis Heyns (59), akademikus en pediater van Stellenbosch wat in Mei 2013 vermoor is, se vrou het Maandag aan die hof gesê sy het nooit rede gehad om aan haar man se seksuele voorkeur te twyfel nie.

Dalene Heyns het reageer op bewerings deur die verdediging dat haar man seksuele gunste versoek het van Marthinus van der Walt. Van der Walt (34) het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn op aanklag van kaping, ontvoering en moord.

Van der Walt het onskuldig gepleit op die aanklagte en beweer Heyns se dood was nie met bedoeling nie en dat hy Heyns se motor gesteel het nadat hy reeds dood was. Volgens ’n beëdigde verklaring wat deur Gert Fourie, Van der Walt se regsverteenwoordiger, aan die hof voorgelees is, het Heyns op 22 Mei 2013 vir Marthinus en sy broer, Sarel, op ’n strand in Strand ontmoet.

Die broers was glo onder die invloed van alkohol en dwelms toe Heyns hulle genader het. Volgens die verklaring het Heyns vir seksuele gunste gevra en Marthinus het ingestem.

Volgens Marthinus het Heyns hom beledig en aangerand waarna hy Heyns met die vuis geslaan en geskop het. Marthinus voer aan hy het nie bedoel om Heyns te vermoor nie, maar dat hy sy hande en voete vasgebind het nadat hy besef het Heyns is dood.

Dalene het getuig Louis het haar die middag van sy dood gebel en gesê hy het ’n vergadering in Stellenbosch. Heyns het ook sy broer, Christo, gebel en gesê hy sal ná die vergadering na hom toe kom om hom te help om ’n drukker te installeer.

Dalene het haar man hierna nie weer in die hande gekry nie waarna sy Christo gekontak het. Christo het getuig dat hy sy broer 20:30 die aand die laaste keer gesien het.

Heyns se liggaam is agt dae nadat hy as vermis aangemeld is, in ’n vlak graf in Strand gevind. Dalene het aan die hof gesê sy glo haar man was die slagoffer van ’n kaping.

Marthinus se broer, Sarel, is ook aanvanklik van die moord aangekla. Hy het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en dien tans sewe jaar tronkstraf uit. Juan Liedeman, ’n derde verdagte, het ook ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is gevonnis tot ’n boete van R10 000 of vyf jaar tronkstraf. Heyns se motor is in Liedeman, wat ’n skrootwerf bedryf, se besit gevind. Liedeman het aangevoer hy het nie geweet die motor is gesteel nie. Die saak duur voort.

News24

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kaaiman ·

Dis mos in die laaste tyd (dink Eugene Terreblanche-moord) die beskuldigdes se verweer – homoseksuele gunste gevra was die rede vir die moord. Jy kon mos maar net nee gesê het! Dit is ‘n ekstra belediging neffens die verlies wat die familie gely het! Ek hoop die regter straf hulle vir die skreiende aantyging wat hulle aanvoer as rede vir die sinnelose daad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.