Heyns se familie het sy moordenaar vergewe

Prof. Louis Heyns

Prof. Louis Heyns

Die familie van die vermoorde Louis Heyns, ʼn pediater en akademikus van Stellenbosch, het gesê hulle het Marthinus van Walt, wat Donderdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir sy moord, vergewe.

Regter Andre le Grange het Van der Walt tot ʼn verdere 15 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Le Grange het gesê hy dink nie Van der Walt kan gerehabiliteer word nie. Hy het die moord op Heyns in 2013 as grusaam beskryf en gesê Van der Walt is ʼn gevaar vir die samelewing.

Van der Walt het uitdrukkingloos in die beskuldigdebank gestaan terwyl Le Grange hom gevonnis het.

Andre Mouton, Heyns se swaer, het buite die hof gesê dit sal tyd vat vir die familie om hul verlies en pyn te hanteer, maar dat hulle Van der Walt nie haat nie. Hulle het hom vergewe.

Mouton het Heyns beskryf as ‘n “opvoeder, broer, gids en pa” en dat sy gru-moord voort sal gaan om by sy geliefdes te spook. Dalene, Heyns se weduwee, het gesê sy bid vir haar man se moordenaar.

Die Heyns-egpaar was 33 jaar getroud. “Die gedagte aan die wreedheid wat my man moes ervaar en die intense vrees en angs voor sy dood, dreig om my by tye te oorval.” Sy het gesê sy vind berusting in die “hoop en geloof dat God by hom was” in sy finale oomblikke.

Volgens Dalene het “die uiters gewelddadige, hartelose en onmenslike wyse waarop haar man vermoor is, ‘n onbeskryflike impak op haar familie en diegene wat hom goed geken het”.

Heyns het op 22 Mei 2013 verdwyn nadat hy omstreeks 20:20 by sy broer se huis weg is. Sy liggaam is op 30 Mei in ʼn vlak graf naby Gordonsbaai opgespoor.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Die regters laat dit altyd na ‘n vreeslike LANG tronkstraf klink, maar dan word dit gelyklopend uitgedien. Jy sal gelukkig wees as die skuldige 10 jaar gaan sit!! Dis net so ‘n sirkus soos ons regering!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.