Hidrobreking en skaliegas kan tot groot botsing op DA-kongres lei

DA- federale raadsvoorsitter James Selfe (links) en DA-leier Mmusi Maimane (Foto: ANA)

Die kwessie van hidrobreking (fracking) om skaliegas in die Karoo te ontgin, kan tot botsings en vuurwerke lei tydens die komende naweek se federale kongres van die DA op die skougronde in Pretoria-Wes.

Die tweedelaaste van die dosyne beleidsresolusies wat DA-strukture vir oorweging aan die kongres voorlê, kom uit Howick in die KwaZulu-Natalse middellande en versoek dat die DA alle verwysings na die ontginning van skaliegas uit sy energiebeleid verwyder.

Dit kan die herlewing van ʼn woeste debat oor die onderwerp tussen omgewingsbewaringsbewustes aan die een kant, en voorstanders van nywerheidsontwikkeling en werkgeleenthede aan die ander kant, inlui.

By die DA-kongres van 2012, wat in Boksburg gehou is, het die kwessie van hidrobreking in die Karoo tot die grootste stryery van die hele kongres gelei nadat afgevaardigdes uit Graaff-Reinet ʼn mosie ingedien het teen hidrobreking.

Terwyl vrese bestaan dat hidrobreking tot die vergiftiging van die Karoo se onderaardse waterbronne kan lei, is daar sterk ondersteuning vir hidrobreking onder baie mense wat meen die ontginning van skaliegas kan die werkloosheidskrisis in die Karoo grootliks verlig.

Tydens die 2012-kongres het afgevaardigdes so warm onder die kraag geraak dat geen besluit geneem is nie, en die kwessie na die partyleierskap verwys is, wat ʼn besluit ten gunste van skaliegas-ontginning geneem het. Die nuwe mosie is duidelik ʼn terugslaanaksie daarteen.

Die ander twee groot gevegte gaan na verwagting handel oor swart verteenwoordiging in die DA, en oor hoe gereeld die DA se federale kongres gehou en die partyleierskap verkies moet word.

Oor ras het twee LP’s, dr. Michael Cardo en Gavin Davis, ʼn voorstel ingedien dat raskwotas spesifiek in die DA verbied moet word. Hulle word deur baie DA-lede daaroor verkwalik dat hulle dit gedoen het in ʼn amendement tot ʼn mosie wat gehandel het oor groter verteenwoordigendheid in DA-strukture, wat volgens die voorstanders daarvan glad nie oor kwotas gehandel het nie, maar nou deur die nuwe voorstel gekaap word.

Betreffende die ander omstrede voorstel, word dit tans deur die teenstanders daarvan uitgebeeld as ʼn poging om Maimane se leierskaptermyn te verleng van die huidige drie jaar na vyf jaar.

Teenstanders wys ook uit dat die hou van die kongres elke vyf jaar minder geleentheid tot debat en die skep van beleid laat vir diegene buite die binnekring van die DA-leierskap, en dus demokrasie in die party strem.

Voorstanders van die voorstel voer aan dit is glad nie die punt nie. Hulle wys uit dat dit die DA byna R10 miljoen kos om ʼn kongres soos die naweek s’n te hou, en hulle meen die party se geld kan beter aangewend word as daardie tipe uitgawe elke vyf jaar eerder as elke twee jaar aangegaan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Ek kan sommer raai wie vir en wie teen die hidrobreking is.
Hier kom n groot les vir die DA, die prys van integrasie. Kon nog nooit en het nog nooit in enige land gewerk nie, punt.

Duitser ·

Smaak my die DA raak hulle eie grootste vyand is dit dalk n rede wat hulle wil gebruik as verskoning volgende jaar as die VF+ hulle pakgee?

Griki ·

Wat gaan dit help ‘n paar mense kry werk maar daar is nie water om te drink nie, nie vir die mense nie en ook nie vir die vee nie. Dan gaan boorgate niks help nie.

marianna ·

Kyk wat het in Aus. gebeur met hidrobreking. Glad nie goeie nuus nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.