Hiëna-aanval: ‘Erco sal self getuig van die Here se wonderwerke’

Erco Janse van Rensburg. Foto: Verskaf

Erco Janse van Rensburg. Foto: Verskaf

Erco Janse van Rensburg, die 15-jarige seun van Centurion wat Sondagoggend deur ’n hiëna in sy tent in die Krugerwildtuin aangeval is, “toon wonderbaarlike vordering”.

“Ons is ongelooflik diep geraak deur die onderskraging, gebede en empatie van alle mense dwarsoor die wêreld, bekend en onbekend, vir Boela. Dit dra ons in hierdie moeilike tyd,” het Cashandra Janse van Rensburg, Erco se ma, aan Maroela Media gesê. “Ek kan die Here nie genoeg prys vir al die bo-menslike wonderwerke wat na die ongeluk gebeur het nie.”

Erco, of Boela soos sy gesin liefdevol na hom verwys, het saam met sy ouers, Erno en Cashandra en sy twee sussies, Zilia en Kyla in die Krokodilbrugkamp in die Krugerwildtuin vakansie gehou toe hy Sondagoggend deur ʼn hiëna aangeval is in sy tent.

Hy is vanaf die kamp na die Mediclinic Nelspruit gehaas waar hy gestabiliseer is en daarna is hy per Netcare 911-lugambulans na die Netcare Millpark-hospitaal se trauma-eenheid vervoer. Erco het hierna ʼn 10 uur lange operasie ondergaan waartydens intensiewe gesigsrekonstruksiewerk deur ʼn span, bestaande uit verskeie spesialischirurge, suksesvol voltooi is.

Basie Smalberger, Erco se oupa, het gesê Erco is steeds in die hoësorgeenheid onder verdowing. “Volgens sy mediese verslae toon hy wonderbaarlike vordering.” Smalberger het gesê sy kleinseun is ʼn internasionale karatekampioen en ʼn uitblinker in enige sportsoort wat hy aanpak. “Hy is ook baie musikaal en bespeel verskeie instrumente. Hy is van nature ʼn baie aktiewe jong man, lief vir jag, motorfiets ry en enige buitemuurse aktiwiteite.”

Volgens Smalberger is sy kleinseun ook ʼn liefdevolle en bedagsame jong man. “Hierdie dapperheid en veggees het selfs geharde traumapersoneel diep beïndruk gedurende hierdie traumatiese gebeure.”

Smalberger het die familie se dank uitgespreek vir die doeltreffende en deernisvolle behandeling van al die betrokkenes, waaronder die bestuur van Krokodilbrugkamp, die ambulanspersoneel en paramedici op Komatipoort, die Mediclinic-geneeshere, die loods en paramedici van Netcare 911, die traumapersoneel, asook die spesialiste by die Netcare Milpark-hospitaal.

“Die familie sien uit na die dag wanneer Erco self kan getuig van die Here se wonderwerke, wat hulle eerstehands ervaar het,” het Smalberger gesê.

Lees alle vorige berigte oor Erco Janse van Rensburg op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

CHRISTA ·

Ja Erco, die liewe HERE sal jou elke dag dra. Hou net jou oë op Hom en jy sal op stormwaters kan loop soos Petrus!! Sterkte en volkome genesing word jou toegebid!!!

Buitestaander ·

Ja-nee, SANPARKE sal moet opdok vir die mediese koste en pyn en lyding.

Pastoor ·

Dankie Here dat hy lewe Y”shua het Sy hand oor die seun. Mag hy 100% herstel. Die kostes is van minder belang. Hy leef hy leef dankie Here

Pastoor ·

Dankie Here dat hy lewe Y”shua het Sy hand oor die seun. Mag hy 100% herstel. Die kostes is van minder belang. Hy leef hy leef dankie Here Hys Koning

Gemsbok ·

Sanparke behoort gedagvaar te word vir nalatigheid en wanbestuur wat lei tot die verwaarlosing van infrastruktuur en pligversuim van personeel wat die veiligheid van besoekers en van wild in gedrang stel. Indien hulle nie gepak word nie, gaan hierdie soort voorkoombare tragedies net al meer word totdat alles uitmekaarval.

Sus ·

Piet Pompies ons leef in ‘n sondige wereld waar die duiwel los rondloop in die gestalte van mense wat teen God se wil leef. Maar God is steeds in beheer en doen steeds elke dag wonderwerke. Wees versigtig om vir God te blameer vir alles wat verkeerd is!

grootpronk ·

Sus, gaan lees gerus Jesaja 45:7 waar God self sê dat Hy die Lig vorm en die donker skep, dat Hy voorspoed en rampe skep. Dat Hy die God is wat al hierdie dinge skep. Hy is dus ook die Skepper van “alles wat verkeerd is” soos jy dit hier so mooi stel.

Pauline ·

Hi Piet
Die Here laat dinge in n mense se lewe gebeur vir n spesifieke rede! ons weet nie hoekom en waarom nie, maar eendag sal ons wees, maar mens moet nogsteeds bly GLO! en vir Erco en sy familie baie sterkte en bly aanhou glo die resultate sal gewys word!!!! AMEN

Gesiggie ·

Mag die Here jou aanraak en 100% genees van al jou wonde… God is Almagtig, En dit sal wonderlik wees as jy eendag self kan getuig van die Wonderwerk in jou lewe… Sterkte Seun… word gou gesond.

alet ·

Goeie dag. Aan die Hemelse Vader al die eer. Baie bly oor die vordering en ek dank God dat Hy sy ouers en sussies in die tydjie bystaan en toevou met die nodige krag wat hul nodig het. Wil net graag hoor. In die begin was daar iets genoem gewees oor ‘n oog wat hy verloor het? Kon hul dit ook red en is die oog ook uit gevaar uit? Dankie baie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.