Hiëna-aanval: Erco se ‘ernstige boodskap’ ná hy oog verloor

Erco Janse van Rensburg. Foto: Verskaf

Erco Janse van Rensburg. Foto: Verskaf

Erco Janse van Rensburg, die 15-jarige seun van Centurion wat deur ’n hiëna in sy tent in die Krugerwildtuin aangeval is, het sy linkeroog verloor.

Basie Smalberger, Erco se oupa, het gesê sy kleinseun se wonde genees baie goed. “Al die infeksie is gekeer en die laaste steke is gister uitgehaal.

Al sy lewensfunksies is baie goed en sy regteroog funksioneer normaal. Uit die aard van sy beserings, sal hy in die toekoms nog ʼn paar rekonstruktiewe prosedures moet ondergaan.”

Volgens Smalberger sterk Erco in ʼn algemene saal by die Milpark-hospitaal aan. “Hy praat, eet, loop, kyk TV, geniet koek en melkskommel en sien daarna uit om weer sy spiermassa en fiksheid te herwin. Waarna hy egter die meeste uitsien, is om weer sy ukelele te bespeel, om in sy eie kamer te slaap en om weer karate te doen, asook om motorfiets te ry.”

Erco het ʼn ernstige boodskap vir almal: “Moenie dom dinge aanvang nie. Moet asseblief nie wilde diere voer nie en moet ook nie wilde diere en die natuur onderskat nie. Respekteer die natuur.”

Smalberger het gesê Erco is baie dankbaar vir al die dokters en verpleegpersoneel, sy familie en vriende, asook die duisende mense wat vir hom gebid en ondersteun het. “Verteenwoordigers van SANParke het hom in die hospitaal besoek en die familie waardeer ook hulle ondersteuning.”

Volgens Smalberger kan die familie nie uitgepraat raak oor die doeltreffende en deernisvolle behandeling van al die betrokkenes nie. “Ons wil graag ons dank oordra aan almal wat vir hom gebid en morele ondersteuning verleen het. Ons is oorweldig deur die ondersteuning van oor die wêreld: Kanada, Rusland, Australië, Mosambiek, Namibië en Botswana, om net ʼn paar lande te noem.”

Smalberger het gesê die familie is diep nederig deur die feit dat mense van verskillende gelowe en etniese afkoms vir Erco en vir hulle gebid het.

“Deur hierdie hele gebeure was dit egter Boela [Erco se troetelnaam] wat die sterk een was en almal, familie, vriende, hospitaalpersoneel en almal, bekend of onbekend, geïnspireer het. Die familie dra alle eer op aan die Allerhoogste, want sonder sy genade sou hierdie wonderwerk nie kon plaasvind nie.”

Erco het saam met sy ouers, Erno en Cashandra, en sy twee sussies, Zilia en Kyla, in die Krokodilbrugkamp in die Krugerwildtuin vakansie gehou toe hy vroegoggend op 26 Junie deur ʼn hiëna in sy tent aangeval is.

Lees alle vorige berigte oor Erco Janse van Rensburg op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kleintjie ·

Ek is so dankbaar vir Erco en sy ouers. Ek hoop regtig dat die ou mensdom na sy ernstige boodskap sal LUISTER en so doen.

Gesiggie ·

Ag dit is wonderlik om te verneem dat Erco weer tenvolle sal herstel, jammer dat die oog nou n probleem is, maar solank hy net verder gesond is, en weer eendag normaal kan aangaan, om te kon karate, en sy motorfiets te ry… Sterkte aan sy ouers en aan Erco… hou moed seun… een van die dae is jy weer 100%. En ja Aan die Here al die Eer… Met sy Genade is: ALS MOONTLIK. (^_^)

Wern ·

Erco, dankie vir jou boodskap, ek sal so maak en my vriende oor waarsku, veral die een wat so graag in die viswaters met krokodille swem! Baie sterkte met jou herstel.

Mel ·

Erco, jy is ‘n baie dapper seun!!!! Ek hoop di ouers wat hier Lees dra jou boodskap oor aan hul kinders, ons was ook kinders en het gedink dis cool om wilde diere te terg ens., jou boodskap open baie oë!! Sterkte vorentoe, so dankbaar saam julle

charlene ·

Erco jy is `n 15 jarige kind meer meer verstand as meeste groot mense wat ongelooflik sterk is en `n baie goeie mens – dit kan mens kla sien van jou. Hoop jy word gou uit die hospitaal ontslaan en sterke vir jou pad wat voorlê.

ANDRE ·

Dit is hoe n boerseun is ,hy laat hom nie onderkry nie ! Sterkte grootman !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.