Hiëna-aanval: Seun se gesig gedeeltelik herstel

Rodwell het sy neus, linkeroog, die meeste van sy bolip en gedeeltes van sy voorkop tydens die aanval verloor. (Foto: MealSA)

Die negejarige seun wat in Mei deur ʼn hiëna buite Harare, Zimbabwe, aangeval is, het reeds vier operasies in Johannesburg ondergaan nadat ʼn span dokters aangebied het om sy gesig gratis te herstel.

Maroela Media het vroeër berig dat Rodwell Khomazana sy neus, linkeroog, die meeste van sy bolip en gedeeltes van sy voorkop tydens die aanval verloor het. Rodwell se ma het dokters in Suid-Afrika gekontak om hulp, waarna dr. Ridwan Mia aangebied het om die operasies gratis uit te voer. Rodwell en sy ma het in Junie in Suid-Afrika aangekom vir die eerste reeks operasies.

Mia, ʼn plastiese chirurg van Sandton, sê Rodwell is goed op pad na herstel ten spyte van die trauma wat hy tot dusver deurgemaak het. Mia het tevore ook die herstelwerk op Pippie Kruger uitgevoer, die dogtertjie wat in 2011 soveel as 80% brandwonde opgedoen het toe sy met vuuraansteekgel gebrand het.

“Die klein man gooi nie maklik tou op nie. Hy is steeds in die intensiewesorgeenheid, maar sy gemoed is positief,” het Mia aan Maroela Media gesê.

Rodwell het reeds vier operasies ondergaan sedert hy in Suid-Afrika aangekom het.

“In die eerste operasie het ek [Mia] en ʼn paar spesialiste wat hul kennis en tyd opgeoffer het, sy beserings ondersoek terwyl hy onder verdowing was. Ons kon die omvang van die skade bepaal, of hy enige infeksies opgedoen het en wat gedoen moet word om sy gesig te rekonstrueer.”

Tydens Rodwell se tweede operasie het ʼn pediater ʼn buis in sy buik ingesit waardeur hy gevoer word – sodat daar geen buise uit sy mond of neus steek wat toekomstige operasies kan bemoeilik nie.

“Die derde operasie was die eerste groot een en het sowat vyf uur geduur. Ons het die simmetrie en die voorkoms van sy gesig reggestel. Tydens sy eerste operasie in Zimbabwe het die dokters gedeeltes van sy gesig toegewerk wat veroorsaak het dat onder meer sy ooglede nie in lyn is met mekaar nie. Ons het toe titaanplate in die linkersfeer van sy gesig geplaas om dit te rekonstrueer,” het Mia gesê.

ʼn Tipe silikonbal is ook in die holte van Rodwell se linkeroog gesit wat sy prostetiese oog sal ondersteun. Spesialiste is besig om ʼn prostetiese oog vir hom te konstrueer wat soos sy regteroog sal lyk.

Rodwell Khomazana en sy ma ná sy operasie verlede week. (Foto: Dr. Ridwan Mia)

Rodwell se vierde operasie is verlede week Vrydag afgehandel, ses dae ná die vorige een.

“Deur vel- en vetweefsel asook bloedvate in sy regterbobeen te gebruik kon ons sy boonste lip en linkerwang rekonstrueer. Ons het ʼn slagaar en twee are in sy bolip oorgeplant, sodat sy lip bloed kan ontvang. Ons het ook weefsel van sy kopvel gevat om die letsels op sy voorkop en linkerkantste gedeelte van sy gesig te herstel.”

Mia en ʼn span spesialiste beplan om binnekort ʼn tendon in Rodwell se boonste lip te plaas om dit te stabiliseer.

“Ons het as ʼn span egter besluit om sy neusrekonstruksie voorlopig uit te stel. Ons het dit goed gedink dat Rodwell eers verder moet groei en ontwikkel voordat ons vir hom ʼn nuwe neus bou. ʼn Spesialis gaan wel vir hom ʼn prostetiese neus maak wat deur magnete aan sy neus vasgemaak sal word.”

Volgens Mia sal Rodwell nog ʼn paar operasies in die volgende paar weke moet ondergaan voordat hy uit die hospitaal ontslaan kan word. Hy sal na verwagting nog twee maande in Johannesburg deurbring voordat hy kan terug keer na Zimbabwe.

Sy ma is ook in Johannesburg en word deur die Mediclinic-hospitaal, waar Rodwell tans in die intensiewesorgeenheid is, gehuisves. Hulle het vir haar ʼn woonstel op die perseel gegee om in te bly terwyl Rodwell in die hospitaal is. Dié hospitaal het ook die koste verbonde aan sy operasies aansienlik verminder.

“Die Sun International-hotelgroep het ook aangebied om hom en sy ma te huisves sodra hy uit die hospitaal ontslaan is totdat sy toestand sodanig is dat hy kan reis.”

Mia sê talle mense het reeds geld geskenk om Rodwell se mediese uitgawes te dek. Een donateur, Phuthi Mahanyele Dabengwa, het ʼn reusebedrag geld geskenk wat hom toegelaat het om aanvanklik in die hospitaal opgeneem te word.

Meal SA het ʼn veldtog geloods en ʼn ouditeur aangestel om die geld wat aan Rodwell geskenk word te bestuur.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om hul harte oop te maak en Rodwell te help. Ongelukkig hoop sy mediese uitgawes by die dag op ten spyte van al die hulp wat hy reeds ontvang het,” het Mia gesê.

“Rodwell se ma is so dankbaar vir almal se hulp en ondersteuning in hierdie tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandra ·

Al die dokters gee hulle dienste gratis, hoekom kan die hospitaal nie dieselfde doen nie. Ek se altyd, as dit in jou vermoe is om te help, doen dit.

Carina ·

Dankie Dr Mia. Regtig die hospitaal kan ook hul dienste gratis aanbied. Dit is verskriklik waardeur hierdie seuntjie gaan.

Vanessa ·

Sandra, ek stem 100% saam met jou.Dit is duidelik dat die mamma nie geld het om enige kostes te betaal nie. Mag die Here die dokters seën en almal wat ‘n bydrae maak.

Jakes ·

Wat n tragiese storie. Hoop die seuntjie herstel goed en dankie aan dr Mia wat bereid is om te help.

Hendrik Marthinus ·

Joh dus ongelooflik
Wys net dat ons mensdom Steeds Kan omgee
Wens die hospitaal kon soos die Dokters ook Meer doen.
Mag die seuntjie een dag getuig dat mense wat hom nie eens geken het hom n nuwe lewe gegee het.
Wens net misdadigers Wil ook ophou om leed te doen en liewer n eerlike lewe te leef

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.