Hiep-hiep hoera! Maroela Media is vyf jaar oud

Hiep, hiep, hoera! Maroela verjaar!

Hiep, hiep, hoera! Maroela verjaar!

Maroela Media het vandag, presies vyf jaar gelede op 29 Julie 2011, sy digitale deure oopgegooi om die lekkerste kuierplek in Afrikaans op die internet bekend te stel.

Maroela Media het klein begin: ons was in 2011 vier persone wat voltyds aangestel is om dié nuwe mediahuis op sy voete te laat staan. Ons grootste verwagtinge is oortref toe ons skaars vyf jaar later kon spog met ʼn voltydse span van 16 mense wat meer as 1,1 miljoen unieke lesers per maand op hoogte te hou van alles wat in hul leefwêreld gebeur.

Klein begin

Maroela se bekendstellingsgeleentheid in Gauteng in Julie 2011 het gefokus op protesmusiek in Afrikaans. Die sanger Steve Hofmeyr, wat opspraak verwek het met sy proteslied “Ons sal dit oorleef”, en die dramaturg Deon Opperman, wat veral bekend is vir sy merkwaardige musiekblyspele Ons was daar en Tree Aan! waarin verskeie bekende protesliedere gebruik is, het saam met Burgert Senekal en Salmon de Jager van die groep Klopjag aan die debat deelgeneem. Senekal is verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat en ʼn kenner op die gebied van oorlogsliteratuur en protesmusiek. Klopjag het sy merk in Afrikaanse protesmusiekkringe gemaak met veral die lied “Nie langer” wat kritiek uitspreek teen die verdrukking van wit Suid-Afrikaners. Die televisie- en radio-aanbieder Johann Botha het die debat gelei.

Enkele dae later is Maroela ook in Kaapstad by die Groot Constantia-wynlandgoed bekendgestel. Afrikaanssprekendes het op 18 Augustus om een tafel gesit en hul stories in én oor die “soetste taal” vertel. Sprekers van onder meer Karoo-Afrikaans, Rehoboth-Afrikaans, Kaapse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Noordelike Afrikaans en Soweto-Afrikaans het aan die gesprek deelgeneem.

Ons bou ʼn gemeenskap

Maroela Media is veel meer as net ʼn nuus- en inligtingswebwerf. Ons bou ʼn gemeenskap waar ons lesers ook deel het aan die inhoud. Lesers neem aktief deel aan kommentaar op die webwerf en stuur hul nuuswenke en lesersbriewe. Ons lesers neem met entoesiasme deel aan kompetisies en stuur die oulikste foto’s – veral toe ons in 2015 besluit het om die koelste ouma aan te wys!

Die drie wenners in Maroela Media se veldtog, die Grootste Afrikaner van Alle Tye

Die drie wenners in Maroela Media se veldtog, die Grootste Afrikaner van Alle Tye

In 2012 was Maroela saam met sy lesers op soek na die Grootste Afrikaner van Alle Tye. Talle bekendes, ook in die fiktiewe wêreld, is genomineer. In totaal is meer as 16 000 stemme gewerf. Die genomineerdes is in verskeie rondtes teen mekaar opgeweeg en het uiteindelik in animasie-boksgevegte teen mekaar te staan gekom.

Paul Kruger is uiteindelik as die Grootste Afrikaner in die historiese kategorie aangewys. Steve Hofmeyr het met die louere wegstap as die Grootste Afrikaner in die eietydse kategorie, en Liewe Heksie is as die Grootste Afrikaner in die fiktiewe kategorie gekroon.

Maroela Media se Grootste Afrikaner-veldtog het in September 2013 met ʼn silwer Pendoring-reklametoekenning weggestap. Dié toekennings word gemaak vir die beste Afrikaanse en Suid-Afrikaanse reklameveldtogte van die voorafgaande jaar. Die advertensie-agentskap Etiket het die Grootste Afrikaner-veldtog ingeskryf in verskeie kategorieë, en die veldtog was ʼn finalis in vier van dié kategorieë.

In 2013 was ons saam op soek na die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye. Koos du Plessis se liedjie, “Kinders van die wind”, is ná ʼn nominasierondte en verskeie stemrondtes, waarin meer as 60 000 stemme uitgebring is, aangewys. ʼn Spesiale roos is na dié veldtog deur Ludwig’s Roses gekweek en staan bekend as die “Kinders van die wind”-roos. Intussen is ʼn CD met die gewildste liedjies uit dié veldtog ook vrygestel – Die Grootste Afrikaanse Liedjie-CD.

Maroela Media se app

Maroela Media se app

Die kind word groot

In Junie 2014 stel Maroela vir die eerste keer sy gratis nuus-app bekend, beskikbaar vir Android- en Apple-slimfone.

Dié app hou lesers, net soos die webwerf, op hoogte van die jongste nuusgebeure en maak seker dat jy weet watter boeke om te lees, hoe om vanaand se kos gaar te maak en wie die rugby gaan wen. In die Vermaak en Leefstyl-afdeling kan jy selfs uitsien na daardie stories wat jou na jou asem gaan laat snak, jou tot trane gaan dryf of jou laat skaterlag van lekkerkry en plesier. Ons meningvormers gesels kopstukke in Nou pra’ jy en ons gee vir jou agtergrond oor gebeure in Nuuskommentaar.

Almal kuier saam

Die lekkerste kuierplek waar Maroela Media se lesers egter gons oor alles wat in hul leefwêreld aangaan, bly op ons verskillende sosialemedia-kanale. Maroela-lesers kuier saam op Facebook, Twitter, Toeter, YouTube en Instagram.

In Maart 2016 stel Maroela Media ook vir die eerste keer gratis WhatsApp-nuusflitse bekend. Lesers kan inskryf vir dié diens om elke weeksdag ʼn boodskap te ontvang met die hooftrekke van die dag en weervooruitsig vir die volgende dag.

Maroela se lesers kan op hul gemeenskapsradiostasies inskakel waar hulle gereeld na insetsels kan luister wat deur Maroela vervaardig is. Maroela vervaardig ook jaarliks ʼn radiodrama in samewerking met Bettie Kemp. Ons het al geluister na die spioenasie-avonture in Vendetta, die liefdesintriges in Boekeparadys en die interessante gemeenskap van Seweweekspoort. Ons het ook al selfs in Boggomsbaai en Groblerspruit gaan kuier.

Marna Roos en Janina van Zyl by Maroela Media se Buitebioskoop 2015

Marna Roos en Janina van Zyl by Maroela Media se Buitebioskoop 2015

In 2015 het Maroela sy eerste groot saamtrek gehou vir lesers in Gauteng tydens die eerste Buitebioskoop by die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin. Meer as 1 200 gaste het na Hollywood in my huis, Die Pro en Die Wonderwerker kom kyk.

Danie Bester is daarna aangewys as Maroela Media se eerste Bioskoop-boffin en hy het ʼn spesiale Maroela-toekenning ontvang vir sy bydrae tot die Afrikaanse filmbedryf.

Lesers kan solank hul tande slyp vir die tweede Buitebioskoop wat binnekort in September aangebied gaan word.

Ons hart klop Afrikaans

In 2016 stel Maroela Media sy Koöperasie bekend – ʼn e-winkel waar jy unieke Afrikaanse produkte kan koop. Van ʼn kettie of ʼn egte boereporselein-blikbeker tot ʼn Afrikaanse bordspeletjie of ʼn T-hemp wat jou persoonlikheid weerspieël. Ons het iets wat elke hart en sak pas – kom doen na hartelus inkopies en wys jou hart klop Afrikaans!

Egte Boereporselein-blikbekers in Maroela se Koöperasie (maroelawinkel.co.za)

Egte Boereporselein-blikbekers in Maroela se Koöperasie (maroelawinkel.co.za)

Die pad vorentoe

Maroela Media se gemeenskap is uiteindelik uitgebou tot ons in Junie 2016 kon spog met meer as 1,1 miljoen unieke lesers per maand. Ons is die tweede grootste Afrikaanse webwerf en die grootste gratis Afrikaanse webwerf. Ons is boonop die negende grootste nuuswebwerf in die land.

Ons voltydse span bly klein met slegs 16 mense, maar ons harte loop oor van passie vir ons land en ons taal. Ons het verskeie medewerkers van oor die land en selfs ʼn paar in die buiteland.

Die Maroela-lesers kies om hulle nuus gratis en in Afrikaans te lees, en nooi hul vriende om saam te kom kuier.

Daarom sê ons vandag ook aan jou baie geluk met ons verjaardag – jy maak van Maroela Media die lekkerste kuierplek op die internet!

Maroela Media is veel meer as net ʼn Afrikaanse nuuswebwerf. Ons is ʼn kuierplek: die groot tafel in jou ouma se kombuis waar jy kan kom aansit vir ʼn koppie boeretroos en ʼn stuk melktert. Ons is die stoep op jou oom se plaas waar jy sit en stories luister terwyl oupa biltong kerf. Ons is die nuusleser met die vreemde pruik, die soustannie met die lekker bak beskuit, die skeidsregter en die oom op die pawiljoen wat nartjies gooi. Ons is jou taaljuffrou en die pêl wat saam stokkies draai. Ons is jou ouma se sagte skouer en jou oom se blinknuwe motor. Skink vir jou ʼn koppie boeretroos, dan kuier jy lekker saam.

Maroela Media se tydlyn

Maroela Media se tydlyn

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

JC ·

Baie geluk Maroela! Doen so VOORT vir AFRIKAANS “die soetste taal” en ons pragtige land!!

Pieter Ruthven ·

Geluk aan julle. Lewer ‘n puik diens en dit boonop gratis. Van ‘n stoere Afrikaanse ondersteuner.

Anti DA ·

Baie geluk julle is kookwater probeer asb vorentoe om oor ‘n voorval te berig soos dit is en nie soos die ander altyd polities korrek te wees nie.

Swartluiperd ·

Baie geluk julle almal wat daagliks kitsvars Afrikaanse nuus vir ons gee, ons is trots op Maroela. Leka vjaar

Rynhardt ·

Maroela media, baie geluk met jul verjaarsdag.Onthou om altyd meer vryheid van spraak toe te laat en die son sal nog meer helder skyn vorentoe vir jul!

Maria van Dieweeck ·

Aitsa! 5 Jaar! Baie geluk aan al 16 van julle, en lekker verjaar! Mag jul geseen word en mag ‘Maroela’ verdubbel in getal!

Lou ·

Baie geluk, julle is waarlik goeie voorbeeld.Ons gesin koop geen ander koerante.
Beriggewing oor ander sport soorte sal ook baie waardeer word.

magda ·

Baie geluk Maroela/. Baie dankie vir wat julle vir Afrikaans doen. En ook vir die Christelike
sy van Maroela. Doen so voort

Lekker verjaar! ·

Jul moet lekker verjaar, jul moet lekker verjaar en mag die Here jul seen en nog baie jare spaar! Dankie vir n leekkkkeeeerrrr kuierplek!

Hendrik ·

Baie geluk! Mag julle net van krag tot krag gaan.

Mag ek voorstel dat julle ‘n blog diens byvoeg? Daar is soveel aspirant skrywers daar buite wat na ‘n platform soek om iets te publiseer. Iets meer substansieël as Facebook.

Jackie ·

Baie Geluk met jul 5de herdenking. Ek lees elke oggend eers my KOERANT. Dit hou my op hoogte van gebeure. Dankie en mag daar nog 5000 wes vir my nageslag!!

RayA ·

Baie geluk met julle herdenking Maroela Media! Dis lekker om elke oggend gou-gou op hoogte van die nuus te wees en waar beter as hier by julle!

Theuns ·

Baie geluk Maroela en dankie dat julle ons teen ons self beskerm waneer ons warm onder die boordtjie raak. Julle laat ons toe om ons Vryheid van spraak uiteoefen deur met beskaafdheid met ons woorde omtegaan! Baie Geluk nogmaals!

treurgrond ·

Baie baie baie baie baie geluk Maroela – gaan so voort. Hiep Hiep Hoera

Delia ·

Baie geluk MM……mag julle van krag tot krag gaan!
My dag begin en eindig met Maroela.
NS: Ek hou van die foto….lyk heel plesierig!

Jurie ·

Baie geluk Maroela en mag julle van krag tot krag gaan ! Julle is nog ‘n vars bries in ‘n stinkende ashoop van die media wereld ! Sterkte vorentoe !

SNEL ·

Baie geluk Maroela, en baie dankie vir van nuus tot heerlike resepte, Bybel dagstukkies, gediggies…sommer alles. Julle is tops!!

Pierre ·

Baie geluk Maroela. In Ausralie vir 10 jaar nou en dit is al Afrikaans wat ek lees. Mis my mense my taal en my land. Wie weet. Boere groete van Downunder.

Willie ·

Baie geluk aan Maroela Media en sy personeel. Dankie dat julle Afrikaans hoog hou. Mag ons nog saam ‘n lang pad stap.

Francois ·

Ek is bly om te sien dat ‘n Afrikaanse webwerf sulke sukses behaal! Dankie vir al julle harde werk oor die jare, ons waardeer dit.

Helene Heyns ·

Veels geluk met hierdie mylpaal, Maroela. Gaan so voort.

Marlinda ·

Veels Geluk Liewe Maroela!!!
Ek wil nou in Engels sê: “Keep up the GOOD WORK”
Julle maak my TROTS Afrikaans!

PW Kruger ·

Baie geluk en dankie vir die voorreg om in afrikaans te kan nuus lees. Voorspoed en beste wense!

Dantjie ·

Ons pensioenarise is ook baie dank veskuldig aan Maroela. Lekker verjaar ook van ons kant af.

Lydia ·

Baie Geluk julle!! Ek vier saam julle my verjaarsdag vandag, so sal 2 stukkies koek eet!! Ha Ha

Eddie ·

Maroelamedia BO ! ! ! lekker verjaar , en mag daar nog baie wees van julle AFRIKAANS.

johann cb ·

Baie geluk Maroela Media, mag julle van krag tot krag groei en binnekort die 1,5 miljoen leserstal bereik! Ek sien uit na die volgende vyf jaar!

jeannine ·

baie geluk maroela so lees ek nog afrikaans nuus hier in belgie

Ivor ·

Baie geluk! Mag die Liewe Here almal by Maroela Seen! Mag Maroela van krag tot krag gaan!
Baie dankie vir ‘n puik koerant. Groete. Ivor.

Maggie Pringle ·

Baie Geluk!!!
So jonk , maar so vol wysheid.
Dis so lekker om Afrikaanse nuus elke dag in my e-pos te kry.
Mag julle van krag tot krag vorentoe gaan.

Janie Nel ·

Baie geluk julle, mag julle nog baie jare bestaan en net sterker word. Ek hou baie van die ordentlike Afrikaans wat julle gebruik.

George ·

Baie geluk en mag die jare vorentoe elke dag klim op die leer van sukses!
Baie dankie dat ek elke dag GRATIS nuus kan lees en op hoogte kan bly van gebeurtenisse.
Doen so voort!!!

cecilia behrens ·

Maroelamedia julle is eenvoudig tops!!!!!
Ons waardeer jul nuus geweldig baie!!!
Doen so voort!!
Seënwense.

Izzy ·

Ek begin elke dag met ‘n koppie koffie, ‘n stuk beskuit en Maroela nuus. Wonderlik om te weet ek kan nuus lees in my eie taal. Baie, baie geluk aan Maroela Media!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.