Hiér gaan Suid-Afrikaners uit Wuhan gehuisves word

The Ranch Hotel in Polokwane. (Foto: Google)

Die Suid-Afrikaners wat teruggebring word uit Wuhan in China sal vir die volgende twee tot drie weke in ʼn reservaat buite Polokwane (Pietersburg), Limpopo, in kwarantyn geplaas word.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdagaand aangekondig dat The Ranch Hotel in Limpopo as die geskikste perseel beskou word. Die regering soek reeds meer as ʼn week lank na ʼn geskikte plek om die groep van ongever 184 Suid-Afrikaners wat uit Wuhan terugkeer te huisves totdat mediese personeel seker is dié mense is nie met die koronavirus of Covid-19 besmet nie.

“Ons het 84 persele besoek, maar nie een het aan al ons vereistes voldoen nie. Dié perseel is egter afgesonder genoeg en het genoeg plek om al die Suid-Afrikaners en lede van die span wat na hulle moet omsien, te akkommodeer,” het Mkhize gesê.

The Ranch Hotel in Polokwane. (Foto: Google)

Die groep Suid-Afrikaners sal deur lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag én die polisie bewaak word, om te verseker dat hulle nie in kontak kom met enigiemand anders nie. Die minister het egter beklemtoon dat geen van hierdie mense nog positief getoets het vir die koronavirus nie. “Dit is slegs noodsaaklike voorsorgmaatreëls om te voorkom dat die virus versprei.”

Mkhize sê die span wat die groep Suid-Afrikaners uit China moet terugbring het reeds uit Suid-Afrika vertrek en sal hopelik voor die einde van die naweek weer na Suid-Afrika terugkeer.

’n Werknemer by The Ranch het aan Maroela Media gesê die oord berei tans voor soos hulle vir enige ander gaste sou voorberei.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verduidelik die regering se plan om Suid-Afrikaners in Wuhan, China, na Suid-Afrika terug te bring. (Foto: GCIS)

“Ons almal [by die oord] se harte is bly dat hierdie kinders kan teruggekom uit China en dat ons ’n rol daarin kan speel om hulle terug te verwelkom.”

Die minister het Donderdagoggend ook gesê dat een van die 17 Suid-Afrikaners wat sedert verlede week positief getoets het vir die koronavirus se toetsuitslae foutief was. “Verdere toetse het gewys dat die man in die Vrystaat, wat ons geglo het die eerste geval van ʼn plaaslike aansteking was, nié die siekte opgedoen het nie,” het Mkhize Donderdagaand gesê. Daar is aanvanklik berig dat die man die virus by ʼn Chinese sakeman in Suid-Afrika opgedoen het. “Daar is dus nog niemand wat die virus opgedoen het sonder om na die buiteland te reis nie. Ons weet ook nie van enige Chinese sakeman in Suid-Afrika wat die virus het nie,” sê Mhkize.

Studente van Limpopo wat onlangs na China gereis het, het intussen ook negatief getoets vir die virus.

Intussen is die eerste sterfte weens Covid-19 in Algerië aangemeld. Dit is die derde sterfgeval weens dié virus op die Afrika-vasteland.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

54 Kommentare

jongste oudste gewildste
PieterP

Magtig maar dit is lekker, dink ek het ook die afsondering nodig.

andre

ek verstaan dit net nie…jy het geld gehad om uit die land te vlug of te gaan werk….nou moet belasting betaler betaal dat jy kan terug kom en in in hotel gaan sit

Strandloper

So bly almal is op een plek en nie die hele land vol soos aanvanklik berig is….

marius

Afgesonder ? Tussen N1 met ‘n vulstasie en oorspronkilke pad wat nie eers 5km uitmekaar is nie ! Wie betaal daarvoor makisie en wat is die bedrag ?

Foefie

Jissou mens weet nie meer WAT om te glo nie. Rerig. Gister-middag kry ek ‘n clip van ‘n Suid-Afrikaanse dokter in Italië, en wat sy kwytgeraak het, en wat ek geneig voel om te glo, is dat ons grotendeels belieg word. Daar is volgens haar (en internasionale intel) sowat 700 mense wat geaffekteer is in SA en meer as 1000 mense in ‘n Afrika land (Kenia of Nigeria, nie seker nie) al dood. As mens na haar luister, wat saam met ander mediese personeel 3 ure slaap kry per nag oor die pandemie Italië omtrent oorgeneem het en oor die… Lees meer »