Hier is die beste selfoonnetwerk tydens inperking

(Foto: Jaelynn Castillo/Unsplash)

MTN was die beste selfoonnetwerk tydens die land se afsonderingstydperk. Dít volgens ʼn verslag wat deur MyBroadband Insights bekend gemaak is oor die gehalte van selfoonnetwerke .

Ná 278 890 spoedtoetse deur 17 573 MyBroadband-spoedtoetsapp-gebruikers tussen 1 April en 30 Junie gedoen is, het MTN die hoogste gemiddelde aflaaispoed gehad met 52,28 Mbps, gevolg deur Vodacom met 29,08 Mbps.

Telkom, Cell C en Rain het die laagste aflaaispoed gehad met 20,16 Mbps, 17,62 Mbps en 10,64 Mbps onderskeidelik.

MTN is ook die beste selfoonnetwerk in Tshwane, Johannesburg, Kaapstad en Durban.

Om die beste selfoonnetwerk in Suid-Afrika te bepaal het MyBroadband Insights ʼn netwerkgehalte-telling aan elke netwerk toegeken. Dié telling is gegrond op elkeen se aflaaispoed, oplaaispoed en wagtyd. MTN het oor die algemeen die hoogste telling van 9,94 uit 10 behaal, gevolg deur Vodacom met 6,17.

Argieffoto.

“Tydens die afsonderingstydperk was selfoonnetwerke onder druk om goeie diensvlakke te handhaaf te midde van die toenemende vraag na data,” lui die verslag.

“Die hoër dataverkeer, wat tydens die afsonderingstydperk met 50% toegeneem het, sou tipies daartoe lei dat die netwerkspoed verminder. Te danke aan die tydelike spektrum wat deur Icasa aan selfoonbedieners uitgereik is, was dit nie die geval nie.”

Rain was die enigste selfoonnetwerk wie se gemiddelde aflaaispoed eksponensieel gedaal het, ondanks die bykomende spektrum wat hy ontvang het.

Volgens die verslag is dit omdat die frekwensies wat aan Rain toegeken is, nie geskik was vir vinnige ontplooiing met sy huidige radio’s nie. “Dit beteken dat Rain nuwe radio’s moet aanskaf om die nuwe spektrum te gebruik. Rain is reeds besig met dié proses.”

Die uitwerking van die afsonderingstydperk op selfoonnetwerke se aflaaispoed:

NetwerkverskafferQ1-aflaaispoed (Mbps)Q2-aflaaispoed (Mbps)Verandering (%)
MTN43,4752,28Op met 20,27%
Vodacom29,7929,08Af met 2,38%
Telkom19,1120,16Op met 5,49%
Cell C17,5217,62Op met 0,57%
Rain15,2010,64Af met 30,00%

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KB ·

Die “beste” is ‘n wanpersepsie (gegewe die maatstawwe wat gebruik is). Die vinnigste miskien ja.
Wat van SMS-diens, bel-diens, suiwerheid van klank, beskikbaarheid, koste van diens?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.