Hiér is invloedrykste handelsname in SA

inkopies-aankope-sakke-vrou

Argieffoto: Gonghuimin468/Pixabay.com

Die meningspeilingsfirma Ipsos het vandeesweek bekendgemaak watter produk- of handelsname deur verbruikers as die invloedrykste in Suid-Afrika geag word.

Ipsos het die uitslae van dié meningspeiling Vrydag by Melrose Arch in Johannesburg bekendgestel.

Die peiling is van 20 April tot 7 Junie vanjaar gedoen deur onderhoude met 3 619 volwasse Suid-Afrikaners te voer. Die deelnemers is lukraak gekies en onderhoude is by hul huise en in hul moedertale gevoer. Die deelnemers kom van oral oor, wat metropole tot baie afgeleë landelike gebiede insluit. Altesaam 120 handelsname is by die navorsing ingesluit.

Die navorsingsverslag lys nie net die invloedrykste handelsname in Suid-Afrika nie, maar bestudeer ook die aspekte wat elkeen se invloed dryf. Die aspekte waarna gekyk word, sluit in toonaangewendheid, respek, teenwoordigheid, geloofwaardigheid en interaksie.

“Dít is allesbehalwe ʼn gewildheidskompetisie tussen handelsname. Dit kyk spesifiek na die invloed wat hierdie merkname op Suid-Afrikaanse verbruikers se alledaagse bestaan het,” sê Ipsos se Ray Kong.

Uit die toptien merkname het vier kleinhandelname die lys gehaal. “Dit is waarskynlik die gevolg van kleinhandelwinkels wat ʼn eenstop-huishoudingbestuur-bestemming word – bankdienste word daar aangebied, rekeninge en lisensies kan daar betaal word, die winkels dien as verspreidingspunte vir maatskaplike toelae en stel mense in staat om vinnig en maklik vir mekaar geld te stuur,” sê Kong.

Nog ʼn interessante waarneming is dat verskeie plaaslike handelsname die toptienlys gehaal het, in teenstelling met vele ander markte oor die hele wêreld. Kong meen dit dui daarop dat die plaaslike handelsname die wesensbehoeftes van hul gemeenskappe verstaan en hul verbruikers laat voel asof hul behoeftes raakgesien word.

Eenvoud is ook ʼn sleutelaspek wat onder SA se toptien merkname opgemerk word. Waar digitale en tegnologiese handelsname in die meeste ander markte oorheers, het net een digitale handelsnaam die toptien in Suid-Afrika gehaal.

“Die handelsname wat geseëvier het op die invloedskaal is daardie merkname wat ingewortel is in Suid-Afrika, wat tradisionele gebruike en waardes handhaaf, maar steeds vorentoe beweeg om aan kliënte se behoeftes te voldoen.”

Die toptien invloedrykste produk- of handelsname in Suid-Afrika is:

  1. Pick n Pay
  2. Shoprite/Checkers
  3. Coca-Cola
  4. Colgate
  5. Vaseline
  6. Spar
  7. Sunlight
  8. WhatsApp
  9. Woolworths
  10. Koo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Discrimanatory Medical Fund ·

Eienaardig dat Discovery, Sasol en so voorts nie dié lys haal nie.

MH ·

3619 uit ‘n volwasse bevolking van 39 miljoen. Dit is 0.009% van die bevolking. Kan dit beskou word as ‘n verteenwoordigende monster?

Skroef ·

Hiu gerus in gedagte dat jy nou te dien het met good ole SA se eenkleur-reenboognasie

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoe kan hierdie geloofwaardig wees in ‘n land waar ‘n enige plastieksak ‘n “Checkers” is, enige tandepasta “Colgate” is, en enige stofsuier ‘n “Hoover”? Hahahahaha…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.