Hiér is land se nuwe premiers

David Makhura, premier van Gauteng. Foto: GCIS

Provinsiale wetgewers oor die hele land het Woensdag hul eerste sitting gehou vir die beëdiging van hul nuwe lede, asook verkiesing van hul nuwe premiers.

Die ANC se David Makhura behou sy amp nadat hy bo die DA se Solly Msimanga tot premier van Gauteng verkies is.

Makhura het in sy bedankingstoespraak gesê dit is ʼn eer en voorreg om vir die tweede keer as premier van dié provinsie verkies te word. Hy het die sowat 4,3 miljoen kiesers bedank wat vandeesmaand in die land se sesde nasionale verkiesing gestem het.

“Ons het ʼn vreedsame en regverdige verkiesing gehad waarin landsburgers die geleentheid gebied is om diegene te kies wat ons land moet verteenwoordig en diegene wat hulle in wetgewende liggame moet verteenwoordig. Die verkiesingsveldtog is verby. Dit is nou tyd om al die burgers op ʼn niepartydige wyse te werk en te dien,” het hy gesê.

Makhura beoog om prioriteit aan onder meer werkskepping, misdaad, onderwys en gesondheidsorg in die provinsie te verleen.

Die DA se Alan Winde is op sy beurt as premier van die Wes-Kaap verkies. Hy het die ANC se Cameron Dugmore uitgestof met 24 stemme teenoor 10. Ses van die stemme was bederf.

Winde sal die amp by Helen Zille, voormalige premier van die Wes-Kaap, oorneem.

Oscar Lubabalo Mabuyane, voormalige provinsiale voorsitter van die ANC, is as premier van die Oos-Kaap verkies.

Mabuyane het in sy toespraak gesê die ANC is mense goeie diens verskuldig vir hul volgehoue ​​lojaliteit teenoor die regerende party.

Hy het verder gesê hy sal binnekort die name van sy provinsiale kabinet bekend maak. “Dit sal mans en vroue wees wat geskik is vir die doel en sal verseker dat ons ʼn nuwe hoofstuk skryf in ons reis om ʼn beter lewe vir almal te skep.”

Zamani Saul beklee die amp as premier in die Noord-Kaap, terwyl Sefora Ntombela as premier van die Vrystaat verkies is. In Noordwes sal Job Mokgoro die leisels neem en in KwaZulu-Natal beklee Sihle Zikalala die premierspos. In Limpopo keer Stan Mathabatha terug as premier en in Mpumalanga is Refilwe Mtsweni as premier ingesweer nadat die EFF se Collen Sedibe met 22 stemme teenoor vier uitgestof is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maria ·

Hoop net hul hou die vingers uit die koekieblik alhoewel daar nie meer koekies oor is nie.Wat is positief omtrent die hele verkiesing veral omtrent die misdadiger wat verkies is tot minister.Dan sweer hy nog onder eed.?

Johan ·

Die wes kaap bly darrem gespaar van n stadige pynvolle dood. Dank die Vader.

SjN ·

Aangesien hul die leisels gaan oor neem moet hul voorsien word van donkie karre.

hercu ·

g’more ☕

ek dink ons moet vir almal, van CR, tot by die skoonmakers in die parlement bid en hulle seën, want die Here het in Num dit van Moses gevra!

shalom

shalom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.