Hiér is Maroela Media se eie liedjie, Plattelanders!

Skop uit jou vellies, maak jouself tuis
Koffie in die hand – jy’s by die huis…

As mens lekker saamkuier, is ʼn bietjie musiek in die agtergrond darem ʼn noodsaaklikheid. Ons kuier so lekker saam hier op Maroela dat ons besluit het dis tyd vir ons eie Maroela-liedjie!

Die idee vir ʼn eie Maroela-liedjie het sy ontstaan gehad toe Maroela Media temamusiek nodig gehad het vir Plattelanders, een van Maroela se radiovervolgverhale wat jaarliks in samewerking met Bettie Kemp vervaardig word. Die produksiespan kon net nie musiek kry wat die storie van Plattelanders in klank vasvat nie, en daarom is die talentvolle liedjieskrywers en musikante Muller Brandt en Michael van der Walt gevra om vir die radiovervolgverhaal sy eie temamusiek te skryf.

“Die klank moes eg Afrikaans wees, maar ook spreek tot ’n mark wat wyer is as net die platteland. Iets tong-in-die-kies, positief en vrolik, wat boeretrooskuiers en samesyn versinnebeeld,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Die wysie was uiteindelik só aansteeklik en so eie aan Maroela se karakter dat die Maroela-span en die kunstenaars besluit het om lirieke ook by te werk.

“Michael en Muller is albei baie talentvolle musikante wat graag saam werk. Hulle klank is eg Afrikaans en hulle het ’n goeie sin vir humor. Daarom was hulle die perfekte kunstenaars om dié liedjie se lirieke en musiek te skep,” voeg Lombaard by.

Volgens die sangers, wat ook die liedjie vervaardig het, het hulle ’n tipiese prentjie probeer skep van hoe dinge op ’n plattelandse dorpie sou verloop – met die hoop dat almal wat al in ’n stadium op ’n kleindorpie gewoon (of gekuier) het, daarby aanklank sal vind. Die eindresultaat is ’n opgewekte lekkerluister-dansnommertjie wat, met die gebruik van verskeie instrumente, onder andere ʼn mondfluitjie, dit regkry om die wel en weë van die Afrikaanse gemeenskap perfek vas te vang. Die lirieke vertel van kinders wat op hul fietse in die strate kerjakker en eers huis toe kom as die straatligte aangaan; van vriende wat op die stoep saamkuier met ʼn koppie boeretroos; en van die draadloos wat in die agtergrond speel terwyl Oupa die koerant lees.

Dit herinner ook dat, alhoewel die lewe gebeur en nuus nie altyd positief is nie, tragedies soos droogtes en vloede die Afrikaanse gemeenskap dikwels nader aan mekaar bring.

“Afrikaans is veel meer as ’n taal. Dis ’n identiteit waarmee miljoene mense in ons land vereenselwig. Met ‘Plattelanders’ wou ons met klank en lirieke ’n prentjie skep van wie ons is. Ons glo dat elke Afrikaanssprekende iets van hom- of haarself in die liedjie sal vind. Ons hart klop Afrikaans en met hierdie liedjie neem ons ons droom, om ’n Afrikaanssprekende gemeenskap uit verskillende agtergronde saam te bind en te laat tuis voel, nog ’n treetjie verder. Ons wil hulle weer laat saamsing en -lag en hulle met nostalgie herinner aan waar hulle vandaan kom. Ons wil vir hulle hoop skep deur ’n liedjie wat uit die gemeenskap vir die gemeenskap is.”

Soms is daar droogte, soms spoel alles weg
Soms raak die geskinder ʼn bietjie erg
Maar in tye van nood is almal daar
Op die einde van die dag is ons daar vir mekaar…

Die enkelsnit is gratis beskikbaar in Maroela se aanlyn winkel, Die Koöperasie.

Dis mos nou lekker, Maroela!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cornelia Steyn ·

Pragtige liedjie. Nogal nostalgies. Geluk aan almal wat betrokke was. Doen so voort. ????????

Yvonne ·

Hi Maroela, gaan Die Koöperasie spesiale aanbiedinge hê vir Kersfees?

Sune van Heerden ·

Dagsê Yvonne

Ons beplan ‘n afslag-Vrydag in November – bly dus gerus ingeskakel!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Annette ·

Die liedjie laat mens baie vêr terugdink! Baie geluk Maroela.

Muriel ·

Welgedaan. Geniet die ritme en beskrywende woorde en is ‘n trotse plattelander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.