Hiér is nuwe ANC-leierskap in Gauteng

Die ANC se nuwe leierskap in Gauteng is van links Parks Tau (tesourier), Nomantu Nkomo-Ralehoko (adjunksekretaris), Jacob Khawe (sekretaris), Panyaza Lesufi (adjunkvoorsitter) en David Makhura (voorsitter). Foto: ANA

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng en lid van die ANC se uitvoerende komitee in dié provinsie, is as die ANC Gauteng se nuwe adjunkvoorsitter aangewys.

Lesufi, van die Ekurhuleni-streek, het Lebogang Maile vir dié posisie uitgestof by die party se provinsiale konferensie wat tans in Irene in Pretoria aan die gang is. Lesufi het 22 meer stemme as Maile verower.

Altesaam 1 244 afgevaardigdes het gestem vir die laaste vier leierskapsposisies nadat David Makhura, premier van Gauteng, Vrydag onbestrede tot voorsitter verkies is. Volgens die verkiesingsagentskap het 12 afgevaardigdes nie gestem nie.

Jacob Khawe, voormalige burgemeester van Emfuleni, is die nuwe provinsiale sekretaris nadat hy teen Boyce Maneli, burgemeester van die Wesrand-distriksmunisipaliteit, te staan gekom het. Nomantu Nkomo-Ralehoko is tot adjunksekretaris verkies en Parks Tau, die voormalige burgemeester van Johannesburg, is die nuwe tesourier.

Die nuwe leierskap het onder luide toejuiging op die verhoog gestap. Paul Mashatile, voormalige provinsiale voorsitter, het by hulle aangesluit en die gehoor het luid die bekende ANC-lied “Phakama” begin sing.

Die tweede dag van die konferensie sal grootliks aan kommissies bestee word, waar afgevaardigdes ANC-beleidstellings sal evalueer. Hulle sal na verwagting Sondag terugvoer gee oor hul besluite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henk ·

Julle foto benaming is foutief. Julle noem daar David Mabuza is tot voorsitter verkies terwyl dit Makhura moet lees

Mariné Lourens ·

Dagsê Henk

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Sieg ·

Die DA is deesdae net so treurig as die ANC ek wil nie meer vir hulle stem nie.

Haan ·

Irene: die grootste konsentrasiekamp. Smuts se plaas, en nou die ANC konferensie. Lyk my ons vyande kom telkemale van dieselfde plek af

Paul ·

Lesufi begin nou onaantasbaar raak, al groter in statuur, hier kom nog groot probleme vir Afrikaans.

Henk ·

Stem Paul. Die affere is erger as Malema, die mense sien dit net nie raak nie Wat kommerwekkend is , is dat al hoe meer militantes op die voorgrond tree en dit voorspel niks goed nie

dejager ·

Beteken dit dat Lesufi nou nie meer hom met onderwys gaan bemoei nie?Enige iemand anders
sal beter wees.Hy moet eintlik die LUR van vernietiging van onderwys ter wille van politieke punte genoem wees.ń Metro Malema as jy my vra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.