Hiér is opposisieleiers se verwagtings van staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede in Februarie 2019 (Foto: Phando Jikela/ANA)

Beleidsekerheid, versoening en ekonomiese rigting is wat opposisieleiers die graagste in pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede wil hoor.

Maroela Media het Woensdagoggend met die DA-leier, Mmusi Maimane, die VF Plus se dr. Pieter Groenewald en eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP gesels om hul perspektiewe te verkry.

Maimane sê die rassespanning, taalspanning en dies meer in die land is besig om kookpunt te bereik, en dat Ramaphosa die leiding sal moet neem om dit te ontlont.

Voorts wil die DA-leier beleidsekerheid sien, veral met betrekking tot ekonomiese beleid, sodat binnelandse en buitelandse beleggers Suid-Afrika as aantreklike beleggingsmoontlikheid kan sien en die ekonomie kan groei.

“Dit sal ook vereis dat die bontpratery oor byvoorbeeld die mandaat van die Reserwebank end kry. Arbeidswetgewing moet aangepas word en die mynboumanifes moet so hersien word dat dit belegging en werkskepping in die mynboubedryf aanmoedig,” het Maimane gesê.

Wat veiligheid betref het Maimane gesê plaasmoorde moet dringend tot prioriteitsmisdaad verklaar word en dat meer polisiëringsmagte afgewentel moet word sodat plaaslike kennis van spesifieke behoeftes met misdaadbestryding in ag geneem kan word.

Wat die vasvat van korrupsie betref vra die DA vir ʼn ad hoc-komitee om Bosasa se rol in staatskaping te ondersoek, en spesifiek die rol met betrekking tot Ramaphosa en sy seun, Andile.

Mmusi Maimane. (Foto: AP Photo/Jerome Delay)

Die DA meen nasionale gesondheidsversekering moet op die lange baan geskuif word want die land kan dit nie nou bekostig nie.

Aan die onderwysfront meen Maimane niks gaan verbeter voordat die onderwysvakbond Sadou vasgevat word sodat sy lede hul werk behoorlik doen nie.

Namens die VF Plus het Groenewald gesê hy verwag dieselfde breë retoriek wat op die ekonomie en ander aktuele standpunte sal fokus, maar dat dit lankal nie meer goed genoeg is nie.

“Die president moet in besonderhede uitstippel hoe hy voorstel die probleme opgelos moet word – hy moet nie net die probleme identifiseer nie. Dit sluit in wat van staatsbeheerde ondernemings gaan word, maar dan met behulp van spesifieke stappe, in besonderhede.”

Groenewald sal veral aandag gee aan hoe Ramaphosa voorstel die misdaadkrisis, wat volgens die VF Plus buite beheer is, benader gaan word, met spesifieke verwysing na plaasmoorde.

Ten opsigte van versoening wil Groenewald veral hê die gewoonte om wit mense te blameer vir alles wat verkeerd loop, moet duidelik deur Ramaphosa veroordeel word. “Ons wys telkens aan die president uit dat ons wil hande vat en Suid-Afrika wil bou, maar dit voel asof ʼn mens as antwoord telkens ʼn skop in die tande kry,” aldus Groenewald.

Vir die ACDP is beleidsekerheid die belangrikste vereiste in die staatsrede. Meshoe het gesê die onsekerheid oor die Reserwebank en ander aspekte skrik broodnodige beleggings af.

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

“Die president moet dit duidelik maak waar hy oor hierdie en ander kwessies staan, anders sal onsekerheid bly kop uitsteek,” het die ACDP-leier uitgewys.

Werkloosheid en ekonomiese agteruitgang, soos aangetoon in die dalende bruto nasionale produk, is volgens Meshoe die verhaal wat hom daagliks uitspeel op straathoeke waar mense sit en wag vir werk. ʼn Beleggingstimulus wat beleggersvertroue sal versterk is dus vir die ACDP prioriteit.

Voorts wil Meshoe ʼn misdaadplan sien wat oortreders spesifiek swaar sal straf, ook wat verkeersoortredings betref.

Hy het ʼn beroep gedoen dat praatjies oor die herverdeling van grond deur onteiening sonder vergoeding dadelik in die kiem gesmoor word, want dit sal volgens hom lei tot ʼn tweede Zimbabwe, waar die regering dieselfde boere wat hulle eens weggejaag het, nou smeek om terug te kom en te boer sodat daar voedselsekerheid kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

9 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Pres CR moet bietjie ruggraat toon, die hand skoene uittrek, en dinge kwytraak wag GEDOEN gaan word mbt onder meer die ekonomie, plaasmoorde/moorde in die besonder en misdaad in die algemeen, staatskaping en die Zondo Kommissie se onthulling – sodat skuldiges kan tronk toe, om n paar te noem! Nie wollerige praatjies wat eintlik niksseggend en van geen waarde is, as dit net by woorde bly nie!

Gert van Wierdapark ·

Ek hoop maar net dat die Groot Ver-Wag-ting van die pres se staatsrede (met vriend Ys/Ace in die omgewing) nie ‘n politieke miskraam gaan wees nie!!!

Realis ·

Heh heh! 25 Jaar en julle dink enige iets sal verander van die pad van vernietiging waarop die ANC en sy stemkudde reis?
Baie dobbelaars maak dieselfde fout; As die bal 10 kere op rooi geval het wed hulle die heeltyd op swart want “hy gaan nou op swart val”. Statistiek het reeds al bewys rooi gaan waarskynlik ook die volgende een wees.
Die beste wat die opposisie kan verwag is woorde wat hul ore streel. Geen werklike aksies nie. Reeds 25 jaar so, hoekom sou dit verander?

Adam ·

Wat Maimane en Dr Groenewald wil hoor is presies wat SA nodig het om in ‘n paradys te verander. CR sal dit egter nooit kan lewer nie.

Genieve ·

Die plaasmoorde..plaasmoorde asb!!!!!!..moet ook aangespreek word

willem Botha ·

Wat ek die graagste wil hoor is dat nie meer wetgewing sal wees wat diskrimineer teen wit mense nie skrap bee en swart bemagtiging verban kwotastelsel in sport en laat almal op meriete meeding vir werk en sport na 25 jaar se verdrukking is dit die regte ding om te doen.

Ben ·

Môre is dit pres Ramaphosa se laaste kans om reg te maak wat krom is. Hy sal baie moet praat, anders is dit neussie verby en kan ons tata sé vir Suid-Afrika.

johanII ·

Verwag maar dieselfde twak wat nêrens heen gaan nie. Sprinkane kan nie ophou vreet….. tot daar niks oor is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.