Hier is Ramaphosa se adviespaneel oor grondhervorming

landbou-mielies-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die presidensie het laat hoor dat pres. Cyril Ramaphosa ʼn adviserende paneel oor grondhervorming aangestel het om die interministeriële komitee (IMC) oor grondhervorming te ondersteun. Die IMC word deur adjunkpres. David Mabuza gelei.

Dié paneel van tien sal die IMC adviseer oor ʼn groot reeks beleidsake wat verband hou met grondhervorming – insluitend restitusie, herverdeling, verblyfreg en landbou-ondersteuning.

“Die paneel bestaan uit tien lede wat by uitstek kwalifiseer uit hoofde van hul akademiese agtergrond, professionele ondervinding, sosiale entrepreneurskap of aktivisme wat verband hou met die landbou, ekonomie en grondbeleid,” lui die presidensie se verklaring.

Ramaphosa meen die paneel sal die IMC se beraadslaging oor grondhervorming kan verryk. Die paneel het die opdrag om navorsing te doen en voorstelle te maak oor modelle wat ʼn regverdige en billike grondhervormingsproses sal bewerkstellig en sodoende die ongeregtighede van die verlede herstel, landbouproduksie verhoog, ekonomiese groei bevorder en voedselveiligheid beskerm.

Die paneel het Dinsdag vlugtig in Pretoria met Ramaphosa en Mabuza vergader.

Die paneel sal gelei word deur dr. Vuyokazi Mahlati, sosiale entrepreneur en openbarebeleid- en ontwikkelingsbeplanningspesialis. Hy is ook die president van die African Farmers Association van Suid-Afrika.

Die ander nege lede is:

Prof. Ruth Hall, navorser en professor by die Universiteit van die Wes-Kaap se instituut vir armoede, grond en landboustudies.

Prof. Mohammed Karaan, professor in landbou-ekonomie by die Universiteit Stellenbosch.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, prokureur, openbare spreker en outeur.

Bulelwa Mabasa, prokureur met meer as 16 jaar ervaring waarvan 12 oor grondhervorming, verkryging, tenders, erfenisregte en dies meer gehandel het.

Dr. Thandi Ngcobo, uitvoerende hoof en stigter van die Dr. J L Dube-instituut van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Wandile Sihlobo, hoof van navorsing by die landbou-sakekamer van Suid-Afrika. Hy is ook ʼn onafhanklike landbou- ekonomiese adviseur vir die Afrgrain Food Group.

Daniel Kriek, Vrystaatse boer en president van AgriSA. “Hy glo in progressiewe strategieë en opvattings om eenheid in die landbou te bereik.”

Thato Moagi, jong opkomende boer en entrepreneur.

Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep. Hy was in 2016 die Vrystaat-boer en -mentor van die jaar en vestig sy aandag op programme vir ontwikkelende boere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

rooikop ·

Daar is altyd die “token white” in die vors van ‘n verloopte afrikaner by die goed ingesluit. Iemand wat sy eie mense haat ten gunste van die vyand. Onteiening sonder vergoeding is en bly diefstal al is dit wettig.

Jerry ·

Wel, wel, wel! Toe is dit nie net lippetaal nie. Daar bars CR al julle babbels. Dit gaan goed gaan terwyl CR aan bewind is en dit gee genoeg tyd vir die Afrikaner om sy huis in orde te kry vir wanneer n Zupta weer aan bewind gaan kom! Gebruik dus hierdie tyd met groter wysheid!

What a joke! ·

Weet dit gewis ou Jerry dit is jou mense wat die swaarste gaan trek aan die einde wag en sien….Ons kyk dan wie lag ne…..Jy dink Zim was n grap ne ok ons sal sien ouboet!

Eish ·

“Koop die tyd uit omdat die dae boos is.”
Efesiërs 5:16.
Ons verskil ten dode onder mekaar as minderheidsgroep.
Ons sit tog bymekaar, aangesien ons die minderheid uitmaak, maar in verskillende rye in die saal. Die rykes, magtiges en vernames, voor in die sagste stoele en naaste aan die verhoog van hoogdrama, waarvan die plekkaartjies die duurste was. Die armeres, ontneemdes en afgeslagtes na agter, waar die uitsig nie so goed is nie, die klanke nie so helder is nie en die lugreëling feitlik geen uitwerking het nie.
Maar ons sit in dieselfde saal…
Word ons verskille aangevuur deur ons omstandighede, geld, status en bates? Kom die geraas en geskree nie juis van diegene in die voorste gestoeltes, noudat n brand op die verhoog uitgebreek het nie?
Die arm bedelaar neem n donasie van enigeen, sy honger laat nie toe dat persoonlike sienings sy volgende maaltyd verongeluk nie.
Ons sit in dieselfde saal en die brand wat uitgebreek het op die verhoog, dwing ons deur dieselfde uitgang, die agterdeur, die slimmes en dommes, die rykes en armes, die regses en die liberale, almal wat nie oorval wil word deur die brand nie, moet deur die agterdeur!
Die armes, verontregtes, benadeeldes, verloorders en veroordeeldes, sit in die agterste gestoeltes, naaste aan die enigste uitgang…

Willem ·

Jerry, en daar ignoreer jy al wat ekonoom in die land is, Afrikaans of Engels (onder andere Daniel Silke), ook die DA en die VF Plus, se relaas en repliek op die medisyne wat Cyril vir die land wil gee. Baie realisties. Hulle het ook almal deur die bank ‘n probleem omdat daar nie detail gegee word nie, maar net mooi planne soos in die verlede. Maar nee, duidelik is jy in jou eie klas.

Thinus ·

80% verteenwoordiging deur pro onteininging sonder vergoeding kandidate en 20% wat die regering se OSV se plan steun. Weereens word ons uitverkoop.

Blits ·

Dis eintlik 100% want almal op di paneel staan sterk vir onteiening sonder vergoeding en ondersteun CR se siening en planne 1000%

WitBlits ·

Net nog ‘n politiese rookskerm en dan kan die agbare president homself ontskeld van enige meedoening, want “die slim mense” het die aanbevelings gemaak!

Grassie ·

Nou wonder ek waarom het ek geen vertroue hoegenaamd in CR se adviespaneel nie.

Stephen Namibia ·

20% verteenwoordiging van diegene wat 90% van die landbou produkte voorsien??

Danie Beeslaar ·

Ek verskil, meer as die helfte van die paneel, ongeag hulle kleur het hulle al uitgespreek teen grondonteiening sonder vergoeding. Het eers bietjie gaan lees daar oor. Daar is wel ander wat dit voorstaan.

Jerry ·

Ten minste is 20% nie op die spyskaart nie. Julle sluit julself uit en gaan dus net julself kan blameer. Gaan kyk in die spieel en as julle nie hou van wat julle sien nie, kom sluit aan by die wenners!

wet ·

Wenners? Mense van zim se ons is op die selfde pad as hulle, en ek praat nie nou van witmense nie hoor. Dit het by hulle ook so begin. Jy sal maar moet leer dat ekonomiese beginsels nie die knieg buig voor enige mens of president nie.

Willie ·

Wie gaan my saak verdedig ? Nie een van die 2 boere verteenwoordig my nie , want
ek vertrou hulle nie en het hulle ook nie n mandaat gegee om my te verteenwoordig nie .

PLP ·

Hulle het nie n mandaat van jou nodig nie. Moet al 65,000 boere nou vir hulle n mandaat gee. Jou redenasie is belaglik. Verdedig jouself as jy niemand n kans wil gun nie.

Jerry ·

Willie, hulle verteenwoordig 20%. Jy is deel van die 80% wat julself uitgesluit het en op die spyskaart beland het!

Regverdig ·

Mense wat lekker kry uit n ander se pyn ,gaanvself rekenskap moet gee…daar was en sal nog altyd mense wees wat saam die vyand span met die hoop hulle sal oor die hoof gesien word maar gaan kyk maar na geskiedenis almal kry wat hulle toekom selfs die veraaiers..

Barend ·

Regverdig, hy tel al meer spoed op en raak al meer selfversekerd met dit wat hy uiter soos die tyd aanstap, hy het nou onstopbaar op ‘n dwaalspoor geraak soos ‘n weghol trein.

PJC ·

Ek dink nie hierdie paneel soos al die ander gebeure tot op datum skep enige vertroue nie.

Gerhard ·

Ek is seker die paneel sal sy werk behoorlik doen en die president presies vertel wa hy wil hoor ;-)

Beesblaas ·

Jerry, aangesien jy so n vurige ondersreuner is van hierdie proses, sal jy die voorstel aanvaar as jou eiendom eerste op die lys is sonder vergoeding?
Dit sal niks minder as reg wees as hierdie twee boere ook eerste in die ry staan en alle raad wat hulle bedien eers op hulle eiensomsreg van toepassing sal wees.

hoe sê ·

Jerry as ek jou reg verstaan as almal by julle aansluit is almal se grond veilig kan jy dit vir my waarborg . Nee Jerry terwille van julle self gaan julle die res moet slag en jy noem jouself ‘n wenner ek ken beter beskrywing vir julle

Ian ·

Lyk vir my na ‘n goeie paneel. Kom ons wens hulle sterkte toe met die groot taak.

Koos ·

Kyk ‘n slag nugter en versigtig na die 10 lede van hierdie belangrike kommisssie en hoop dan vir ‘n redelike uitkoms.

Natuurlik gaan daar baie druk wees op die lede in hierdie kommissie, almal van hulle gaan hulle standpunte baie goed deurdag moet stel en beredeneer om deur die ander aanvaarbaar en werkbaar beskou te kan word.

Dít op sy eie, bied ‘n mate van redelikheid wat hieruit kan voortspruit en tesame met die keuse van kommissie lede, is daar tóg hoop vir almal in die finale uitsprake wat kan volg.

Wees eerlik en erken dat hierdie kommissie se lede baie, baie anders kon gelyk het en dan sou daar bitter min positiewe vooruitsigte hieruit kon spruit.

Só, kom ons bid hierdie mense baie sterkte toe en hoop en vertrou dat ons goeie Vader hier ook, soos oral altyd, Sy invloed sal laat deur rys in hierdie kommissie se werking, tot voordeel van al ons land se mense.

christo ·

Julle is reg ek vetrou hierdie Dan Kriek glad niks, hy verteenwoordig nie my en baie ander boere ,dink hul is die selfde kaliber as Roelf Meyer en kie

Geweeg en te lig bevind ·

Ek lees die berig weer om te sien of ek daaruit kan kry wat Jerry laat op en af spring. Maar daar is heeltyd ‘n stem in my kop wat sê: Wat van staats kaping en die getuienisse wat beweer die ANC het vergaderings met hulle belê en was dus ten volle bewus. Ugh! hoeveel keer Piet, hoeveel keer wil julle nog oor die kranse gegooi word.

1+1 ·

Wat moet gebeur sal gebeur. Ons veg lankal nie meer die geveg nie. Die uitkoms van hierdie saak is reeds vasgestel deur Hom wat in beheer is van alles ,ook in SA. Al is ons net, eerbare getuies.

Cherokee ·

Onthou dat God nie pionne geskep het nie, maar mense met ‘n eie wil en met diskresie. Nie robotte nie maar mense met beperkte mag om eie paaie uit te kap. Hy het ons geskep met verstand wat ons veronderstel is om te gebruik. As jy groente plant en dit nie natlei nie kan jy nie ‘n misoes beskryf as vooraf beplan van Bo nie. Ons is geskep met verstand.

Susan ·

Ek en my gesin pak ons redes in ons tasse en dan sien ons die hool nooit weer nie. Good riddance.

Buks Barnard ·

“Adviespaneel oor grondhervorming” maai aai. Dit is Ramapokker se medepligtiges in gronddiefstal. “Grondhervorming” is niks anders as gronddiefstal nie en dit is van die begin af en in enige gedaante onregverdigbaar, skelm, misdadig en verkeerd.

Niemand keer enigiemand om op ‘n eerlike manier grond te koop en daarop te boer nie.

Wouter ·

En net twee Vrystaatse boere is op die paneel, waarom dit? (O’ja en ek dog ons het ander provinsies ook, soos die Wes Kaap met wingerd?)

albert ·

Ek sien ook nie meer kans vir SA nie. Is reeds besig om papiere in te vul. Wonder wat Amerika sou gesê het as hulle vandag skielik na eeue se harde werk, alles moet teruggee. Huil my geliefde land. Jy het reeds al my kinders en kleinkinders van my af weggevat.

Jaco ·

Al die dinge is verniet en gejaag na wind. Het iemand al onlangs opgelet in wat se swak toestand ons jeug is en dat mense in ons land geestlik verweer is.o ja terloops jou ou plasie en myne behoort aan ons hemelse vader en op die einde sal God besluit wie ry en wie bly nie een of ander paneel nie. So my raad is, buig jou knee en bou verhouding met Jesus.

Cherokee ·

Hou op om swak diskresie en swak beplanning aan God toe te dig. Hou op om jouself van enige verantwoordelikheid te onthef. God het ons geskep met genoeg verstand om diskresie toe te pas en ons eie besluite te neem. Die Koning van die konings maak geen foute nie maar het mensekind geskep met genoeg verstand om aardse besluite te maak.

Korrup ·

Hou maar verby. Nog steeds korrup en diefstal.Rammapaddapot ek vertrou jou en jou paneel gladnie.

Naude Samuel ·

Ek is nie ANC nie, maar ek dink die is die government se manier om ‘n simpel boodskap by die 65 000 boere te kry om vir hulle te laat verstaan dat die ekonomie nodig ‘n hulpstoot om te kan groei, daarom is dit noodsaaklik dat boere moet saamwerk sodat die miljoene hektare grond wat ongebruik is vrygestel word aan swart boere, want die bevolking groei maar die hande is en die grond is daar. Ek glo dat na hierdie uitspraak sal daar ‘n ekonomiese ontploffing plaasvind, want elkeen sal ‘n graaf en pik het. Die rand sal sterker wees want meer uitvoere en uit voere sal plaasvind. Raak positive Suid-Afrika niemand gaan jou handewerk vernietig nie.

Elsa ·

Ek skaar my by Koos, Ian en Naude Samuel, want ten minste is hulle bereid om hierdie groep ‘n kans te gee en hoopvol te bly. Ons Afrikaners het wraggies in ‘n spul doemprofete ontaard, wil niks meer glo en en ook niks meer hoop nie en verwag net altyd die slegste. Help dan eerder om swart opkomende boere opleiding te gee en die mense te leer boer. Dit help nie om ‘n plaas aan ‘n mens te gee wat niks van boerdery weet nie en daar is miljoene hektaar ongebruikte grond wat gebruik kan word. Deur samewerking te gee en te wys julle is bereid om betrokke te raak, kan net positiewe resultate lewer. Hou op kla en kerm en help eerder deur samewerking te gee en betrokke te raak.

Geweeg en te lig bevind ·

Korrupsie is te diep gesetel. Staatskaping… wie presies was betrokke en/of bewus? Nee kom ons plak ‘n geld pleister oor die krater van ‘n wond en lei die wêreld se aandag na iets meer positief sodat dit onverpoosd kan voortgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.