Hier is SA se beste selfoonnetwerk vir 2020

(Argieffoto: pixabay)

MTN is steeds Suid-Afrika se beste selfoonnetwerk. Dít volgens ʼn verslag wat deur MyBroadband Insights bekend gemaak is oor die gehalte van selfoonnetwerke in 2020.

MTN is sedert die afsonderingstydperk verlede jaar die beste selfoonnetwerk.

Om die beste selfoonnetwerk in Suid-Afrika te bepaal het MyBroadband Insights ʼn netwerkgehalte-telling aan elke netwerk toegeken. Dié telling is gegrond op elkeen se aflaaispoed, oplaaispoed en wagtyd. MTN het oor die algemeen die hoogste telling van 9,86 uit 10 behaal, gevolg deur Vodacom met 6,17, Telkom met 4,87 en Cell C en Rain albei met 4,35.

Volgens die verslag is 1,2 miljoen spoedtoetse deur 41 000 MyBroadband-spoedtoetsapp-gebruikers tussen 1 Januarie en 31 Desember 2020 gedoen, met MTN wat die hoogste gemiddelde aflaaispoed van 52,84 Mbps gehad het, gevolg deur Vodacom met 29,39 Mbps.

Telkom, Cell C en Rain het die laagste aflaaispoed gehad met 21,58 Mbps, 17,46 Mbps en 11,90 Mbps onderskeidelik.

Suid-Afrika het ʼn gemiddelde aflaaispoed van 29,33 Mbps in 2020 gehad en ʼn gemiddelde oplaaispoed van 11,24 Mbps.

Argieffoto.

“Gedurende 2020 het die gemiddelde netwerksnelheid van Suid-Afrikaanse selfoonnetwerke aansienlik gestyg ondanks hoër dataverbruik. Dit was moontlik gemaak deur ʼn tydelike spektrum wat deur Icasa aan MTN, Vodacom, Telkom en Rain uitgereik is,” lui die verslag.

Die bykomende spektrum het operateurs die geleentheid gegee om hul netwerkkapasiteit te verhoog en hul gemiddelde netwerkspoed te verbeter. Vodacom en MTN het ook in hierdie tydperk 5G-netwerke met behulp hiervan van stapel gestuur.

Ondanks die bykomende spektrum wat die selfoonnetwerke ontvang het, was Rain die enigste netwerk wie se gemiddele aflaaispoed van 15,20 Mbps in die eerste kwartaal van 2020 tot 11,41 Mbps in die vierde kwartaal gedaal het.

“Die beduidende afname was as gevolg van netwerkopeenhopings in gebiede waar Rain se aanvraag groter was as sy kapasiteit. Rain het sy subskripsies verviervoudig ná die aanvang van die afsonderingstydperk en het gesukkel om die toenemende vraag na data te hanteer.

“Die situasie is vererger deurdat Rain onbeperkte data-produkte aanbied en dat mense wat tuis is aanlyn dienste soos Netflix vir vermaak begin gebruik het.”

Oorsig van Suid-Afrika se selfoonnetwerke in 2020:

NetwerkverskafferGemiddelde aflaaispoed (Mbps)Gemiddelde oplaaispoed (Mbps)Netwerkgehalte-telling uit 10
MTN52,8419,929,86
Vodacom29,3910,436,17
Telkom21,585,854,87
Cell C17,467,914,35
Rain11,909,934,35

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harry ·

Waar is hierdie toetse gedoen……. beslis net in die hoof gebiede, beslis nie orals nie, Vodacom bied baie beter algemene spoed en betroubare diens, MTN nie so betroubaar nie en hulle is vol nonsens as dit by routers vir hulle LTE kom

JohanR ·

En die prys van data en oproepe? Betaal Suid Afrikaners betaal. Geen wonder MTN en Vodacom kan sukke lekker paleis hoof kantoor geboue he nie!

AndrewL ·

Hierdie is maar ‘n baie eensydige beoordeling. Om netwerk spoed as enigste kriteria te gebruik sonder om te meld wat die koste is, die aflyn tye, rekeningfoute, verlies aan data vir verbruiker ens is myns insiens onwetenskaplik en ‘n erge oorvereenvoudiging.

Skyspy007 ·

Ek besit ‘n Tracking maatskappy met SIM kaarte in elke voertuig. MTN absoluut pateties met geen “coverage” op hoofroetes tussen Jhb en Kaapstad nie, selfs op langafstand roetes tussen Durban en Jhb. Ek gebruik UITSLUITLIK Vodacom aangesien hulle GSM sein en DATA(3G) altyd aan is.

Wielspore ·

Stem saam met die berig, ons gebruik Vodacom en Telkom
Uit ons ervaring is Vodacom se spoed stadig en Telkom nog so klein koppie agter.
As ons kliente diens insluit kry Vodacom 2/10 and Telkom 1/10.
In ons omgewing is dit die enigste twee instansies wat netwerk en data dienste lewer.
Dit is ‘n kwessie van take it or leave it.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wat van Telkom se vaste lyn? Ek dink die ou strydros moes ook ingesluit gewees het.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hier in die platteland in Natal se Middellande is MTN sterk omdat dit plattelands is. Dan Vodacom. Die ander netwerke “roam” hier. Telkom was tweede toe dit nog op MTN ge-“roam” het, maar noudat hulle oorgeskakel het na Vodacom is die diens baie swakker. Telkom vaste lyn is natuurlik die heel beste as jy nie jou internet met jou saam hoef te vat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.