Hier is SA se gesondste stede

kaapstad-lugfoto

‘n Lugfoto van Kaapstad. Foto: Sharonang/Pixabay.com

Discovery Vitality het Woensdag sy Discovery Vitality ObeCity-indeks vir 2017 bekendgestel waarin hy die “gesondste stede” in Suid-Afrika lys.

Die lys word saamgestel deur assesserings van byna ʼn halfmiljoen Vitality-lede in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Pretoria, Port Elizabeth en Bloemfontein te doen. Lede se gesondheid is gemeet op grond van gewig, hul vrugte- en groenteinname, hul sout- en suikerinname en hul kosaankope-gedrag.

Kaapstad het met die louere as Suid-Afrika se “gesondste stad” weggestap deur koning te kraai in drie kategorieë, naamlik gewig, kosaankope-gedrag en die hoogste vrugte- en groente-inname. Durban was egter die wenner met Vitality-lede wat die laagste sout- en suiker-inname getoon het.

Johannesburg het tweede geëindig in die gewigstatus en die vrugte en groente-kategorie, terwyl Bloemfontein die tweede plek geneem het in die kosaankope-gedrag-kategorie, en derde gekom het in die vrugte en groente-kategorie. Port Elizabeth was tweede met die laagste sout- en suiker-inname.

Craig Nossel, hoof van Discovery Vitality, het gesê die gewigstatus van die deelnemers is bepaal deur hul liggaamsmassa-indeks en middellyf-omtrek te meet, terwyl die kosaankope-gedrag bepaal is deur die aankoop-ratio van gesonde teenoor ongesonde produkte by Pick n Pay en Woolworths deur die maatskappy se HealthyFood-voordeel.

Die inname van groente en vrugte is bepaal deur die gemiddelde aantal vrugte- en groenteporsies wat per lid aangekoop is, so ook die gemiddelde sout- en suikerprodukte wat per lid aangekoop is.

Volgens Nossel is ʼn doelgerigte gesonde leefstyl belangriker as ooit gegewe die wêreldwye vetsug-epidemie wat gedryf word deur ʼn verandering in dieetpatrone en ʼn algemene hoë inname van suiker, sout, vet en dierprodukte.

Prof. Barry Popkin, ʼn professor in dieetkunde verbonde aan die University of North Carolina, het die uitslae van Discovery Vitality ObeCity Index 2017 geanaliseer. “Die analise van hierdie verslag toon dat die vermindering van die aankoop van ongesonde suikerprodukte, kitsmaaltye en geprosesseerde vleis ʼn persoon se liggaamsmassa-indeks ook verminder.”

Popkin het beklemtoon dat ʼn laer liggaamsmassa-indeks verbind word met laer koste vir gesondheidsorg per jaar. Nossel het hierop uitgebrei deur te sê Discovery het bevind dat mense met ʼn ongesonde liggaamsgewig ongeveer R4 400 per persoon per jaar meer aan gesondheidskostes spandeer.

Volgens Nossel toon Discovery se data dat Discovery-lede wat gesonde kosprodukte koop, gemiddeld ʼn 10% laer liggaamsmassa-indeks het teenoor lede wat ongesonde kos koop. Dit kom neer op ʼn R2 500-besparing op gesondheidskostes per jaar.

“Navorsing toon dat die verkoop van kitsmaaltye, voedselstafies en kitsnoedels tussen 2005 en 2010 met 40% vermeerder het. Kitskos is nie goed vir ons liggame of ons gesondheid nie,” sê hy.

Statistiek toon dat 4,5 miljoen mense elke jaar weens vetsugverwante siektes sterf – dít is ʼn groter getal as mense wat sterf weens gesondheidsprobleme wat met ondergewig verband hou.

Vetsug het nie net ʼn negatiewe impak op mense se gesondheid nie, maar ook ʼn finansiële impak deur jaarliks R16,4 triljoen uit die wêreldekonomie te dreineer. In Suid-Afrika word daar na raming jaarliks R701 miljard weens vetsugverwante kwessies verloor.

“As individue moet ons bewustelik gesonder kos-keuses maak. As besighede, of dit nou vervaardigers, handelaars of restaurant-eienaars is, moet ons aktief daartoe bydra om ʼn samelewing te skep waar die gesonde keuse die makliker keuse is,” het Nossel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

wielie ·

Kaap is veiliger as Johannesburg en Pretoria …….. Kapenaars kan draf en swem en stap Johannesburg en Pretoria moet toesluit, toe ketting en alarms aanssit 6 uur saans! Kan nie gaan stap want die karre ry jou om en die honde ” vreet” jou op ……………… :{

Chris ·

Ek is sommer lus en trek so gou as moontlik Kaap toe. Ek wil al daardie druiwe in vloeibare vorm gaan probeer inneem sodat ek gesonder kan lewe.

En wat van die..... ·

….ander “byna halfmiljoen” SAners wat NIE by Vitality is nie. En die ander MILJOEN wat NIE medies het nie…?
Hierdie studies is grootste nonsens.

Speedguard ·

@en wat van die…., ek stem 100% saam met jou , die studies en sogenaamde “STATS” is die nuwe naam vir toilet papier en beslis enkel laag, sefs dit is gemors, Julius het dit vir hulle in die hof bewys en hulle uitgelag, niemand kon die teendeel bewys nie so hy was reg , so is jou waarneming !!

Botterblommetjie ·

Ek wil werklik graag gaan fietsry en stap saans, maar eerlik te bang. Gym nogal te duur vir my. Bloemfontein het baie onbekende figure wat rondloop wat dit vir my onveilig maak aangesien ek die straatlopers nie ken nie en nie die doel vir hulle wandeling in my straat en buurt ken nie…. Dit vir my hartseer want ek wil nie eens in my voortuin alleen wees nie, want dan stop daar altyd een van die wandelaars om iet te vra. Selfsugtig, nee…. bang, jaaaa….. Te veel wou al help met tragiese gevolge…

Theresa ·

Hallooooooooooooooooo!! het ek iets misgelees of was Pretoria deel van die ondersoek, maar daar word niks oor die uitslag vir Pretoria gesê nie?

Frankie ·

Die Duitsers noem die vetrolle om ‘n mens se middellyf ‘kommerspek’….. Het ek nodig om enige iets meer te sê…?

SkarrelKind ·

Dis vir my verkeerd en hartseer dat dit so gaan in SA. En julle kan nie gaan stap of jou kinders of honde parkie toe neem nie. My oupa het ons baie middae voor my ma ons kom oplaai het parkie toe geneem, dit was was so heelik. Ons besef nie hoe dit ons lewens raak nie. Ek woon nou ‘n paar maande in die weste van Ierland en almal stap oral. Ligdag of donkeraand. Oud en jonk, met kinders en honde en die kinders stap alleen en neem die bus stad toe en weer terug. Ek wens so dit kon so in SA gewees het …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.