Hiér is van die land se duurste landgoedere

Die Zimbali-landgoed in KwaZulu-Natal. (Foto: Verskaf)

Landgoedere soos Zimbali, Simbithi en Hawaan aan die KwaZulu-Natalse Noord- en Ooskus word tans onder die land se toplandgoedere gereken. Ook landgoedere aan die Suidkus geniet sedert die Covid-19-pandemie meer belangstelling en voornemende kopers kan verwag om tussen R5 miljoen en R20 miljoen per eiendom op te dok.

Die eiendomsmark hier vaar besonder goed, ten spyte daarvan dat die provinsie die afgelope paar jaar ’n algehele afsondering, plundertogte en grootskaalse oorstromings moes trotseer.

Wat die Indiese Oseaankus betref tel die Zimbali-landgoed in die omgewing van Ballito aan die Noordkus tans onder die topkusgebiede vir hoë-nettowaarde kopers en beleggers. Dié landgoed het 650 eiendomme ter waarde van meer as R10 miljoen elk, waarvan 150 eiendomme teen meer as R20 miljoen elk gewaardeer is.

ʼn Beoordeling van die mark oor die afgelope jaar toon dat die verkope van eiendom in Zimbali altesaam byna R487 miljoen – teen  ʼn gemiddelde prys van R7,1 miljoen elk – behaal het.

Die gemiddelde verkoopprys vir ’n alleenmandaat in Zimbali is tans sowat R9 miljoen, wat die landgoed onder die voorste luukse voorstede in die land plaas. Die hoogste prys wat behaal is, was R17,2 miljoen. Dié prys is egter laer vergeleke met vorige jare.

Die hoogste prys behaal vir ’n deeltiteleiendom is R11 miljoen, terwyl die gemiddelde prys op R5,25 miljoen vir ʼn deeltiteleenheid staan.

Andreas Wassenaar, ’n lisensiehouer by Seeff Dolphin Coast, sê talle hoë-inkomste-verdieners van Gauteng besit eiendom in Zimbali. Die eiendom dien meestal as hul tweede huise. Ander het weer hul gesinne op die landgoed gevestig en pendel gereeld na onder meer Johannesburg vir sake.

Die Simbithi Eco -landgoed in die omgewing van Ballito het verlede jaar ʼn allemintige 134 verkope ter waarde van byna R685 miljoen behaal. Die gemiddelde prys van ’n eiendom op dié landgoed ​is sowat R5,1 miljoen.

Net meer as die helfte van al die verkoopte eiendom was alleenmandate teen ʼn gemiddelde prys van R6,1 miljoen, met die duurste huis wat teen R22 miljoen verkoop is. Deeltiteleenhede verkoop tans teen ʼn gemiddelde prys van R3,9 miljoen. Die hoogste prys is tans R10,6 miljoen.

Die Hawaan Forest Estate in Umhlanga spog intussen met ʼn mediaan van R9,3 miljoen per alleenmandaat. Brett Botsis, lisensiehouer van Seeff Umhlanga, sê dié landgoed spog met een van die beste leefstyle vir inwoners en bied uitstekende beleggingswaarde.

Michelle Harris, lisensiehouer van Seeff Suidkus, sê op haar beurt die Suidkus sê kopers stroom sedert die begin van die pandemie na die Suidkus, aangesien semigrasie na dié gebied aansienlik bevorder is deur die inperking.

Harris sê die Suidkus bied beter waarde vir geld terwyl sy nabye ligging aan Durban voordele vir die dorpe in die gebied inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

antieklimaks ·

In ‘n tyd wat die meese mense in Suid-Afrika regtig swaarkry, is dit nogal moeilik om te dink dat mense hierdie tipe geld het om ‘n eiendom by die see te koop. As jy kan, great. Die meeste van ons kan nie eers see toe gaan vir ‘n vakansie nie. Die gaping tussen arm en ryk word al hoe groter en die middelklas is besig om te verarm. Om eiendom te besit gaan een van die dae onmoontlik wees vir middel- en lae-inkomstegroepe.

JohanR ·

Dink nie ek sa naby KwaZula/Natal kom terwyl die ANC nog die regeering is. As ‘n storm jou nie kry, dan is dit ‘n mes of geweer, of ‘n trok of ‘n taxi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.