Hier is VF Plus se nuwe parlementslid 

Wouter Wessels, Pieter Groenewald en Pieter Mulder. Foto: Verskaf.

Die VF Plus het Vrydag sy nuwe parlementslid voorgestel wat die plek gaan inneem van dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die party, wat ná byna 30 jaar as parlementslid uitgetree het.

Wouter Wessels (32), voormalige lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer, is Vrydag tydens ʼn mediakonferensie in Kaapstad aan die media voorgestel.

Wessels is in Oos-Londen gebore en het aan die Hoërskool Grens matriek behaal. Hy het aan die Universiteit van die Vrystaat studeer waar hy ʼn aktiewe rol in studenteleierskap gespeel het.

Hy was vir vyf jaar die nasionale jeugleier van die VF Plus en is ʼn kampvegter vir gelyke geleenthede vir die jeug van Suid-Afrika en teen die marginalisering van veral jong mense weens hul velkleur.

“Wessels is die afgelope 12 jaar aktief in partypolitiek betrokke. Hy is vier jaar gelede tot die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer (LPW) verkies waar hy die VF Plus tot op hede verteenwoordig het,” het die party in ʼn mediaverklaring gesê.

Hy was lid van vyf portefeuljekomitees in die wetgewer waar hy veral gefokus het op sy rol as lid van die provinsiale openbarerekeninge-komitee om daar ʼn bydrae te lewer om die finansiële bestuur van provinsiale departemente en munisipaliteite te verbeter en om amptenary aanspreeklik te hou vir korrupsie en wanbestuur.

Hy was van 2009 tot sy verkiesing as LPW die privaat sekretaris van Mulder, die voormalige adjunkminister van landbou, bosbou en visserye.

“Hy het in daardie tyd intensief saam met dr. Mulder gewerk en kon sodoende daagliks by die veteraan-politikus leer.”

Tydens die 2014- en 2016-verkiesings het hy opgetree as nasionale verkiesingskoördineerder. Hy was ook nou betrokke by die hertoetrede van die VF Plus in 2013.

Hy is tans lid van die VF Plus se federale raad, federale dagbestuur en uitvoerende dagbestuur. Hy is ook die voorsitter van die party se strategiekomitee en tree op as politieke hoof van die media-eenheid van die party.

Wessels is ook kundig op tegnologiese gebied en was verantwoordelik vir etlike tegnologiese ontwikkelinge wat die party se verkiesingsveldtogte betref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Boesman ·

Julle twee hierbo kan darem snert praat. Julle is seker anc ondersteuners

Eish ·

Die seun het mooi deur die sisteem gekom en uitstekende mentorskap ondergaan. Mag daar n blink toekoms vir hom wees. Ek vertrou dat hul heelwat meer stemme sal trek in die volgende verkiesing. Mag sy voete stewig op moeder aarde bly. Dis groot skoene om vol te staan.

Gerda ·

Baie geluk. Doen wat goed is. Mag die Vader jou met wysheid seën.

Oom Koos ·

Julle wat so krities is, vergeet dat PW Botha ook so begin het: na skool gaan studeer. na 1 jaar op universiteit het hy 12 jaar lank allerhande jobs vir die Nasionale Party gedoen. In 1948 parlement toe. 1978 eerste minister, in 1984 Staatspresident.

Frik Lotz ·

Baie geluk aan Wouter Wessels. Hy gaan hom beslis goed van sy taak kwyt. Wouter, onthou ons staan saam met jou en sterkte met jou taak!

jan_alleman ·

ek is self n gemeenskapsleier en ek het n gawe om mense vinnig te kan opsom , hierdie jong man gaan diep spore trap in die politiek , ek raai net aan hy begin met n aggresiefe afskop en bou daarop voort , ek sal hom fyn dophou oor die volgende paar maande , ek stem toevallig nie vir VF nie want hulle leiers lyk vir my nog altyd swak , maar kan dalk oorswaai as die man sy staal kan wys .

Philippus P Janse van Rensburg ·

Jan, wat vir jou “toevallig” is, is vir ander mense sorgvuldige oorweging.
Dat daar miskien “low key” leierskap was, dink ek, is bedoel om nie aggressiewe teenkanting te wek nie, wat totaal teenproduktief is om jou boodskap tuis te bring. Lees gerus N P van Wyk Louw se Klein Beiteltjie!

Han ·

Jan, dit lyk asof jy ook deel vorm van die alewige “nat vadoeke” wat dit geniet om negatief te wees! Tekenend van die Afrikaners: die dwarstrekkers!!

Israel ·

VF het n briljante skuif gemaak met so jong leier , een wat meer in voeling sal wees met afrikaner jeug sal definitief meer stemme lok

FM ·

Geluk Wouter. Gooi kole ou maat en kom op vir wat reg en regverdig is. Hou vas aan jou party se beginsels en moet nie van beleid verander om ander te ” please ” nie. Die wat vir die VF Plus stem, het nog integriteit. Bou se voort en sterkte daarmee.

CG ·

So jonk, maar reeds met soveel ervaring! Baie geluk Wouter. Sien baie uit na die impak wat jy gaan maak!

N Lourens Reitz ·

As ek hierdie berig lees oor Wouter Wessels dan sê ek. Ek is ñ Afrikaner en trots daarop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.