Híér kan Eskom-werkers korrupsie aanmeld

solidariteit-teen-discovery-veldtog-dirk-hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die vakbond Solidariteit het Woensdag tydens ’n nuuskonferensie ’n nuwe platform bekendgestel waar fluitjieblasers korrupsie by Eskom kan blootlê.

Volgens Solidariteit is die meeste werknemers by Eskom goeie, hardwerkende mense, maar ’n kultuur van plundering en korrupsie verhoed hulle om hul werk doeltreffend te doen.

Die doel van die nuwe platform is om werknemers by Eskom te bemagtig om korrupsie op ’n veilige, beskermde wyse aan te meld.

“Korrupsie in Eskom is geïnstitusionaliseer. Interne korrupsienetwerke steel ons gewone belastingbetalers se krag. Daar is ’n bendenetwerk in Eskom wat hulself verryk terwyl gewone Suid-Afrikaners in die donker sit,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Ons is bewus van werknemers wat van hierdie wanpraktyke weet. Ons weet ook dat daar goeie mense is wat nie kan uitpraat nie, juis weens die geïnstitusionaliseerde aard van die korrupsie. Solidariteit het besluit om ’n veilige platform te skep vir goeie mense om uit te praat. Solidariteit sal goeie mense wat wil uitpraat, lei en beskerm. Ons, die meerderheid van Eskom-werknemers en Suid-Afrikaners, moet opstaan teen die minderheid wat plunder. Ons is moeg vir die plunderaars en moet hulle terugdruk.”

Die vakbond sê hy sal nou ’n waghondfunksie vervul sodat daar teen dié wat plunder, opgetree en vervolging ingestel word.

Hoewel hierdie platform met ’n spesifieke fokus op Eskom van stapel gestuur is, is dit egter ook ’n platform waar enigiemand by enige staatsonderneming en selfs private ondernemings die fluitjie teen korrupsie kan blaas, sê Hermann.

“Die platform gaan ’n groot rolspeler word in goeie mense se stryd teen plunderaars. Ons wil die korrupsiesuurstofpype toemaak. Ons vertrou dat ons die kultuur sal kan verander.”

Die vakbond onderneem voorts om op ’n gereelde grondslag verslae oor tendense van korrupsie wat aangemeld is, aan lede van die publiek bekend te maak sonder om fluitjieblasers bloot te stel.

“Daar is niks so gevaarlik soos goeie mense wat stilbly nie. Ons mag nie toelaat dat plundering genormaliseer word nie. Ons mag ook nie sê dit help in elk geval nie om plundering aan te meld nie. Die oomblik dat ons dít doen, het ons oorgegee, en wel tot groot vreugde van die boewe. Plunderaars moet hoor: Julle is nie meer beskerm nie. Goeie mense gaan die fluitjie blaas. Ons wil julle in oranje oorpakke sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Shakespeare ·

Fluitjie blasers is al doodgemaak. Hoe omseil julle hierdie probleem wat die fluitjieblasers moet beskerm teen ‘n korrupte bose bestel ?

Christine ·

Niemand gaan weet wie die fluitjie geblaas het nie. Die stelsel om te rapporteer gaan buite Eskom se sisteme geskied. Ek is van mening dat almal wat vir Eskom werk, dreigimente van die korruptes gaan ontvang om nie te praat nie. Eskom sit met ‘n hengse probleem, maar ek het baie waardering wat De Ruyter, Oberholzer, Solidariteit en Afriforum daar probeer doen. Selfs bestuur ontvang doodsdreigimente.

Pieter ·

Sterkte die anc land se regstelsel is n grap die regters en landroste is nog n groter grap. In die land word die skelms beskerm en beloon met n pos in die anc

Christine ·

Privaatvervolging het hopelik toegang tot die paar regters wat nog vertrou kan word, daarom hul sukses.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

‘n Briljante plan!

Suid-Afrika het ‘n mafiastaat geword. Suid-Afrikaners wat glo in die waarheid, geregtigheid en naasteliefde moet opstaan en saamwerk in die stryd teen die “bose geeste in die lug”-pandemie wat die Suid-Afrikaanse leefwyse in wese soos ‘n kanker verteer.

My volle steun aan Solidariteit met hierdie projek.

Swartskaap ·

Ek dink daar behoort ook n platform te wees vir fluitjieblasers oor alle ander vorme van korrupsie.

Di ·

Begin eerder by die korrupte ANC Kaders wat almal in die Parlement sit! Hierdie korrupte lede in Eskom het geleer by DIE wat nou in die Parlement sit elke dag en wegkom hiermee.

Philip ·

Dit is soos n amptenaar dit jare terug al aan my gestel het na n plundertog deur hom en sy maters.Mens praat nie uit die huis uit nie was algemene kennis.

Ontnugterde senior ·

Uiteindelik iemand wat bereid is om na die mense wat werlik die werk doen te luister. Ek het 33 jaar vir Eskom gewerk en talle kere goed gesien wat nie heeltemal bo verdenking was nie maar al het jy dit onder iemand senior se aandag probeer bring het niks ooit daarvan gekom nie.

Swerwer ·

Lekker lag ek nou, ongelukkig gaan daar nie veel fluitjieblasers na vore kom nie want hul is te bang om betrokke te raak want hul glo hul lewens is in gevaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.