Hierheen semigreer SA’ners graag

Tafelberg in Kaapstad. (Foto: Brent Ninaber/Unsplash)

Semigrasie het talle Suid-Afrikaners se nuwe alternatief tot volskaalse emigrasie geword en sedert die Covid-19-pandemie, wat talle mense gedwing het om van die huis af te werk, word dit ʼn al hoe gewilder opsie.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê baie mense wil nie die land verlaat nie, maar verkies dit om elders te verhuis vir beter veiligheid, skoolopleiding en dienslewering.

Ook eiendomsektorstrateë van FNB sê dat slegs 11% van alle verkopers hul eiendomme wil verkoop met die oog op emigrasie, terwyl sowat 20% net hul dorp of stad vir ʼn ander in Suid-Afrika wil verruil.

“Die semigrasie-neiging is dikwels die gevolg van hoë vlakke van verstedeliking wat heelwat stres en verkeersvolumes veroorsaak,” sê Seeff.

“Mense wil eenvoudig net wegkom na ʼn stiller gebied en met semigrasie is dit moontlik.”

Die aanvang van die Covid-19-pandemie was ʼn groot katalisator vir semigrasie en twee jaar later kan die positiewe uitwerking op gebiede soos die Tuinroete gesien word. Verskeie nuwe ondernemings het die afgelope ruk hier hul deure oopgemaak.

Mosselbaai. (Foto: Trey Smith/Unsplash)

Pieter Jordaan, van Seeff George, sê dié dorp, asook Mosselbaai, is kusgebiede waarheen mense veral stroom.

“Dorpe op die Tuinroete is ʼn meer bekostigbare alternatief vir Kaapstad, maar bied ook ʼn stiller leefstyl aangesien daar minder stres en verkeer is. Die see is ook warmer en die klimaat lekker,” sê hy.

“Die goedbestuurde munisipaliteit en die veiligheid, tesame met die toegang tot stadsgeriewe, is een van die hoofredes waarom mense hierdie gebiede kies.”

Tog bly Kaapstad die gewildste, met meer kopers wat na die Moederstad verhuis in vergelyking met ander semigrasie-gebiede.

“Dienslewering en van die beste skole en universiteite in die land, saam met die gepaardgaande kusleefstyl, is ʼn groot rede waarom dit ʼn voorkeurbestemming is,” sê Seeff.

“Kopers is ook dikwels bereid om grootte en ruimte prys te gee vir die voordeel om in Kaapstad te woon, aangesien eiendomspryse in die Kaap sowat 20% hoër is in vergelyking met die res van die land.”

Ander voorkeurgebiede

Hartbeespoort. (Foto: Lawrette McFarlane/ “Illustrated History of Hartbeespoort Dam”)

Die Kaapse Wynland en omliggende dorpe soos Somerset-Wes, Stellenbosch en Paarl lok nou meer semigrasie-kopers wat op soek is na die Wynlandleefstyl, maar steeds naby skole of universiteite wil wees.

Hermanus en Langebaan is slegs twee uur se ry van Kaapstad en lok veral ouer kopers wat maklik daarheen vanaf Kaapstad kan pendel.

Brett Botsis, van Seeff Umhlanga, sê die KwaZulu-Natalse kus is ook ʼn semigrasie-trekpleister met Umhlanga wat die voortou neem.

“Kopers verhuis dikwels van Johannesburg na Umhlanga of koop ʼn eiendom in die gebied as ʼn tweede huis,” sê hy.

“Die lughawe is ook naby en talle mense gebruik dit om byvoorbeeld af en toe hul werk se hoofkantoor te besoek.”

Umhlanga. (Foto: Marlin Clark/Unsplash)

Ballito en Zimbali bly ook gewild onder mense wat semigreer.

“Hierdie gebiede is van die snelgroeiendste in die land en hoewel daar oor die afgelope 18 maande terugslae was met onder meer die watergehalte en vloede, floreer die gebiede steeds.”

Plettenbergbaai het oor die afgelope twee jaar ook meer kopers gelok – oud en jonk. Nes Kaapstad het eiendom hier ook van die hoogste pryse behaal, met sommige huise wat vir meer as R20 miljoen verkoop word.

Kusgebiede is veral nou gewild, maar volgens Seeff is daar selfs semigrasiegebiede in Pretoria-Oos vir diegene wat nie die stadslewe heeltemal vaarwel wil toeroep nie.

“Al hoe meer mense kyk na die ooste, veral omdat daar heelwat eiendom in omheinde gemeenskappe en landgoedere is om van te kies.”

Hartbeespoort in Noordwes trek ook al hoe meer die oog van Johannesburgers en Pretorianers omdat dit maar ʼn klipgooi van die stede geleë is.

“Jy kan in Hartbeespoort bly en daagliks werk toe en terug pendel. Daar is verskeie luukse landgoedere om van te kies, goeie veiligheid en ʼn skilderagtige omgewing met die Magaliesberg en dam op jou agterstoep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

ANC word al hoe sterker, migrante hou van die plekke, werkloosheid neem toe, en tekort aan lae-koste behuising om net ‘n paar te noem. Vloede word nou algemeen.

Wildemien ·

Ek verdien nie ‘n slegte salaris nie, maar kan nie ‘n blyplek in een van hierdie bestemmings bekostig nie. Hoe doen mense dit?

Republikein in die Wes Kaap ·

Verder op teen die Weskus is dit nog bekostigbaar, maar net te vêr van Kaapstad lughawe vir semigrante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.