Hierop sal Ramaphosa nou moet fokus

Cyril Ramaphosa. Foto: Flickr/GovernmentZA

Suid-Afrika is dalk ontslae van Jacob Zuma, maar sy nalatenskap van verwarrende beleid, korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid sal nog lank met ons wees.

Maroela Media het met ʼn paar kenners gesels om uit te vind waarop Cyril Ramaphosa nou sal moet fokus om te sorg dat Suid-Afrika so spoedig as moontlik op ʼn pad van herstel geplaas kan word.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het gesê Ramaphosa sal sy politieke magsbasis moet konsolideer. Dit beteken hy moet so gou as moontlik sy eie kabinet aanstel en dan ander verdagte individue oor die lengte en breedte van die staat geleidelik uitwerk.

“Die tweede dringende kwessie is die begroting. Ideaal gesproke moet hy sy ‘eie’ minister van finansies voor die begroting aanstel, maar tensy die begroting uitgestel word, wat beslis nie ʼn goeie idee is nie, is dit waarskynlik beter om nie die minister van finansies onmiddellik te verander nie.”

Roodt sê die groot dilemma waarmee ons nou gekonfronteer sal word, is of die begroting ʼn Zuma- of ʼn Ramaphosa-begroting is.

“Dit is belangrik, want beleidsonsekerheid was een van die kenmerke van die Zuma-administrasie. Die beste benadering, wat die minste sal ontwrig, is dalk om voort te gaan met die begroting wat deur die Zuma-administrasie voorberei is en om eers later vir Gigaba te vervang en sekere aspekte van die begroting te wysig. Die nadeel is egter dat so ʼn benadering in die korttermyn tot onsekerheid sal bydra.”

Roodt meen naas die begroting sal daar vinnig uitgepluis moet word watter beleide Ramaphosa sal voorstaan. “Ek dink ons sal ná sy eerste staatsrede meer hieroor weet – oor waarvoor hy staan en wat sy visie is. Kom ons hoop ons hoor ʼn boodskap van vryheid, verbeterde dienslewering, bekwaamheid en ʼn totale toewyding aan die welsyn van Suid-Afrikaners – almal van hulle.

“Ons gaan ook besonderhede moet hoor oor die manier waarop die staatsbeheerde ondernemings in die toekoms beter bestuur sal word, asook watter planne die Ramaphosa-administrasie het vir die rol van die staat, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), beskerming van private eiendomsregte en arbeidsaangeleenthede,” het Roodt gesê.

Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, meen Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers kan vanjaar tot tussen 1,7% en 1,9% herstel ná die laatnag-bedanking van Zuma as president.

“Indien Ramaphosa en sy administrasie daarin sou slaag om ʼn goeie saak vir groei en fiskale omsigtigheid te maak in die staat- en begrotingsrede, kan die kans op ʼn verdere kredietafgradering tot onder 50% daal.”

Cronjé is ook van mening dat die ANC nou gemaklik ʼn meerderheid van meer as 60% in die volgende verkiesing kan behaal, mits die party kan slaag om die ekonomie aan die groei te kry. “Die regering sal moet streef na groeikoerse van meer as 5% van BBP oor die volgende termyn indien hulle enige hoop wil hê om ʼn werklike duik in die land se hoë werkloosheidsyfer te maak.”

Volgens Roodt moet ʼn mens besef dat die Zuma-administrasie groot skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie veroorsaak het en dat dit jare sal neem om die skade te herstel.

“Die mag is nou in die hande van die nuwe president en hy moenie nou sy kanse verspil nie,” het Roodt bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

andries ·

Die vrae in mens se agterkop wil net nie wyk nie. Waar laat dit gewone mense soos ons? Waar laat dit jong mense? Die tyd sal sekerlik leer, maar hou maar die agterdeur oop.

Wollie ·

Hy gaan op die volgende fokus 1. rapid economic transformation 2. onteiening van grond sonder vergoeding 3. verwydering van Afrikaans uit alle instellings en instansies . hy gaan die pot al hoe warmer maak dat die paddas (wittes) uitspring .. DINK julle REGTIG hy is die redder van Suid Afrika? Shame ons is ook so desperaat, gryp maar na enigiets al is dit ‘n halwe wortel.

Gerhard ·

Om grond te onteien soos wat hy gese het hy gaan doen? Dit klink baie onwys vir my.

Vermeende ·

Hy is ANC, sy fokus sal vinnag skuif na n nuwe jet en n groter Nkandla.

Gerhard ·

Ai dit vat min om die DAkaners opgewonde te maak. Oor ses maand kla ons weer oor die nuwe pressie se doen en late.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.