Hier’s wat SA’ners voorspel vir 2020

(Argieffoto: Jude Beck)

Vir die meeste Suid-Afrikaners wil dit voorkom of 2020 net meer van dieselfde gaan inhou – droogte, ekonomiese ellende, ʼn lae groeikoers, politieke onsekerheid en bakleiery tussen partye, beurtkrag en kommer oor werkloosheid.

“Dit is dus geen verrassing dat Suid-Afrikaners met vrees na die nuwe jaar kyk nie, maar nie almal voel dieselfde oor wat die jaar vir die land se burgers inhou nie,” het Mari Harris van die marknavorsingsfirma Ipsos gesê.

Volgens Ipsos se jongste meningspeiling is dit veral jonger Suid-Afrikaners wat optimisties is oor die toekoms. En jou politieke affiliasie kan ook ʼn invloed hê op jou siening oor die toekoms.

Ipsos het aan die einde van verlede jaar direk met 3 590 Suid-Afrikaanse volwassenes in hulle huise en in hul huistaal vir die Ipsos “Pulse of the People”‑navorsingsverslag onderhoude gevoer.

Op die vraag oor hoe optimisties mense oor 2020 voel, het 49% van Suid-Afrikaners, 15 jaar en ouer, gesê hulle is opgewonde oor die jaar. Altesaam 16% het aangedui hulle is nie optimisties nie. ʼn Groot persentasie, sowat 35%, het gesê hulle is onseker oor hul optimisme vir dié jaar.

Werkstatus beïnvloed nie optimisme

“Dit was interessant om Suid-Afrikaners wat voltyds of deeltyds werk se opinies te vergelyk met diegene wat nie werk nie. Teen die agtergrond van die toenemende werkloosheidsyfer in Suid-Afrika, sou ʼn mens aanvaar dat die mense wat werk het met meer optimisme na die toekoms uitsien. Dit is egter nie die geval nie. Mense met ʼn werk en die wat nie werk nie, koester grootliks soortgelyke gevoelens oor 2020,” het Harris bygevoeg.

Selfs die subgroep van Suid-Afrikaners wat voltyds werk teenoor die wat werkloos is en steeds na werk soek, voel dieselfde oor 2020, het Ipsos bevind.

(Foto: @MYANC/Twitter)

Harris het gesê die politieke party waaraan ʼn individue behoort, het wel ʼn invloed op mense se optimisme oor die komende jaar.

“Alhoewel dit nie beduidend verskil nie, is die meeste ANC-ondersteuners (55%) positief oor 2020. Hulle word gevolg deur EFF-ondersteuners op 51%, IVP-ondersteuners op 50% en DA-ondersteuners op 45%.”

Wêreld se uitkyk op 2020

Die “Pulse of the People”‑studie is slegs in Suid-Afrika gedoen, maar Ipsos het terselfdertyd ʼn studie in 28 lande oor die wêreld heen onderneem met die doel om mense se optimisme en voorspellings vir 2020 te toets.

“Hier het ons gesien dat sowat 77% van mense wêreldwyd dink dat temperature sal styg. Mense is onseker oor pres. Donald Trump se kanse om as president van VSA herkies te word – 36% dink dit is waarskynlik, maar 39% voel dit is onwaarskynlik.

“Sowat 35% van die mense dink dit is waarskynlik dat groot aandelemarkte oor die wêreld heen in 2020 sal ineenstort.”

Volgens die Ipsos-peiling glo ʼn derde (32%) van mense wêreldwyd dat ʼn groot terreuraanval in 2020 in hul land gaan plaasvind. Net minder as ʼn derde (30%) verwag dat ʼn groot natuurramp mense in hul omgewing sal beïnvloed.

“Net 15% van mense glo egter dat buiteruimtelike wesens die aarde vanjaar sal besoek,” vertel Harris skertsend.

Die ysbeer Nanook spring in die water by die dieretuin in Gelsenkirchen, Duitsland. (Foto: Roland Weihrauch, AP)

Stygende temperature en ʼn swak ekonomie in 2020

Vier uit vyf Suid-Afrikaanse volwassenes (80%) wat aanlyn aan die wêreldwye Ipsos-peiling deelgeneem het, meen dat wêreldtemperature waarskynlik in 2020 sal styg. Saoedi-Arabië (54%) is egter nie so oortuig van temperatuurstygings as die res van die wêreld se mense wat aan dié betrokke peiling deelgeneem het nie.

Harris het gesê stygende temperature was ook ʼn belangrike voorspelling vir 2019. “Aan die einde van 2018 het 78% van mense wêreldwyd geglo dat die gemiddelde globale temperatuur in 2019 sou styg.”

Boonop het meer as ʼn driekwart van Suid-Afrikaners (77%) gereken dat dit waarskynlik is dat daar in 2020 weer groot onrus soos protesoptogte en onluste in Suid-Afrika oor die bestuur van die land sal wees.

“Dit is 21 persentasiepunte bo die wêreld se gemiddeld van 56%. Slegs Colombië (82%), Chili (82%) en Frankryk (78%) het sterker gevoel oor die kanse van onrus in hul lande in 2020.”

Wêreldwyd glo ongeveer net die helfte van mense (52%) dat die ekonomie vanjaar sal verbeter, terwyl ʼn vergelykbare 56% van Suid-Afrikaners hierdie mening deel.

Sowat 81% meen 2019 was ʼn slegte jaar vir Suid-Afrika in vergelyking met 65% van mense in die res van die wêreld wat dit oor hul eie land in 2019 dink.

Aanlyn glo 85% van Suid-Afrikaners dat 2020 vir hulle persoonlik ʼn beter jaar as 2019 sal wees, wat in skerp teenstelling staan met mense wêreldwyd wat hoofsaaklik onseker was in die “Pulse of the People”‑studie.

Nog aanlyn voorspellings van Suid-Afrikaners vir 2020

  • Ek sal persoonlike besluite neem om in 2020 spesifieke dinge vir myself en ander in 2020 te doen – 88% waarskynlik
  • Ek is optimisties dat 2020 ʼn beter jaar vir my sal wees as 2019 – 85% waarskynlik
  • Mense oor die wêreld heen gaan meer tyd aanlyn bestee as voor die televisie – 83% waarskynlik
  • Gemiddelde wêreldtemperature sal toeneem – 80% waarskynlik
  • Daar sal groot onrus, soos betogings en onluste, in Suid-Afrika wees – 77% waarskynlik

Onwaarskynlike uitkomste in Suid-Afrika in 2020

  • Buiteruimtelike wesens sal die aarde besoek – 74% onwaarskynlik
  • Ek sal die meeste van die tyd eensaam voel – 63% onwaarskynlik
  • Selfbesturende motors word gereeld in die strate van my stad gesien – 61% onwaarskynlik
  • Ek sal minder sosiale media gebruik – 60% onwaarskynlik
  • ʼn Groot terreuraanval sal in Suid-Afrika uitgevoer word – 56% onwaarskynlik

Volgens Harris wil dit ook voorkom of die meeste Suid-Afrikaners twyfel oor die land se kanse op die wêreld se grootste sportverhoog.

“Slegs 52% glo dat ons meer medaljes in 2020 se Olimpiese Spele in Tokio as vier jaar gelede in Rio de Janeiro sal inpalm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Venter ·

Ek voel soos Nanook, ek wil in die natuur in my eie omgewing wees, doer ver weg van die beskawing, om dit sorgeloos tot die einde toe te kan geniet. Dit sal my nie ‘n sent kos nie, daar weet niemand van staatsentiteite en ideologie af nie. En ek wil nie deur enigiets waaraan die ANC raak, beïnvloed of gepla word nie, bly net weg!

JohanR ·

Buiteruimtelike wesens? Is die ANC, SAKP en Cosatu nie al klaar hier nie?

Feite ·

Suid Afrikaners van wie die heeltyd gevat word is minder optimisties as Suid Afrikaners wie dit wat gevat word, ontvang! Diegene wie sakeryke bou uit desperate mense is meer optimisties as die wat uit desperaatheid hierdie sakeryke ondersteun. Gegewe die regerende party se mislukkings (rewolusionere suksesse) is die regerende party, kommunistiese/sosialistiese bondgenote en hulle miljoene ondersteuners verskriklik vreeslik optimisties oor die vooruitsigte van n sosialistiese welsynstaat, terwyl opposisiepartye, vryemark bondgenote minder optimisties is oor sulke vooruitsigte. Sekere groepe in SA weet voor hulle heilige siele dat 2020 vir SA net soos elke jaar vanaf 1994 groter en vinniger sosio en ekonomiese verandering vir verval en agteruitgang gaan teweeg bring. Die politieke wil in SA is om te vat en te vat en uit te deel totdat daar niks oor is om te vat nie. Dit is dus logies dat die aan wie uitgedeel word optimisties sal wees, ook by die stembus!

Johan Venter ·

Jip en intussen moet mens maar op die loer wees vir fop-feite.

Cherokee ·

Dit is een sensus opname veral betrekkende tot politiek in Suid Afrika, waar dit logies sou wees om menings ras-gewyse op te neem.

johan ·

Ek voel 2020 onder anc bestuur sal die land net verder die afgrond in bestuur,die kinders gaan dommer raak oor die swak skool onderwys,meer buitelanders sal die land inkom oor die onbewaakte grens en misdaad sal toeneem. Ek kan net aan een ding positief dink en dit is die VF+ wat onderhandeling begin vir n onafhanklike tuis staat waar die Godsvresende,gedisiplineerde mense in SA n nuwe begin kan.maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.